Suid-Afrikaanse maatskappye is gretig om hul werkmag terug op kantoor te kry, maar werknemers stem nie noodwendig saam nie.

Werknemers is toenemend besig om na die verskuiwing na afstandswerk as die "nuwe normaal" te verwys, en het ná 'n aanvanklike aanpassingsperiode begin om hul werk van die huis af baie te geniet.
Media24 het deur middel van sy navorsingsafdeling, Forum24 en in samewerking met Catalyst Research, navorsing oor onder meer tendense in die werkplek tydens die pandemie gedoen. Die navorsing is in Julie onder 2 506 respondente gedoen.
Laura Kaufman, geakkrediteerde marknavorser van die Suid-Afrikaanse Marknavorsingsvereniging (Samra), het dit daarna ontleed.
Forum24 se resultate wys dat Suid-Afrikaners baie gemaklik geraak het daarmee om van die huis af te werk.
In die peiling het 64% aangedui dat hulle wil aanhou om van die huis af te werk.

Ondanks teenstand uit die werkmag is maatskappye steeds besig om hul werknemers terug te roep kantoor toe.
Net 8% van die werknemers wat aan die peiling deelgeneem het, het aangedui dat hulle steeds van die huis af werk en in die afsienbare toekoms daarmee sal voortgaan.
Altesaam 29% is slegs tydens die strengste vlakke van die inperking toegelaat om van die huis af te werk.
'n Verdere 24% het aangedui dat hulle meestal tydens die inperking van die huis af gewerk het, maar nou weer terug op kantoor is.
Altesaam 6% het "onlangs" teruggekeer werk toe, en 'n verdere 6% het 'n tydjie gelede al teruggekeer.

Byna 'n derde (27%) van die werknemers het egter nooit van die huis af gewerk nie.
Die aantal werknemers wat gesê het dat hulle nog vir die afsienbare toekoms van die huis af gaan werk, het ook tussen Maart en Julie afgeneem. Dié getal wat 13% in Maart was, staan nou op 8%.
Statistieke Suid-Afrika het pas bevind dat net 6,9% van Suid-Afrikaners in die tweede kwartaal van die huis af gewerk het. Dit styg tot 18,9% onder beroepslui, maar selfs dié mense begin stadigaan terugkeer kantoor toe.
In die eerste kwartaal het 19,1% van beroepslui nog by die huis gewerk.



















