
Die langverwagte wetgewing oor 'n nasionale minimum loon het 'n skuiwergat wat die hele doel van 'n minimum loon kan ondermyn, sê 'n kenner.
Die Wetsontwerp op 'n Nasionale Minimum Loon wat verlede maand gepubliseer is, sal na verwagting volgende jaar in werking tree.
Dit sal 'n loon van R20 per uur of R3 440 per maand voorskryf.
Die wetsontwerp het egter 'n ander definisie van 'n "werker" as wat in die onderhandelinge by Nedlac geopper is.
Weens dié definisie sal die wet sogenaamde onafhanklike kontrakteurs straks nie as "werkers" beskou nie.
Onafhanklike kontrakteurs sluit juis die mees weerlose stukwerkers in.
Shane Godfrey, 'n arbeidskenner van die Universiteit van Kaapstad, sê die "werker"-definisie sal selfs 'n groter aansporing vir werkgewers wees om hul sake so te reël dat arbeidswetgewing nie op hulle van toepassing is nie.
Godfrey sê die definisie van 'n "werker" is nou 'n "werknemer soos gedefinieer in art. 1 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes".
"Iemand het dit so verander," sê Godfrey.
"Die wet was bedoel vir die breër konsep van werkers. Die idee was dat dit almal betrek."
Die wet was bedoel vir die breër konsep van werkers. Die idee was dat dit almal betrek.
— Shane Godfrey
Hy sê die definisie is beslis verander nadat die wetsontwerp Nedlac verlaat het, en dit lyk dus na 'n opsetlike beleidsbesluit.
Nog 'n probleem wat Godfrey met die wetsontwerp sien, is dat dit die bestaande sektorale vasstelling by die venster uitgooi.
Die sektorale vasstellings geld tans vir sektore soos handel, landbou, huiswerkers en veiligheidsdienste.
Baie van die huidige sektorale vasstellings is hoër as die nuwe voorgestelde minimum loon.
Vir die handelsektor is die lone so laag soos R17,11 per uur tot R48,67 per uur vir winkelbestuurders.
Die wetsontwerp het oorgangsmaatreëls waarvolgens die sektorale lone vir die volgende drie jaar met dieselfde persentasie as die minimum loon moet verhoog.
Daarna is daar egter nie meer so 'n vereiste nie en dan kan sommige werkgewers die lone in werklikheid verlaag.
"Die tendens gaan wees om lone af te dwing tot die vlak van die minimum loon," sê Godfrey.
Tanya Cohen, uitvoerende hoof van Business Unity SA wat namens die sakesektor onderhandel het, sê die idee is dat die huidige sektorale vasstellings mettertyd vervang gaan word met kollektiewe ooreenkomste.
"Die verwagting is dat die regulering van lone gaan wegval in hierdie kategorieë, en net die nasionale minimum loon sal dan van toepassing wees."
Maar Godfrey sê dit is hoogs onwaarskynlik dat al die sektore ewe skielik georganiseerd gaan word en kollektiewe bedinging doen.
"Bosbou, taxi's, huiswerkers . . . Dit gaan nooit in hierdie sektore gebeur nie."
















