Al is slegs 4% van Suid-Afrikaanse werkers bereid om ná Covid-19 voltyds terug te keer kantoor toe, mag base daarop aandring.

Michael Yeates, direkteur van indiensnemingsreg by Cliffe Dekker Hofmeyr, het aan Rapport gesê werknemers is uiteindelik onderhewig aan hul indiensnemingskontrak en base kan hul werkers dus dwing om weer vyf dae op kantoor te wees as hul kontrakte daarvoor voorsiening maak.
"Werkers kan weier om hieraan gehoor te gee as hulle meen die werksomgewing is onveilig omdat Covid-19-veiligheidsprotokolle nie nagekom word nie, maar hulle sal 'n amptelike proses moet volg om beswaar aan te teken."
'n Peiling van Momentum Corporate toon dat die helfte van maatskappybase wil hê hul werkers moet uiteindelik voltyds terug op kantoor te wees. 44% is ten gunste van 'n hibriede werkswyse ('n mengsel van tuis- en kantoorwerk) en net 5% is bereid om hul werkers voltyds van die huis af te laat werk.
'n Ander 'n peiling van Afriforte, 'n afdeling van die Noordwes-Universiteit se navorsingseenheid vir ekonomiese en bestuurswetenskappe, toon weer die helfte van Suid-Afrikaanse werkers wil ná die pandemie voortgaan om voltyds van die huis af te werk. 41% verkies 'n hibriede werkswyse en 4% wil voltyds terug op kantoor wees.
Waar 'n onversoenbaarheid is tussen wat werkgewers en werknemers wil hê, sê Dumo Mbethe, uitvoerende hoof van Momentum Corporate, kan onbuigsame werkgewers die gevaar loop om talentvolle werkers af te staan aan maatskappye wat wél buigsaam is.
Reuters berig Google wil sy werknemers wat permanent van die huis af wil werk se salarisse besnoei. Ook Facebook en Twitter betaal nou kleiner salarisse vir die werknemers wat van die huis af werk. 'n Google-werknemer wat daagliks twee uur pendel na die Seattle-kantoor, se salaris sou met 10% besnoei word as hy van die huis af sou werk. Die werker het uiteindelik besluit om maar weer voltyds op kantoor te werk.
Yeates sê 'n maatskappy kan aanvoer hy moes 'n rits ekstra veranderinge aanbring om tuiswerk moontlik te maak, soos om IT-stelsels te moderniseer en ekstra te beveilig. Werkers bestee ook in baie gevalle minder geld omdat hulle nie meer kantoor toe pendel nie en in sulke gevalle is 'n besnoeiing nie noodwendig onredelik nie.
Waar minder as 5% van Suid-Afrikaanse werkers geneë is om weer voltyds agter hul kantoorlessenaars in te skuif, blyk hul oorsese eweknieë uitgekuier te wees met 'n voltydse reëling om van die huis af te werk, toon die jongste Worker Preferences-barometer van JLL. Die peiling is onder 3 300 kantoorwerkers in tien lande gedoen, onder meer in Duitsland, Japan, die VSA, Brittanje en China.
Altesame 79% van oorsese werkers wil minstens een dag in die week op kantoor wees. Byna tweederdes wil die opsie hê om hibried te kan werk en wil nie kantoorgebonde wees nie. Net 37% van werkers sê hulle is meer produktief as hulle tuis werk - beduidend minder as verlede jaar se 48%.
Emma Luyt, mede- uitvoerende hoof van JLL in Afrika suid van die Sahara, sê al voel minder werkers hulle is produktief in 'n tuiswerksituasie, beteken dit nie hulle is noodwendig tevrede met hul opset by die werk nie. "Net 47% van werkers het aangedui hulle is gelukkig met hul kantore."
Sy meen estetika in die werkplek sal 'n belangrike rol speel om werkers terug te lok kantoor toe. "Kantore sal visueel interessante en gemaklike ruimtes moet wees as werkgewers wil hê dit moet weer die primêre werkplek wees."




















