
Die partytjiegees hang dié tyd van die jaar dik in die lug, ook met werkplekke se jaareindfunksies.
'n Peiling wat in Amerika gedoen is, wys dat werkgewers vanjaar van plan is om partytjies te monitor om onvanpaste optrede te keer.
Dit is egter nie so maklik om 'n kantoorpartytjie te monitor nie, omdat die algemene werkreëls nie by die partytjie geld nie. Dit is maklik om die grense te oorskry, veral as daar te veel drank betrokke is.
Volgens 'n peiling deur Challenger, Gray & Christmas, 'n maatskappy in Chicago, beplan slegs 49% van maatskappye in die VSA om alkohol by jaareindfunksies te verskaf. In 2016 was dit 62%, die hoogste getal in die tien jaar dat die peiling gedoen word.
"Sodra daar alkohol is by 'n partytjie, word dit beskou as 'n geleentheid om 'n bietjie los te laat," sê Ed Yost, bestuurder van mensehulpbronne en ontwikkeling vir die vereniging vir menslikehulpbronnebestuur in Alexandria, Virginië.
Wenke oor hoe om jaareindfunksies te hanteer
- Wees ingelig oor die jongste gebeure, nasionaal en internasionaal sodat jy geselsies kan aanknoop.
- Identifiseer belangrike mense in die maatskappy en sit jou beste voetjie aan hulle voor op 'n werkpartytjie.
- Moenie vuil grappies maak nie.
- As jy beplan om te drink, ken jou perke. Tref ook vooraf vervoerreëlings sodat jy nie dronk bestuur nie.
"Dit word dan as 'n sosiale omgewing eerder as 'n werksgeleentheid beskou en die meeste mense sal meer as gewoonlik weens die gratis drank drink."
Volgens HuffPost het Vox Media, 'n Amerikaanse digitale maatskappy, besluit om nie vanjaar 'n oop kroeg op sy jaareindfunksie te hê nie. Werknemers kry wel twee kaartjies vir drankies en kry ook kos. Vox Media het onlangs sy redaksionele direkteur, Lockart Steele, afgedank ná bewerings van seksuele teistering.
Luidens 'n peiling deur Bloomberg Law is hierdie maatreëls algemeen. Die meeste maatskappye sal kroegmanne, veiligheidsmense of sekere werknemers aanstel om 'n oog te hou oor hoeveel daar gedrink word. Sommige stel 'n perk op die getal drankies terwyl ander 'n kontantkroeg pleks van die onbeperkte hoeveelheid drank bied.
Volgens Yost kry hy elke jaar meer navrae oor hoe om jaareindfunksies te hanteer. Hy wil sy eie kantoorpartytjie monitor deur 'n oog te gooi op gange en afgesonderde areas en deur op te let of werknemers ongemaklik voel, byvoorbeeld as daar onvanpaste gesprekke is of mense vatterig word. Hy sal onmiddellik ingryp as hy dié soort optrede sien.
Bykomende bronne: Time, Phillyvoice















