Beroepe

Minimum loon ‘vernietig honderdduisende poste’ – IRR

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die groep Cosatu-lede Woensdag voor Sea Harvest se gebou in die V&A Waterfront.  Foto: Theo Jeptha
Die groep Cosatu-lede Woensdag voor Sea Harvest se gebou in die V&A Waterfront. Foto: Theo Jeptha

'n Geraamde 430 000 poste het die afgelope vyf jaar in die slag gebly weens die nasionale minimum loon, beweer die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR).

Die kommissie oor 'n nasionale minimum loon moet in die lig hiervan sy aanbeveling oor die jongste verhoging in die minimum loon hersien, meen die IRR.

Die kommissie het in Desember gesê hy beveel aan dat die minimum loon met inflasie plus 1,5 persentasiepunte verhoog word. Dit beteken luidens 'n verklaring van die IRR dat die minimum loon met 4,5% gaan styg.

Die nasionale minimum loon, wat sedert 2019 in werking is, het in 2024 tot R27,58 per uur gestyg. Gegewe die heersende inflasieverwagtinge beteken dit dat die loon in 2025 tot nagenoeg R28,82 per uur sal styg.

Die IRR sê die kommissie verskaf in sy verslag wat met die jongste aanbeveling gepaardgaan, geen besonderhede van hoeveel mense na raming poste verloor het of hoeveel weerhou is van 'n werkgeleentheid weens die nasionale minimum loon nie.

'n Navorsingsverslag van die ontwikkelingsbeleid-navorsingseenheid (DPRU) aan die Universiteit van Kaapstad wat in Desember gepubliseer is, wys 'n "statisties beduidende" negatiewe uitwerking op indiensneming, sê die IRR.

Sy regsafdeling het regstreeks met die DPRU geskakel om die beste raming te kry vir werkloosheid wat in 2024 deur die nasionale minimum loon geskep is.

"Die geraamde getal poste wat vernietig is, is 227 800 - 3,4% van die 6,7 miljoen laeloonwerkers wat rofweg tot R7 500 per maand verdien.

"Die vernietiging van rofweg 230 000 poste in dié groep is veral skadelik vir diegene wat werkloos gelaat is, asook vir hul afhanklikes, aangesien laeloonwerkers die mins waarskynlik is om betekenisvolle spaargeld te hê om op staat te maak vir daaglikse gebruik terwyl hulle werk soek," lui die IRR se verklaring.

Syfers van die DPRU wys volgens die IRR dat 4,8% tot 8,1% van laeloonwerkers sedert 2019 werkloos is weens die nasionale minimum loon. Dit sluit nie eens die piektydperke in die Covid-19-inperking in nie.

Die beste beskikbare raming van die totale getal poste wat tot dusver deur die nasionale minimum loon vernietig is, is rofweg 430 000.

—  IRR

"As aangeneem word dat die bevolking van laeloonwerkers oor daardie tydperk gemiddeld 6,7 miljoen beloop het, kom dit neer op tussen 321 600 en 542 700 poste wat deur die minimum loon vernietig is.

"Met ander woorde, die beste beskikbare raming van die totale getal poste wat tot dusver deur die nasionale minimum loon vernietig is, is rofweg 430 000," lui die IRR se verklaring.

"Die IRR se regsafdeling moedig die kommissie in sy voorlegging aan om ag te slaan op goeie verstand en die somber rekord van die grootskaalse vernietiging van poste, en sake reg te stel deur die nasionale minimum loon met 25% te verminder en 'n halfmiljoen poste terug te bring," lui die verklaring.

Die navorsingsverslag van die DPRU wat in opdrag van die kommissie gedoen is, is in Desember in die Staatskoerant gepubliseer en dek die jare 2019 tot 2024.

Dit wys onder meer op die impak van die minimum loon op indiensneming, werkure en reële maandelikse inkomste.

"Ons vind bestendige bewyse van 'n negatiewe maar relatief klein uitwerking op indiensneming. Dié dalings is ongeveer 2,2% tot 2,7% vir sub-minimumloonwerkers en 4,8% tot 8,1% vir die breër laeloonwerkersgroep, wat 'n uitkringende uitwerking impliseer vir diegene wat effens meer as die minimum loon verdien.

"Oorhoofs vind ons bewyse van 'n groot, positiewe uitwerking op reële uurlikse lone op kort termyn wat op langer termyn voortduur; 'n klein, negatiewe uitwerking op werkure op kort termyn wat op langer termyn voortduur; 'n klein, negatiewe uitwerking op indiensneming wat neig om net op langer termyn sigbaar te word en toe te neem, wat 'n sloerende uitwerking weerspieël; en 'n groot, positiewe uitwerking op reële maandelikse verdienste, wat aangedryf word deur 'n baie groter uitwerking op lone vergeleke met die aantal werkure.

"Hierdie laasgenoemde resultaat weerspieël 'n ‘netto' verbetering in die welstand van laeloonwerkers, hoewel dit net van toepassing is op diegene wat hul pos behou," lui die DPRU se verslag.

"Daarom bly die klein, negatiewe indiensnemingsimpak wat ons waarneem 'n relevante bron van kommer."

Die DPRU sê ook die vlak van nienakoming het oor die tydperk onder oorsig gestyg.

Die versterking van die bestaande toepassingsmeganismes blyk volgens die navorsingsverslag kritiek te wees.

- philda.essop@24.com