Beroepe

Taai tye noodsaak buigbare pakket

Die King IV-verslag bied groter deursigtigheid en vereis dat uitvoerende vergoeding as 'n enkele omvattende en totale bedrag genoem moet word.
Die King IV-verslag bied groter deursigtigheid en vereis dat uitvoerende vergoeding as 'n enkele omvattende en totale bedrag genoem moet word.

Wat kan gedoen word om werknemers beter te vergoed as hul werkgewer nie salarisverhogings kan bekostig nie?

Daar is vele maniere, maar baie werkgewers kry nie die meeste uit die strukturering van hul vergoedingspakkette nie, sê Tanya Tosen, belasting- en byvoordeelspesialis van Remuneration Consultants.

"Werknemers behoort toegelaat te word om hul vergoeding so te struktureer dat dit in hul persoonlike finansiële behoeftes voorsien.

"Gebeur dit nie, betaal die werkgewer vir voordele of toelaes wat die werknemers nie wil hê nie."

In moeilike ekonomiese tye kan werkgewers dikwels nie bekostig om salarisverhogings te gee nie. Dit raak ook moeilik om verhogings te gee wanneer werknemers afgelê word.

"Dan begin dit sin maak om na die strukturering van die totale vergoedingspakket te kyk en 'n kundige se hulp in te roep om buigsaamheid in die pakket in te bou."

Tosen sê die algemeenste items in 'n buigsame vergoedingspakket sluit in aftreefinansiering, groepslewensversekering, ongeskiktheidsversekering, inkomstebeskerming, begrafnisvoordele, reistoelaes, maatskappyvoertuie, mediesefondsbydraes en 'n 13de tjek.

"Wanneer werknemers dié voordele as deel van 'n buigsame pakket kan kies, kan 'n werkgewer ook help dat sy werknemers hul vergoeding maksimaal benut."

Dit skrik baie werkgewers af dat sulke keuses meer administratiewe rompslomp kan meebring, maar dit is in werklikheid nie so arbeidsintensief nie, veral nie indien die werkgewer in elk geval die werknemersvoordele en betaalrol administreer nie.

'n Appèlhofuitspraak in November 2015 het bevestig dat dit wettig is om vergoeding so te struktureer dat 'n sogenaamde "salaris-opoffering" toegelaat word, maar Tosen maan dat dit omsigtig gedoen moet word.

"Die appèlhof het dit baie duidelik gemaak dat dit verpligtend is om 'n ooreenkoms te sluit oor hoe die pakket gestruktureer word. Die korrekte dokument, insluitend beleid en 'n riglyn vir die strukturering is noodsaaklik, sodat daar geen dubbelsinnige interpretasie kan wees nie."

Wenke om vir salarisverhoging te vra

Dit is nooit 'n goeie idee om vir 'n salarisverhoging te smeek of dit te probeer afdwing nie, sê Nicolette Nicholson, direkteur van die South African Payroll Association.

Sy gee die volgende wenke:

  • Bepaal jou waarde. Dit is altyd beter om 'n verhoging te vra omdat jy waarde in die maatskappy skep eerder as om bloot meer geld te vra. Verduidelik wat jou bydrae tot die maatskappy is en gee bewyse daarvan.
  • Belê 'n vergadering. Moenie jou bestuurder in 'n lokval lei nie. Skeduleer eerder 'n vergadering en laat hulle weet dit gaan oor jou salaris, sodat hulle kans kry om voor te berei. Staan jou man as jy praat, maar moenie aanvallend raak nie.
  • Wees buigsaam. Soms is alternatiewe byvoordele pleks van 'n verhoging beter, soos om van die huis af te werk of jou werktye aan te pas of om jou kind kantoor toe te bring.
Vida Booysen

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM