Beroepe

Só lyk die gemiddelde salaris nou

As jy meer as R20 860 per maand verdien, verdien jy meer as die gemiddelde werknemer in die formele sektor.

Al hoe minder huishoudings verdien geld uit hul eie onderneming.
Al hoe minder huishoudings verdien geld uit hul eie onderneming.

Dié bedrag was in Augustus die gemiddelde salaris in alle ondernemings met 'n omset van meer as R300 000 per jaar en wat vir belasting op toegevoegde waarde (BTW) geregistreer is.

Dit is 5% meer as 'n jaar gelede, wat dan ook die gemiddelde verhoging vir die jaar weerspieël.

Die syfers is, volgens Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingspeiling (QES) vir die derde kwartaal van 2018, 'n peiling wat ook toon 16 000 poste het in dié kwartaal verlore gegaan, hoewel 17 000 meer mense as 'n jaar gelede in die formele sektor werk.

Lees ook: SA maatskappye lê nog 16 000 mense af

Die gemiddelde salaris is 'n bruto salaris - dus totale koste van indiensneming, voordat pensioen, belasting, medies of enige ander aftrekkings gedoen is - en sluit ook enige oortydbetalings of bonusse in.

Die QES bevind die totale salarisrekening van BTW-geregistreerde maatskappye was in Augustus op nagenoeg R653 miljard 5,6% hoër as 'n jaar gelede. Die QES sluit nie die landbou, informele sektor of private huishoudings in nie.

Die styging in maatskappye se salarisrekening is hoër as die styging in die aantal poste, 17 000 of 0,2%, in die jaar en die gemiddelde verhoging van 5%, wat bes moontlik weerspieël dat meer senior poste in die jaar geskep is.

Van sektor tot sektor

Die gemiddelde salarisrekening van maatskappye in verskillende sektore weerspieël groot verskille.

Die sektor vir gemeenskapsdienste, wat grootliks die staatsdiens en ander staatsinstellings insluit (maar nie staatsondernemings nie), het 'n enorme styging van 9,2% in sy salarisrekening beleef. Staatsamptenare het vanjaar verhogings van meer as 7% gekry, maar die salarisrekening weerspieël ook oortyd en die styging in die aantal poste.

Die syfers is alles vergeleke met 'n jaar gelede:

  • Mynbou: Salarisrekening styg met 5,5%, ondanks die daling van 0,7% in die aantal poste.
  • Vervaardiging: Salarisrekening styg met 3,7%; poste het met 1,3% gedaal.
  • Krag: Salarisrekening daal met 15,9%; poste het met net 1,6% gedaal - dit beteken die verlies aan poste was senior mense.
  • Konstruksie: Salarisrekening daal met 0,9%; poste het met 3,5% gedaal.
  • Handel: Salarisrekening styg met 5,3%; poste het met 1,2% gestyg.
  • Vervoer: Salarisrekening styg met 2,9%; poste het met 1,2% gedaal.
  • Sake- en finansiële dienste: Salarisrekening styg met 5,2%; poste het met 0,9% gestyg.
  • Gemeenskapsdienste (grootliks die staatsdiens): Salarisrekening styg met 9,2%; poste het met 0,8% gestyg.
  • Totaal: Salarisrekening styg met 5,6%; poste het met 0,2% gestyg.
Hanlie Stadler

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM