
Daar was reeds in die eerste kwartaal van die jaar tekens dat maatskappye oortyd verminder het te midde van die swak ekonomie.
Die gemiddelde salaris wat Suid-Afrikaners in die formele sektor verdien, was in Februarie effens laer (-0,2%) as in November 2019. Dit was egter 5,4% hoër as in Februarie 2019, wat beteken die gemiddelde salaris het met 'n stewige 0,8 van 'n persentasiepunt méér as die inflasiekoers - wat in Februarie 4,6% was - gestyg.
As jy nou maandeliks meer as R22 387 verdien, het jy 'n bogemiddelde salaris. Dit sluit oortyd en bonusse in.
Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) werk nagenoeg 10,2 miljoen mense nou in die formele sektor, statisties gesproke onveranderd in die eerste kwartaal van die jaar, sowel as vergeleke met verlede jaar. Die formele sektor sluit mense uit wat in die landbou, informele sektor en private huishoudings werk.
Werknemers se totale bruto verdienste - wat pensioenfondsbydraes en ander werknemervoordele insluit - het op 'n jaargrondslag met 4,3% tot R730,3 miljard gestyg, dus net-net minder as die inflasiekoers. Dis egter 6% laer as in die vorige kwartaal.
Salarisse het in die meeste bedrywe gedaal, veral gemeenskapsdienste (grootliks die staatsdiens), vervaardiging, handel, sakedienste, vervoer, konstruksie en krag.
Die daling in die bruto salarisrekening van die formele sektor terwyl indiensneming onveranderd gebly het, kan ook daarop dui dat senior of hoogs betaalde poste besnoei is, terwyl meer laer besoldigde werknemers aangestel is. SSA sit egter nie die redes vir die laer salarisse uiteen nie.




















