Geldsake

Nico van Gijsen: Krap jou eie potjie

Nico van Gijsen
Nico van Gijsen

Ons heil lê in ons eie hande.

Dit is die slotsom waartoe ek en 'n paar vriende uit die ou dae nou die dag by 'n middagete-geselligheid gekom het.

Die probleme waarmee die land worstel, is net dit: probleme. Dit is nie die einde van die wêreld vir ons nie. Probleme kan uitgepluis word.

Probleem nommer een is na my mening reeds besig om sy agterbakse, korrupte alie te sien.

Maar kom ons hou dit finan­sieel, persoonlik finansieel.

As jy jou eie lot wil bepaal, wil verseker dat jou heil in jou hande is, moet jy finansieel onafhanklik wees. En dit kom neer op net een ding: Jy moet vir jouself welvaart skep.

As jy gelukkig genoeg is om 'n werk te hê, maak seker jy spaar baie en bou 'n neseier. Hoe meer, hoe beter. Onafhanklikheid is 'n spookwoord as jy nie die geld het om dit vol te hou nie.

As jy nie 'n werk het nie, of onseker is oor jou werk, of een van daardie groep is wat vroeë aftrede geneem het (en waarskynlik nou al spyt daaroor is), gaan jy 'n ander plan moet maak. Soos ons nou die dag in Rapport gesien het, is die werkloosheidsyfer gruwelik hoog. Wag vir werk gaan nie help nie. Kla ook nie.

Maak jy goeie biltong? Bak jy lekker koesisters? Daar is altyd geleenthede as jy net wil.

—  Nico van Gijsen

Begin jou eie saak. Dit is makliker as wat jy dink. Jy hoef net te begin werk en 'n prys op jou werk te plaas. Voordat jy jou oë uitvee, het jy 'n eie saak wat nie net brood op die tafel sit nie, maar waaruit jy ook vir jouself kan welvaart skep en dalk ook vir ander werk verskaf.

Ek meen nog altyd dat enigeen met 'n ambag nooit hoef bakhand te staan vir sy brood nie. Ek weet van baie motorwerktuigkundiges, elektrisiëns en so meer wat uit hul huis uit flink sake doen. Die ding is net jy moet deur jou omstandighede kan sien en kyk waar die geleenthede lê. Dis baie keer by die naaste bure.

Maak jy goeie biltong? Bak jy lekker koesisters? Daar is altyd geleenthede as jy net wil.

Nou die tegniese kant van 'n eie saak. Jy het nie nodig om 'n beslote korporasie (BK) of maatskappy te stig nie. Jy kan in jou eie naam begin werk.

Enigeen met 'n ambag of vaardigheid hoef nooit hoef bakhand te staan vir sy brood nie. Foto: Pixabay
Enigeen met 'n ambag of vaardigheid hoef nooit hoef bakhand te staan vir sy brood nie. Foto: Pixabay

In baie gevalle is dit nie net eenvoudiger nie, dit finansieel beter. Met 'n BK of maatskappy het jy die verpligtinge van 'n lid of direkteur ingevolge die Maatskappywet en jy moet rekenmeesters betaal om jou boeke te doen.

Maar bowenal is daar net twee maniere om geld uit die saak in jou sak te kry: Deur 'n salaris te trek, wat belasbaar is as inkomste, of om 'n dividend te verklaar, wat onderworpe is aan dividendbelasting nadat maatskappybelasting betaal is - dit is 42,4% belasting!

Jy betaal belasting in jou eie naam van enigiets tussen 18% en 45% marginaal en jy het alle aftrekkings wat jy in 'n BK of maatskappy sou hê. Die enigste vereiste is daar moet 'n direkte verband wees met die verdien van inkomste.

Munisipale ordonnansies kan jou dalk raak, maar dit is maklik om uit te vind wat en hoe. En as jy eers begin, onthou, goeie diens is nodig vir groei.

  • Nico van Gijsen, 'n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en 'n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur by Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
Nico van Gijsen, Raad met jou Rande

CTA