Sê jou sê oor 2022 se minimum loon

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Mense wat voorstelle vir die verhoging van die nasionale minimum loon vir 2022 wil doen, kan nou hul mening lug.

Huiswerkers se minimum loon is vanjaar aangepas tot 88% van die nasionale minimum loon, en die aanbeveling van die Kommissie oor die Nasionale Minimum Loon is dat dit volgende jaar verder verhoog word tot die volle nasionale minimum loon. Foto: Getty Images
Huiswerkers se minimum loon is vanjaar aangepas tot 88% van die nasionale minimum loon, en die aanbeveling van die Kommissie oor die Nasionale Minimum Loon is dat dit volgende jaar verder verhoog word tot die volle nasionale minimum loon. Foto: Getty Images

Die kommissie oor die nasionale minimum loon het Vrydag belangstellende partye uitgenooi om skriftelike voorleggings oor moontlike aanpassings aan die loon in te dien.

Dit sal dan in ag geneem word voordat die kommissie sy jaarverslag publiseer en later vanjaar aanbevelings oor die jaarlikse hersiening daarvan vir volgende jaar bekend maak.

In Maart vanjaar is die nasionale minimum loon van R20,76 per uur tot R21,69 per huur verhoog. Dit was 'n verhoging van 4,5%, in pas met die kommissie se aanbeveling van November 2019.

LEES OOK: Skerp styging in plaas-, huiswerkers se loon

Die fokus van 2022 se verhogings kan moontlik wees om huiswerkers se lone ook in pas met die nasionale minimum loon te bring, soos vanjaar met plaaswerkerlone gedoen is. Dit het tot erge onmin onder boere gelei, want dit het behels dat die lone van dié plaaswerkers wat die minimum loon verdien het, met meer as 16% moes styg.

Huiswerkers moet 'n minimum loon verdien wat 88% van die nasionale minimum loon beloop. Hul minimum loon is vanjaar met 22,6% tot R19,09 per uur verhoog.

Die grafiek dui aan hoe die nasionale minimum loon tot dusver aangepas is.
Die grafiek dui aan hoe die nasionale minimum loon tot dusver aangepas is.

Die kommissie het reeds voorheen aanbeveel dat huiswerkers se vergoeding in 2022 tot op die nasionale minimum loon se vlak gebring moet word, hoewel minderheidslede in die kommissie gemeen het dit kan oor die loop van vier jaar tot daar verhoog word.

Die kommissie is ingevolge die Wet op die Nasionale Minimum Loon van 2018 gestig en moet jaarliks die verhogings in die loon hersien en aanbevelings aan die minister van indiensneming en arbeid daaroor maak.

Dié faktore word in ag geneem

Die kommissie is veronderstel om die volgende faktore in ag te neem wanneer hy verhogings oorweeg: inflasie, lewenskoste, die behoud van die waarde van die minimum loon, bruto binnelandse produk, loonvlakke, resultate van loononderhandelings by kollektiewe bedingingsrade, die vermoë van werkgewers om hul ondernemings suksesvol te bedryf, die bedryf van klein, middelslag-, mikro- en nuwe ondernemings, en die moontlike impak van die loonverhoging op indiensneming en werkskepping.

Die departement van indiensneming en arbeid waarsku in 'n verklaring Vrydag dis onwettig en onbillike arbeidspraktyk van werkgewers om werkure of ander werkvoorwaardes eensydig te verander wanneer hulle die nasionale minimum loon toepas.

Die loon is die bedrag wat betaalbaar is vir gewone ure wat gewerk word, en sluit nie bykomende toelae soos vervoer, gereedskap, kos, huisvesting, geskenke, bonusse of footjies in nie.

Lewer hier kommentaar

Mense wat kommentaar wil lewer, moet dit voor 1 Oktober pos aan Employment Standards, Departement van Arbeid en Indiensneming, Private Sak X117, Pretoria, 0001, of dit per e-pos na nmwreview@labour.gov.za stuur.

SPELETJIES VANDAG

CTA