Geldsake

Moederstad se metro groet ‘onbetroubare’ Poskantoor

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Macassar-poskantoor.  Foto: Argief
Die Macassar-poskantoor. Foto: Argief

Met die Suid-Afrikaanse Poskantoor wat soms nie munisipale rekeninge afgelewer het nie, het die Kaapstad-munisipaliteit die besluit geneem om papierloos te werk te gaan en rekeninge voortaan slegs per e-pos te stuur.

"Ons kan eenvoudig nie meer op die Poskantoor staatmaak om pos af te lewer nie, nie eens af en toe nie," het Geordin Hill-Lewis, burgemeester, Maandag op Instagram gesê.

Die metro het verlede week bekend gemaak dat meer as 430 000 rekeninge reeds per e-pos gestuur word, en dat alle rekeninge voor 31 Desember vanjaar oorgeskakel moet word na e-pos.

"E-posrekeninge maak dit maklik vir rekeninghouers om tred te hou met hul rekeninge en die rekeninge te gebruik as bewys van adres," het Siseko Mbandezi, burgemeesterskomiteelid vir finansies, Donderdag in 'n verklaring gesê.

"Besparing aan drukwerk en posgeld dra ook by tot 'n meer volhoubare organisasie."

Byna 400 leë kantore

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor is in Julie 2023 in sakeredding geplaas.

Byna 400 persele wat voorheen as takke van die Poskantoor gebruik is, is deur die entiteit ontruim.

Die provinsies met die meeste leë poskantore is die Vrystaat en Noordwes (134), gevolg deur Limpopo, Mpumalanga en Tshwane (70), die Oos-Kaap (67), KwaZulu-Natal (43), die Wes- en Noord-Kaap (43) en die res van Gauteng (31).

LEES OOK | Poskantoor-sakeredding: Byna 400 takke staan leeg

Die departement van kommunikasie en digitale tegnologie se kommentaar oor die onbetroubaarheid van die Poskantoor en die skuif na digitale kommunikasie sal bygewerk word wanneer dit ontvang word.

Verander só na e-posrekeninge

Die Kaapstad-metro sê die proses is baie eenvoudig en 'n mens moet bloot 'n e-pos of SMS stuur om te vra vir jou rekeninge per e-pos:

• e-pos: revenue.eservices@capetown.gov.za

• SMS: 31223

Kliënte wat nie 'n e-posadres het nie, word versoek om die munisipaliteit se inbelsentrum te skakel by 0860 103 089.

Poskantoor reageer

Anoosh Rooplal, een van die sakeredders van die Poskantoor, sê die Poskantoor het sy uitdagings, wat die nodige sluiting van takke ingesluit het om die hoë kostes te verminder en die onderneming meer vaartbelyn te maak.

Hulle het egter binne streng beperkings gewerk om te verseker dat kliënte "nie te negatief" geraak word nie

Verder neem hulle kennis van Kaapstad-munisipaliteit se besluit om papierloos te gaan.

"Ons werk aan papierlose oplossings deur 'n digitale platform vir munisipaliteite en ander kliënte en sal dit beskikbaar stel aan alle kliënte wat papierlose oplossings verkies."

- stefani.terblanche@media24.com

Die berig is ná publikasie bygewerk toe die Poskantoor se sakeredders gereageer het.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM