
Studente wat 'n MBA-kursus volg, doen dit nie noodwendig om beter diensvoorwaardes of 'n bevordering te beding nie. Die vernaamste rede waarom mense vir die kursus inskryf is om bykomende sakekennis in te win.
En in die geval van die oorgrote meerderheid het die kursus wel aan die studente se verwagtinge voldoen.
Dit is een van die gevolgtrekkings van 'n meningspeiling wat Sake24 se sustertydskrif, Finweek, in samewerking met MBA Connect, 'n sosiale netwerk vir MBA-studente en oudstudente onderneem het.
Altesame 1 597 respondente het aan die peiling deelgeneem, van wie 53% huidige studente en 47% afgestudeerde studente was. Sowat 82% van die respondente het gesê dit was die moeite werd om die kursus te onderneem.
Op die vraag waarom studente en oudstudente vir 'n MBA-kursus ingeskryf het, het 79% van die respondente gesê hulle wou hul sakekennis verbreed. Nog 51% wou hul "sagte vaardighede" uitbrei, terwyl 49% gemeen het dat die kursus hul selfvertroue in die sakeomgewing sou verbeter.
Salaris wel belangrik
Uitblinkers
- Die Universiteit van Kaapstad se nagraadse sakeskool is die enigste Suid-Afrikaanse skool onder die top-100 op die Financial Times se lys en beklee die 76ste posisie.
- Die Gibbs-sakeskool van die Universiteit van Pretoria is die enigste universiteit uit Afrika wat 'n plek in The Economist se ranglys van die voorste 100 programme vir deeltydse studie losgeslaan het. Gibbs is vanjaar in die 74ste plek, 13 plekke beter as verlede jaar.
- Een van die mees gesogte meningspeilings is een wat jaarliks deur die gesaghebbende publikasie Quacquarelli Symonds opgestel word en die 200 beste sakeskole identifiseer. Die skole word in streke verdeel en daar is net vyf skole uit Afrika en die Midde-Ooste onder die voorste 200. Die Universiteit van Kaapstad is derde uit die vyf en die Universiteit van die Witwatersrand vyfde.
Dit beteken nie dat finansiële oorwegings nie 'n rol speel in die besluit om die kursus te volg nie. Altesame 37% van die respondente het 'n loopbaanverandering beplan, terwyl 36% gehoop het dat die kwalifikasie vir hulle 'n bevordering sou besorg.
Altesame 32% het erken dat finansiële oorwegings 'n rol in hul besluit gespeel het, terwyl 33% die bykomende sakekennis wou gebruik om 'n eie onderneming te begin.
Altesame 30% van die respondente het gehoop die kwalifikasie sou hulle in staat stel om elders in die wêreld te werk.
Vir húlle het die kursus ook in 'n groot mate aan hul verwagtinge voldoen, hoewel die reaksie nie oorweldigend was soos in die geval van studente wie se primêre oorweging die opdoen van bykomende kennis was nie.
As die studente se tevredenheid op 'n skaal van nul tot tien gemeet word, het diegene wat vir finansiële oorwegings gestudeer het, hul tevredenheid met 'n 6,5 te kenne gegee, diegene wat van werk wou verander met 'n 6, die wat bevordering gesoek het met 'n 5,9 en die wat in die buiteland wou werk met 'n 5,9.
Die peiling toon dat waar studente gemiddelde salarisgroei van 9,1% behaal het voordat hulle hul studie voltooi het, hul gemiddelde salarisgroei ná die voltooiing van 'n MBA 11% was.























