Kuns

Jong stemme leer kuratorskap by UJ

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Op besoek aan die Johannesburg Contemporary Art Foundation (JCAF) in Forest Town, Johannesburg. Foto: Kane Lucas
Op besoek aan die Johannesburg Contemporary Art Foundation (JCAF) in Forest Town, Johannesburg. Foto: Kane Lucas

"Voor Future Curators was ek vas oortuig 'n kurator is die persoon by die ontvangstoonbank van 'n kunsgalery," sê Sadie van der Ven, 'n matriekleerling aan die Jeppe High School for Girls in Johannesburg wat deelgeneem het aan die eerste MTN x UJ Future Curators-program, wat van 30 Junie tot 11 Julie by die Universiteit van Johannesburg (UJ) aangebied is.

"In die loop van twee weke het ons nie net geleer wat dit behels om 'n kurator te wees nie, maar ook eerstehands kennis gemaak met die kunsbedryf en rolspelers in die kunsbedryf," sê Van der Ven.

Sy is nie enig in haar aanvanklike onkunde omtrent die kuratoriale aspekte van die kunsbedryf nie.

"Niemand het vir my die goed geleer waaraan ons die 15 deelnemers die afgelope twee weke blootgestel het nie," sê dr. Dineke Orton, kurator van die UJ-kunsgalery.

Op besoek aan die David Krut-drukwerkswinkel. Foto: Kane Lucas
Op besoek aan die David Krut-drukwerkswinkel. Foto: Kane Lucas

"Dit is kennis wat ek oor die jare self opgebou het. Toe ek ná my kunsstudie as galery-assistent begin werk het, het ek ook nie geweet wat presies 'n kurator doen nie."

Die samewerking tussen die UJ en die MTN SA-stigting wat oor jare strek - onder meer die aanbied van die MTN x UJ New Contemporaries-kunsprys - het aanleiding gegee tot dié program vir leerlinge wat meer wil weet van die moontlikhede binne die wêreld van die visuele kunste.

"Die UJ het as tersiêre instelling alles wat nodig is om jong mense toe te rus, en die MTN SA-stigting het die vermoë om dié soort toerusting finansieel moontlik te maak," sê Niel Nortjé, bestuurder van die MTN-kunsversameling.

"Ons ervaring het ons geleer dat dié soort inligting oor wat 'n kurator is en wat hy of sy doen, reeds op skoolvlak oorgedra moet word."

Benewens Orton en Nortjé as aanbieders, het die leerlinge ook toegang gehad tot nagraadse kunsstudente as mentors vir die twee weke. Op dié manier is die ervaring en interaksie wedersyds versterk.

Op besoek aan Everard Read in Rosebank, Johannesburg. Foto: Kane Lucas
Op besoek aan Everard Read in Rosebank, Johannesburg. Foto: Kane Lucas

Die vol program het heelwat besoeke aan verskeie kunsinstellings in Johannesburg ingesluit. Besoeke is afgelê by MTN se kunsversameling; Bag Factory en David Krut se drukwerkswinkel; die kommersiële galerye Goodman, Everard Read en BKhz; Johannesburg Contemporary Art Foundation (JCAF); en Strauss & Co; en die Workhorse-bronsgietery.

Tussendeur was daar tyd vir aanbiedings, gesprekke en refleksies. Daar was ook meesterklasse wat gewissel het van kuratoriale perspektiewe deur Amogelang Maledu, kurator van die jongste MTN x UJ New Contemporaries-prys, en dié van Farieda Nazier en prof. Alison Kearney, albei kunsdosente aan die UJ, tot klasse waarin die leerlinge eerstehands meer te wete kon kom oor praktiese galery-bedrywighede.

Lakin Morgan-Baatjies, bemarkingsbestuurder by UJ Arts & Culture, het 'n klas aangebied oor bemarking. Aneesah Girie en Erin Domingo, nagraadse kunsstudente aan die UJ se fakulteit kuns, ontwerp en argitektuur (Fada), het 'n klas aangebied oor etikettering van kunswerke, en Titus Rakgoathe en Bongani Senne, UJ-galery-assistente, een oor die installasie en hang van uitstallings.

Alles wat die leerlinge in die bestek van twee weke geleer en ervaar het, het neerslag gekry in die opdrag om in drie groepe as kurators drie uitstallings aan te bied in die UJ-galery.

Elkeen van die drie groepe moes eers werk aan 'n voorstel (wat bespreek en waaraan geskaaf is), toe moes 'n kuratoriale visie en uitvoering aangebied word, en laastens moes kunswerke gekies word wat reg laat geskied aan die visie en uitvoeringsplan.

Die deelnemers, mentors en aanbieders van die MTN x UJ Future Curators-program in die UJ-galery. Foto: Kane Lucas
Die deelnemers, mentors en aanbieders van die MTN x UJ Future Curators-program in die UJ-galery. Foto: Kane Lucas

Die werke moes geïnstalleer word, en elke groep moes 'n rondleiding aanbied.

"Ons oë het oopgegaan vir die moontlikhede wat die visuele kunste bied," was die algemene gevoel van die leerlinge.

Afgesien van self kunstenaar wees, bied dié rigting ook moontlikhede van werk as onafhanklike kurator, galerybestuurder, bestuurder van die versamelings van korporatiewe maatskappye en akademiese instellings en ook as navorsers.

Oor die sukses van die program twyfel Orton en Nortjé hoegenaamd nie. "Ons moet nou net planne maak om dit 'n gereelde instelling te maak. En moontlik uit te brei. Daar is soveel fasette waaraan ons nog aandag kan gee in so 'n program," sê hulle.

Johan Myburg

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM