’n Nuwe kode vir afdankings in die werkplek is deur minstens een vakverbond as ’n “verswakking van die beskerming van werkers” verwerp, terwyl die DA meen dit moet dadelik toegepas word.
Nomakhosazana Meth, minister van werkskepping en arbeid, het die Kode van Goeie Praktyk: Afdankings ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge (LRA) onlangs in die Staatskoerant gepubliseer.
Leiding word in die kode aan werkgewers, werknemers, vakbonde en mense wat dit afdwing, verskaf oor hoe om regsverpligtinge ten opsigte van ontslag weens wangedrag, ongeskiktheid en bedryfsvereistes toe te pas.
Ingevolge die wet is afdanking op drie gronde geregverdig – die optrede van die werknemer, die vermoë van die werknemer en die bedryfsvereistes van die werkgewer.
Premie op regverdigheid
“Die kode plaas ’n premie op regverdigheid, die doeltreffende bestuur van ’n werkgewer se onderneming en die spoedige oplossing van geskille.
“Terwyl werknemers beskerm moet word teen onregverdige optrede, is werkgewers geregtig op bevredigende optrede en werkprestasie deur hul werknemers. Die kode verander nie die regte en verpligtinge wat onder ’n kollektiewe ooreenkoms geskep is nie,” lui die kode.
Kleinsakeondernemings
Dit bied onder meer groter beskerming vir kleinsakeondernemings van wie nie redelikerwys verwag kan word om aan tydrowende ondersoeke en voor-afdankingsprosesse deel te neem terwyl die sakeonderneming aan die gang gehou moet word nie. Sulke ondernemings het – anders as groter maatskappye – nie mensehulpbronafdelings nie.
Proeftyd
Die kode maak ook voorsiening vir onbevredigende prestasie ná ’n werknemer se proeftyd. ’n Werknemer mag nie ná sy of haar proeftyd weens onbevredigende prestasie afgedank word nie tensy die werkgewer die werknemer van gepaste evaluering, instruksie, opleiding, leiding of berading voorsien het.
Afdanking mag plaasvind as ’n redelike tydperk vir verbetering gegun is en die werknemer voortgaan om onbevredigend te presteer. Die werkgewer moet die werknemer die geleentheid gee om voor afdanking op die beweerde onbevredigende prestasie te reageer.
Waarskuwing oor afdanking ‘nie altyd vereis’
Afhangend van die omstandighede, mag daar nie van die werkgewer vereis word om werknemers oor hul afdanking te waarsku indien hul prestasie nie verbeter nie.
“Dit mag die geval wees vir bestuurders en senior werknemers wie se kennis en ervaring hulle in staat stel om te oordeel of hul prestasie voldoende is, asook werknemers met ’n hoë graad van professionele kundigheid waar ’n afwyking van daardie hoë standaard ernstige gevolge inhou wat hul afdanking sal regverdig,” lui die kode.
Reaksie
Die vakverbond Saftu het die kode veroordeel en daarop gewys dat dit sonder parlementêre toesig, openbare vergaderings en strydig met voorleggings deur die vakverbond en 30 ander organisasies gepubliseer is. Dit is as die “verswakking van die beskerming van werkers” verwerp.
Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Saftu, het in ’n verklaring gesê die minister se besluit om die kode te publiseer “ondermyn demokrasie en vertrap die arbeidsregte” wat moeilik verwerf is. Saftu eis dat die publikasie onttrek word en die kode voor die parlement ter tafel gelê word en dat minstens 90 dae opsy gesit word vir openbare vergaderings insluitend formele parlementêre vergaderings.
Die DA meen egter die nuwe kode kan werkskepping aanmoedig.
Michael Bagraim, DA-LP, het aangedui die party is voornemens om toesigbesoeke by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) te doen om te verseker dat die nuwe kode in kleinsakeondernemings toegepas word.
Die departement van werkskepping en arbeid het volgens hom “niks” gedoen om die KVBA se kommissarisse van die nuwe reëls bewus te maak nie.
Om dit vir kleinsakeondernemings makliker te maak om meer mense in diens te neem is volgens Bagraim ’n “stap in die regte rigting”.
“Die nuwe kode sal dit makliker maak om mense in diens te neem omdat dit afdankings makliker maak. Die onredelike en onaanvaarbare las wat die arbeidsverhoudinge-reëls tot dusver op Suid-Afrikaanse sakeondernemings geplaas het, het hul gewilligheid en vermoë om werk te skep vir te lank vernietig.
“Kleinsakeondernemings moet die belangrike plek vir werkskepping in Suid-Afrika wees – hulle is verantwoordelik vir die helfte van alle formele indiensneming en 60% van die nuwe poste wat jaarliks geskep word. Om dit minder beswarend vir kleinsakeondernemings te maak om mense in diens te neem, sal meer werksgeleenthede vir Suid-Afrikaners ontsluit,” lui Bagraim se verklaring.












