Beroepe

Nuwe rasteikens: Wat jy moet weet

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die verteenwoordiging van swart, bruin en Indiërmense in bestuursposte word aangemoedig deur die regulasies wat persentasies vir elke bedryf stel.  Foto: Unsplash
Die verteenwoordiging van swart, bruin en Indiërmense in bestuursposte word aangemoedig deur die regulasies wat persentasies vir elke bedryf stel. Foto: Unsplash

Transformasie is weer in die nuus sedert Nomakhosazana Meth, minister van werkskepping en arbeid, rasteikens vir ondernemings in die 'Staatskoerant' gepubliseer het. Sowel Solidariteit as die DA het reeds hofgedinge aanhangig gemaak om die regulasies te beveg. Maar wat presies beteken die nuwe regulasies?

Na watter regulasies verwys word

Die 2025-regulasies van die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming is op 15 April in die Staatskoerant gepubliseer. Dit vervang regulasies wat in 2024 uitgereik is en so omstrede en onverstaanbaar was dat dit weer onttrek is.

Die nuwe regulasies is van toepassing op alle staatsinstellings, sowel as alle private ondernemings met 50 of meer werknemers.

Vir elke ekonomiese sektor (daar is 18) word 'n teiken gestel van watter persentasie mans en watter persentasie vroue van "aangewese groepe" aangestel moet word. Die aangewese groepe is swart, bruin en Indiërmense as geheel.

Daar is ook 'n teiken vir gestremdes as geheel (wat nie volgens ras of geslag verdeel word nie).

Die teikens word vir vier beroepskategorieë gestel:

• topbestuur;

• senior bestuur;

• professioneel gekwalifiseerde personeel en middelbestuur; en

• tegnies vaardige personeel.

Voorbeeld: In finansiële dienste moet 27,8% van topbestuurders binne vyf jaar mans van die aangewese groepe wees en 35,3% moet vroue van die aangewese groepe wees. Altesame moet 63,1% van topbestuurders dus teen Augustus 2030 swart, bruin en Indiërmense wees.

Hoewel geen teiken gestel word vir halfgeskoolde of ongeskoolde poste nie, moet ondernemings die ekonomies aktiewe bevolking van die provinsie of die land in ag neem en hul eie teikens daarvolgens stel.

As 'n onderneming landwyd bedrywig is, is die nasionale demografie van toepassing. Indien dit nie nasionaal is nie, moet die provinsie gekies word waarin die meeste werknemers is.

Die teikens tel nie tot 100% op nie om voorsiening te maak vir wit mense en buitelanders wat in ondernemings werk.

Hoe dit van die 2024-regulasies verskil

Die belangrikste verskil is dat slegs een teiken vir die aangewese groepe as geheel gegee word. In die 2024-regulasies is uiteengesit wat die persentasie vir elke rasgroep en geslag moet wees (dus vir swart mans, bruin vroue, Indiërmans en so meer). Nou word daar slegs een teiken gegee vir alle aangewese groepe.

Ondernemings moet wel steeds verslag doen volgens elke onderafdeling.

Plan vir gelyke indiensneming

Ondernemings moet teen 31 Augustus 2025 'n Plan vir Billike Indiensneming (EEP) opstel waarin hulle uiteenset waar hulle relatief tot die sektorale teikens staan en hoeveel mense van aangewese groepe hulle moet aanstel om die teikens teen 31 Augustus 2030 te haal.

Die plan moet teen 15 Januarie 2026 aanlyn, op die aangewese vorms, by die departement ingedien word.

Ondernemings wat ná 31 Augustus 2025 mense aanstel sodat hulle 50 of meer werknemers het, moet 'n plan opstel vir wat ook al oor is van die vyf jaar.

Die eerste evaluasies oor hoe met die plan gevorder word, word van 1 September 2026 tot 15 Januarie 2027 gedoen.

As teikens nie gehaal word nie

Die regulasies stippel redelike gronde uit wat ondernemings kan aanvoer waarom hulle nie aan die sektorale teikens voldoen nie. Die bewyslas berus egter met die werkgewer - daar moet goeie bewyse verskaf kan word.

Die gronde is:

• te min geleenthede vir werwing (daar is nie groei in werknemergetalle nie en genoeg mense bedank of tree nie af nie);

• te min geleenthede vir bevordering (soos hierbo);

• te min mense van die aangewese groepe met die relevante formele kwalifikasies, relevante ervaring of vermoë om binne 'n redelike tyd te kan leer om die werk te doen;

• impak van 'n hofbevel of 'n bevinding van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie;

• impak van 'n oordrag van 'n onderneming, 'n verkryging of 'n samesmelting; en

• ekonomiese omstandighede wat 'n impak op die onderneming het.

As teikens reeds gehaal is

Wanneer indiensneming van aangewese groepe reeds gehaal of oortref word, moet ondernemings steeds teikens stel om voldoening te handhaaf.

Anders as die konsepregulasies van 2024 is daar geen verbod op die vermindering van verteenwoordiging van aangewese groepe as dit steeds die teikens haal nie.

Gevolge van nievoldoening

Ondernemings wat nie aan die teikens voldoen nie en nie kan bewys dat daar grondige rede daarvoor is nie, kan gediskwalifiseer word van staatskontrakte.

Hulle kan ook boetes opgelê word. Die boetes wissel na gelang van hoeveel keer die onderneming al die regulasies oortree het.

• Die kleinste boete, vir 'n eerste oortreding, is R1,5 miljoen of 2% van 'n onderneming se omset, watter bedrag ook al die grootste is.

• Die grootste boete, vir 'n onderneming wat dieselfde fout al vier keer in drie jaar begaan het, beloop R2,7 miljoen of 10% van die omset, watter bedrag ook al die grootste is.

Voldoeningsertifikaat

Om vir staatskontrakte te kwalifiseer, moet ondernemings 'n voldoeningsertifikaat van die minister van werkskepping en arbeid bekom.

Die sertifikaat is 12 maande geldig.

Dit sal uitgereik word aan ondernemings wat aan die teikens voldoen of 'n billike regverdiging kan verskaf waarom enige teikens nie gehaal is nie.

Ondernemings mag ook nie die vorige 12 maande 'n KVBA-bevinding of hofbevel hê oor onbillike diskriminasie of dat hy nie die minimum loon betaal het nie.

Wie is mense met gestremdhede?

Die teiken vir die indiensneming van mense met gestremdhede is tot 3% verhoog, maar daarmee saam is die definisie van gestremdheid uitgebrei.

Dit sluit nou almal in met langtermyn- of herhalende fisieke, verstandelike, geestes- of sensoriese swakheid wat hul werkvooruitsigte beduidend verminder.

Waaroor gaan die hofsake teen die regulasies?

Solidariteit reken die regulasies is "prosedureel onwettig". Die voorskrifte oor hoe regstellende aksie toegepas moet word, is op geen tydstip aan 'n proses van openbare deelname onderwerp, soos vereis word, nie.

Daarby sê Solidariteit die weglating van drie bepalings oortree 'n skikking wat voorheen met die regering aangegaan is en 'n hofbevel gemaak is. Dit is:

• dat niemand op grond van rassewetgewing afgedank mag word nie;

• dat rassewetgewing tydelik moet wees en afgeskaf word sodra gelyke-indiensnemingsyfers bereik word; en

• dat die inherente vereistes van 'n pos in ag geneem moet word.

Die DA beskou die regulasies as ongrondwetlik omdat dit art. 9 oortree, wat gelykheid voor die reg waarborg en onbillike diskriminasie verbied. Die party reken ook dit kom neer op die misbruik van staatsmag omdat die minister se magte "vaag, ongekontroleerd en gevaarlik wyd" is.

Die DA se hofsaak begin Dinsdag.

Bykomende bronne: Webber Wentzel, Cliffe Dekker Hofmeyr, Bowmans

- hanlie.stadler@24.com

Hanlie Nordejee

Hanlie Nordejee

Hanlie is a business journalist based in Cape Town covering macro-economics.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM