Beroepe

Stygende getal afleggings wek kommer

Jy het nie die vinnigste internet nodig vir tuis werk en fliek kyk nie. Foto: Pixabay
Jy het nie die vinnigste internet nodig vir tuis werk en fliek kyk nie. Foto: Pixabay (pixabay)

Afgelegde werkers wat meen hulle is onbillik behandel in die afleggingsproses, maak verreweg die meeste van die rekordgetal arbeidsgeskille uit wat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) die afgelope finansiële jaar moes hanteer.

Volgens die KVBA se 2016-'17-jaarverslag het hy die afgelope boekjaar altesaam 188 449 verwysings gehad. Dit is 5% meer as die ­vorige jaar se 179 528 verwysings, oftewel gemiddeld 745 nuwe sake vir elke werkdag van die jaar.

Die KVBA sê die stygende werklas plaas druk op sy sakeprosesse en hou ook 'n risiko in vir doeltreffendheid.

Tog het die kommissie in die afgelope boekjaar gevalle van versoening binne 24 dae suksesvol afgehandel, terwyl die teiken in die wet 30 dae is.

Die jaarverslag toon onder meer dat kleinskaalse afleggings waarby die KVBA nie betrokke hoef te wees nie, nou veel meer is as grootskaalse afleggings.

In 'n arbeidsmark waar entrepre-neurskap aangemoedig word, is die stygende getal kleinskaalse afleggings rede tot kommer.

Die kommissie moet kragtens wetgewing volgens sekere kriteria betrek word wanneer werknemers wat meer as 50 mense in diens het, personeel wil besnoei. Die kriteria gaan oor die hoeveelheid werkers in diens, die omvang van die beplande afleggings en die tydperk waarin die afleggings beplan word.

Kleinskaalse afleggings het met 6,3% gestyg teenoor die vorige jaar met 7 235 verwysings in die 2016-'17-boekjaar.

"In 'n arbeidsmark waar entrepreneurskap aangemoedig word, is die stygende getal kleinskaalse afleggings rede tot kommer omdat dit by kleiner ondernemings gebeur en die KVBA eers by versoening betrokke raak nadat mense hul werk verloor het," sê die kommissie in sy jaarverslag.

Altesame 475 sake oor grootskaalse afleggings is ontvang, wat 'n daling van 9,9% is teenoor die vorige finansiële jaar.

Ondanks die feit dat dit afgeneem het, is dit stellig steeds te hoog in 'n ekonomie wat sukkel om werksgeleenthede te skep, lui die jaarverslag.

Van die sowat 50 000 werkers wat die afgelope jaar deur grootskaalse afleggings geraak is, het meer as 25 000 hul poste behou, sê die kommissie.

Die regering se opleiding-afleggingskema, wat geskep is om opleiding te bied aan werkers wat deur aflegging in die gesig gestaar word, het min sukses behaal omdat daar te veel implementeringsvennote is.

Dewald van Rensburg

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM