Youlandé Prinsloo is 'n arbeidspesialis. Vrae oor arbeidsprobleme kan aan haar gerig word by arbeidsake@rapport.co.za en by faks-tot-e-pos-nommer 0865 347 192. Briewe word nie persoonlik beantwoord nie. Nie alle briewe sal beantwoord word nie.
Het aftreegeld verdwyn?

Vraag:
Ek verwys na 'n vorige artikel oor die bedingingsraad vir die motorbedryf (Mibco) se pensioenfonds en hoop jy kan my help.
Ek het lank gelede by 'n onderneming gewerk wat onder die Mibco-ooreenkoms geval het. Toe ek nou daaroor navraag doen, hoor ek daar is geen geld vir my oorbetaal nie.
Ek is bewus daarvan dat daar voor April 2004 twee fondse was en dat hulle saamgesmelt het.
Ek het geen bewys meer dat ek tot die pensioenfonds bygedra het nie. Hoe kan daar van my verwag word om ná 24 jaar 'n betaalstaat voor te lê? Die enigste bewys wat ek oor het, is 'n dienssertifikaat wat wys dat ek wel van 1987 tot 1992 daar gewerk het.
Ek sal dit baie waardeer indien jy my leiding kan gee in die saak. Is my bydraes, waarvoor ek baie hard gewerk het, nou verlore?
Antwoord:
My eerste vraag is waarom jy so lank geneem om die saak op te volg.
Tweedens is die vraag of jy seker is dat jy wel tot die pensioenfonds bygedra het. Voor 1996 was vrouewerknemers wat onder die hoofooreenkoms van Mibco geval het, nie verplig om tot die motornywerheid se pensioenfonds te behoort nie.
Voor dit het Mibco se administratiewe ooreenkoms (klousule 11) bepaal dat wanneer 'n werknemer langer as 23 uur per week werk, hulle net verplig was om tot Mibco se raadsheffing by te dra.
Die pensioenfondsooreenkoms vir motorwerkers is in 1996 verander en alle werknemers (mans en vroue) was eers van toe af verplig om tot die pensioenfonds by te dra indien hulle nie reeds vrywillig bygedra het nie.
Omdat jou besonderhede wel in Mibco se stelsel is, maar pensioenfondsbydraes nie aangeteken is nie, kan dit wees dat jy net tot die raadsheffing bygedra het en nie tot die pensioenfonds nie omdat dit nie destyds verpligtend was nie.
'n Werknemer sal dan aan Mibco bewyse, soos afskrifte van salarisstrokies, moet gee dat geld vir die pensioenfonds afgetrek is, maar nie aan Mibco oorbetaal is nie.
Mibco se administratiewe ooreenkoms (klousule 10) bepaal dat 'n werkgewer sy inligting net vir drie jaar moet hou. Dit sal dus nie vir Mibco moontlik wees om die werkgewer te dwing om boeke en bewyse voor te lê van so lank gelede nie. Die onus is dan op die werknemer om bewyse te gee.
Jy meld jou enigste bewys is 'n skrywe van die personeelbeampte dat jy van 1987 tot 1992 vir die maatskappy gewerk het. Dit is nie voldoende bewys dat jy ook tot die fonds bygedra het nie.
Jy sal moet kyk of jy dalk nog salarisstrokies of ander bewyse kan opspoor dat jou voormalige werkgewer wel die geld afgetrek het.
Soms is dit beter om te skik

Vraag:
Ek is op 6 April ontslaan, sonder 'n dissiplinêre verhoor. Ek het die saak aan die Kommissie vir Versoening, Bemiddelling en Arbitrasie (KVBA) voorgelê. My werkgewer het my in kennis gestel dat hy bereid is om die saak te skik en bied my ses maande se salaris aan. Is dit voldoende?
My arbitrasie vind binnekort plaas. Moet ek die skikking aanvaar?
Antwoord:
Dit is nie altyd moontlik om 'n spesifieke probleem of voorval te bespreek met so min feite en inligting ten opsigte van meriete en regverdigheid nie.
Onthou, jy het nie outomaties die reg op vergoeding bloot omdat jy 'n werknemer is wat ontslaan is nie.
Jou werkgewer het die reg om jou te ontslaan indien jy jou aan ernstige wangedrag skuldig maak en daar nie meer 'n vertrouensverhouding tussen werkgewer en werknemer kan wees nie.
Die belangrike punt hier is dat die dissiplinêre proses altyd substantief (daar moet voldoende rede vir ontslag wees) en prosedureel regverdig moet wees.
'n Werknemer se dienste mag nie net beëindig word sonder 'n verhoor en sonder dat sy kant aangehoor word nie.
Indien jy onskuldig is en jy sal dit kan bewys, is dit jou volste reg om op die maksimum vergoeding by die KVBA aan te dring. Die maksimum wat jy deur die KVBA kan kry, is 12 maande se vergoeding, maar dit word net in uitsonderlike gevalle toegestaan.
Verskeie faktore, soos jare diens en of die werkgewer prosedureel en substantief regverdig was, word in ag geneem.
Arbitrasie is 'n lang proses, wat beteken dat jy 'n hele dag of selfs langer by die KVBA sal moet deurbring.
Dit is ook 'n emosionele en stresvolle proses en daar is die risiko dat die KVBA minder as die ses maande wat jou werkgewer as skikkingsbedrag aangebied het, aan jou sal toestaan, selfs indien jy die saak wen.
Jy kan dan nie daarna gaan aandring op die skikkingsbedrag wat jou werkgewer aangebied het nie.
Dit is soms beter om 'n aangeleentheid of dispuut te skik en die saak af te handel sodat elke party met hul lewe kan voortgaan.
Soms is dit net nie die moeite werd om tyd en geld te bestee met die hoop om 'n maand ekstra se salaris te kry of te spaar nie.
Help huishulp só selfs ná jou dood

Vraag:
Hoe kan ek verseker dat my huiswerker by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) kan eis as ek sterf?
Ek is 80 jaar oud en my huiswerker is sedert 2013 in my diens. Ek betaal elke maand die bydraes tot werkloosheidsversekering vir haar oor aan die fonds.
Ek het alle bewyse dat sy geregistreer is en ook van al die betalings sodat sy sal kan eis wanneer ek te sterwe kom.
Help my asseblief met inligting wat ek alles in orde moet kry sodat sy nie skade ly by my dood nie.
Antwoord:
Jy het reeds meer as jou deel gedoen om jou huiswerker te registreer en die bydraes op datum te hou.
Jy kan wel net die nodige bewyse aan jou eksekuteur of naasbestaandes gee om seker te maak dat hulle ná jou dood die nodige vorms sal voltooi sodat jou huiswerker kan eis.
Ek hoop en vertrou jy sal nog lank die rubriek lees.























