Hof

Poppe dans: Liebenberg-likwidateurs eis R215 m. van AE Switch

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die likwidateurs van die vermeende diamantbedrieër Louis Liebenberg se Forever Diamonds and Gold (FDG)-groep van maatskappye, wil skuld van meer as R215 miljoen van die e-beursiemaatskappy AE Switch verhaal.

Dit blyk uit hofstukke wat Vrydag deur die likwidateurs van Liebenberg se maatskappye by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is in hul aansoek om tot SA Concerts se finale likwidasie van AE Switch toe te tree.

Hulle volg kort op die hakke van die Universiteit van Johannesburg (UJ), wat ook in die afgelope twee weke 'n aansoek ingedien het om toe te tree tot die likwidasie-aansoek, het Netwerk24 vroeër berig.

AE Switch is in Mei 2024 voorlopig gelikwideer weens meer as R1 miljoen se skuld aan die vermaakmaatskappy SA Concerts nadat die maatskappy die Mosselbaai Somerfees aangebied het.

Die likwidasie van AE Switch is ontketen weens skuld wat spruit uit opbrengste van die Mosselbaai Somerfees. Foto: Argief
Die likwidasie van AE Switch is ontketen weens skuld wat spruit uit opbrengste van die Mosselbaai Somerfees. Foto: Argief

Eduard Hugo, eienaar van SA Concerts, moes omtrent vure doodslaan omdat stalletjie-eienaars nie hul geld kon kry ná die fees nie.

Die UJ sê op sy beurt AE Switch het versuim om meer as R7 miljoen se toelaes van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS), wat studente vir hul verblyf moes aanwend, uit te betaal.

Die universiteit sê hy moes uiteindelik self die geld aan die ontstoke eienaars van private studenteverblyfplekke uitbetaal.

Maar met die likwidateurs van Liebenberg se maatskappye wat nou tot die stryd toegetree het, gaan die poppe begin dans.

Baie beleggers in Liebenberg se diamantpakkieskema wag nog vir hul bloedgeld.

Die vermeende diamantbedrieër Louis Liebenberg. Foto: Deaan Vivier
Die vermeende diamantbedrieër Louis Liebenberg. Foto: Deaan Vivier

Liebenberg self staan in die landdroshof in Bronkhorstspruit tereg op aanklagte van bedrog van meer as R4 miljard nadat meer as 44 000 beleggers in sy beweerde Ponzi-skema ingetrek is.

Waar is die geld?

Vaughn Victor, likwidateur van Liebenberg se maatskappy Tariomix, sê in sy eedsverklaring sedert Tariomix op 12 April 2024 finaal gelikwideer is, is nog drie maatskappye - Tarioco, Forever Zircon en Nama Stones - tot die likwidasie-geding gevoeg om 'n groep van maatskappye onder die sambreel van FDG te vorm.

Dit is dié maatskappye wat na bewering gebruik is om Liebenberg se beweerde FDG-Ponzi-skema te bedryf.

AE Switch, 'n kontantlose e-beursiestelsel, is as tussenganger tussen die beleggers en die FDG-maatskappye gebruik vir diegene wat op Liebenberg se sogenaamde diamantpakkies ingekoop het.

Tiaan Lombard, uitvoerende hoof van AE Switch.  Foto: Elizabeth Sejake/Rapport
Tiaan Lombard, uitvoerende hoof van AE Switch. Foto: Elizabeth Sejake/Rapport

Tiaan Lombard, uitvoerende hoof van AE Switch, het vroeg in 2023, in die tyd toe Liebenberg se skema begin kantel het, die oorblywende geld op dié platform bevries.

Lombard het hom as "fluitjieblaser" en "geheime agent" van die Valke voorgedoen.

Hy het in hofstukke in 'n regsgeding met Liebenberg beweer alle geld wat op sy platform ingesamel is, is "veilig in 'n Absa-tesourierekening".

Dié uitlatings vorm nou deel van die hofstukke waarin die likwidateurs van FDG se groep maatskappye vra om tot SA Concerts se likwidasie-aansoek van AE Switch toe te tree.

Hulle wil weet: Waar is die geld?

Voorlopige ondersoeke deur die likwidateurs se forensiese ouditeurs en regsverteenwoordigers wys dat sowat R2,5 miljard by AE Switch inbetaal is, waarvan sowat R2,3 miljard weer uitbetaal is.

Daar is dus meer as R200 miljoen wat nog nie opgespoor kon word nie.

Die likwidateurs sê hulle het toegang tot AE Switch se bankrekeninge en e-beursies nodig om uit te vind waar die geld is. In dié stadium beskou hulle die R215 miljoen as skuld wat AE Switch nie kan vereffen nie.

Tot op hede het Lombard geweier om enige finansiële state aan die likwidateurs van Liebenberg se skema beskikbaar te stel.

Nes die UJ en SA Concerts, voer FDG se likwidateurs aan dit sal in die belang van alle krediteure wees om AE Switch finaal te likwideer.

Lombard betwis sedert die voorlopige likwidasie van sy maatskappy SA Concerts se bewerings in die voortslepende regsgeding.

Die saak sou na verwagting op 4 Augustus afgehandel word, maar met dié dat die UJ en ook FDG se likwidateurs nou toegetree het, sal die saak moontlik eers in November voortgesit word.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM