Só lyk 2022 se verhogings dalk

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n BankservAfrica-studie wys die waarde van die salaris wat Suid-Afrikaners huis toe neem is die eerste agt maande van vanjaar reeds 0,4% minder as in 2015.Foto: Verskaf
’n BankservAfrica-studie wys die waarde van die salaris wat Suid-Afrikaners huis toe neem is die eerste agt maande van vanjaar reeds 0,4% minder as in 2015.Foto: Verskaf

Suid-Afrikaanse werkgewers voorsien dat hulle hul personeel in 2022 'n gemiddelde verhoging van 5,5% sal gee, volgens navorsing van Willis Towers Watson.

Dié konsultantefirma sê in 2021 was die gemiddelde verhoging in Suid-Afrika 4,7%.

Gegewe dat die verwagting vir inflasie in 2022 laer is as 5%, beteken dit mense sal verhogings van meer as die inflasiekoers kry, wat hul koopkrag sal verhoog. Die Reserwebank voorspel inflasie van net 4,2% vir 2022.

Willis Towers Watson bevind verder dat net 5% van ondernemings nou dink dat hulle in 2022 geen verhogings gaan toeken nie. Dis teenoor 12% vanjaar.

Altesame 320 Suid-Afrikaanse maatskappye het aan die peiling deelgeneem waarop die verslag gegrond is.

Melanie Trollip, direkteur van talent en beloning van Willis Towers Watson Suid-Afrika, sê die meeste ondernemings is midde-in "tentatiewe herstel van die pandemie".

"Dis belowend dat baie beplan om meer vrygewige verhogings aan te bied. Die einde van die bevriesing van vergoeding sal verwelkom word en baie mense kan verwag dat volgende jaar se verhogings 'n verbetering op vanjaar sal wees."

Wanneer verskillende bedrywe ontleed word, lyk die verwagtinge selfs beter in mediese tegnologiewerk (7,1%), aptekerswese (6,1%) en verbruikersprodukte (6%). Sakekonsultante (3,7%) en mense wat in konstruksie werk (4,2%) kan kleiner verhogings verwag.

Baie maatskappye tref 'n groot onderskeid tussen mense op grond van hul merietebeoordeling, met toppresteerders wat verhogings van 2,5 keer méér kry as mense wat gemiddelde prestasie behaal.

Trollip sê stewige verhogings bly 'n manier waarop maatskappye meeding om talent te werf en te behou.

Die tendens van hoër verwagte verhogings in 2022 word op enkele uitsonderings na wêreldwyd gesien.

Die verslag wys ook daarop dat daar 'n regstreekse verband is met hoe 'n bedryf tydens die pandemie gevaar het en hoe groot gemiddelde verhogings is. Tegnologie- en finansiëledienstefirmas het gefloreer en beplan hoër verhogings, terwyl dié in toerisme en gasvryheid sukkel om aan personeel goeie verhogings toe te ken.

Een van die redes wat die verslag uitlig, is die hibriede werkomgewing, wat vir maatskappye langtermynkostebesparings meebring. Ook in Suid-Afrika verklein maatskappye byvoorbeeld die kantoorruimte wat hulle huur omdat alle werknemers nie meer elke dag op kantoor is nie.

LEES OOK: Kantore was nog nooit so leeg as nou nie

Willis Towers Watson waarsku egter dat dié hibriede omgewing dit moeiliker maak om mense betrokke te hou.

Outsized, 'n platform vir konsultante, het onlangs gesê baie mense gaan dalk binnekort bedank omdat hulle die groter buigsaamheid van tuiswerk geniet en nuwe geleenthede raakgesien het.

LEES OOK: Terugkeer kantoor toe gaan dalk baie mense laat bedank

Hanlie Stadler

SPELETJIES VANDAG

CTA