
Werkgewers kan weer vir Mei aansoek doen vir Covid19Ters-voordele by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF).
Die WVF sê in 'n verklaring probleme met sy optiese vesel het sy planne in die wiele gery om aansoeke vroeër oop te stel.
Dié probleme is nou opgelos.
LEES OOK: WVF se vesel breek, aansoeke tans gestaak
Die WVF sê in die verklaring aansoeke wat voorheen in April ingedien is, en waarvan die besonderhede nié verander het nie, sal in Mei nou blitsig verwerk kan word.
Die volgende dokumentasie moet die aansoeke vergesel:
- Bewys dat die werkgewer Covid19Ters-voordeel wat eers aan die werkgewer betaal is, wel aan die werknemer oorbetaal is;
- 'n Brief van die bank waarin die werkgewer se rekeningbesonderhede bevestig word, of 'n bankstaat; en
- Getekende goedkeurings- of aanvaardingsbrief ontvang van die WVF vir betalings vir April tussen werkgewer en werknemer.
Die WVF beplan om vir Mei se betalings, die geld direk in werknemers se bankrekeninge te betaal, en nie deur die werkgewer nie.
Die WVF sê werkgewers kan steeds kies dat die geld eers aan hulle betaal word, maar dit sal vinniger by werknemers uitkom wanneer hulle die opsie kies dat die direkte betaling eerder gemaak moet word.




















