Beroepe

Meertaligheid in sakewêreld bekyk

Die Pendoring-advertensietoekennings het nie net onlangs pryse uitgedeel aan die skeppers van uitstekende advertensies nie, maar wil nou ook tot die gesprek oor meertaligheid in Suid-Afrika bydra.

Die heel eerste Pendoring-sakeseminaar word Dinsdag aanlyn gehou waarop leiers in die sakewêreld oor inheemse tale in die sakesektor in gesprek sal tree.

Vrae wat gevra sal word, sluit in: Oorskat ons die emosionele reikwydte van die Engelse monokultuur teenoor die krag van inheemse kulture? Watter geleenthede mis jy as jy in 'n meertalige mark by eentaligheid hou?

Watter bedreigings staar eentalige ondernemings in die gesig wanneer hul meeding met meertalige ondernemings wat taal-innovasie bevorder?

Wat is die werklike koste en voordele van korporatiewe eentaligheid? En kan ons eentaligheid bekostig?

Die gespreksleier is Koketso Sachane, 'n radiojoernalis van CapeTalk, en die paneellede sluit in dr. Nomfundo Mali van die Pan South African Language Board (PanSALB); Mpume Ngobese, hoof van Joe Public Connect; dr. Christo van der Rheede, hoof van Agri SA; Unathi Kondile, mediabestuurder by DK Media Agency; Songezo Zibi, hoofwoordvoerder van Absa-bank en Waldimar Pelser, redakteur van Rapport en raadslid van die Pendoring-toekennings.

"Ons hoop dat ons 'n saak kan uitmaak vir die gebruik van inheemse taal in die sakewêreld om die groei van kreatiewe inheemse taalkommunikasie aan te moedig en om sodoende 'n wegbeweeg van eentaligheid te bewerkstellig," lui 'n plasing op 'n borg, Fin24, se Facebook-blad.

Ander borge sluit in (PanSALB) en die Indigenous Languages Action Forum (ILAF).

Om die aanlyn seminaar by te woon, registreer hier.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM