Belastingbetalers wat teen 20 Julie nie 'n outomatiese assessering van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ontvang het nie, het van nou tot 20 Oktober tyd om self hul belastingopgawes in te dien.
Sowat 5,8 miljoen belastingbetalers het vanjaar outomatiese assesserings ontvang, wat 16% meer is as verlede jaar se 5 miljoen.
Tot op datum is 99,6% van die outomatiese assesserings onveranderd gelaat deur belastingbetalers en R10,6 miljard is binne 72 uur aan belastingbetalers terugbetaal.
Die outomatiese assessering is waar die SAID inligting van derdepartye soos banke, werkgewers, pensioenfondse en mediese skemas gebruik om belastingbetalers se opgawes self in te vul.
Dit is gewoonlik mense wat nie ingewikkelde belastingsake het nie, byvoorbeeld mense wat slegs salarisse ontvang en geen ander inkomste verdien soos die verhuring van eiendom of 'n eie onderneming of vryskutwerk nie.
Digitale kanale lok miljoene
Volgens die SAID het meer as 2,1 miljoen belastingbetalers in vanjaar se belastingseisoen al via sy digitale kanale met hom geskakel.
Hiervan is 1,1 miljoen interaksies deur die SAID se aanlyn navraagstelsel hanteer, 707 000 deur WhatsApp en 290 000 deur die Lwazi-kletsbot.
Sedert 4 Julie was daar meer as 10,2 miljoen unieke gebruiker-interaksies deur eFiling of die SAID se slimfoon-app.

Voorlopige belastingbetalers
Belastingbetalers wat self hul opgawes moet invul en indien, het nou kans tot 20 Oktober, en mense wat voorlopige belastingbetalers is, het tyd tot 19 Januarie.
Voorlopige belastingbetalers is belastingbetalers wat nie slegs 'n salaris ontvang waarvan belasting outomaties namens hulle deur hul werkgewer afgetrek word nie, maar wat ook ander belasbare vergoeding of inkomste ontvang. Dit kan rente, huurinkomste, vryskutinkomste of enige ander inkomste wees.
Dié belastingbetalers word "voorlopig" genoem omdat hulle ook aan die einde van Augustus in die helfte van die belastingjaar en dan weer aan die einde van Februarie aan die einde van die belastingjaar 'n IRP6-vorm moet invul en voorlopige belastingbetalings aan die SAID kan maak.
Vir die meeste mense wat 'n belastingopgawe aanlyn indien, sal die uitslag van die assessering binne vyf sekondes uitgereik word as alles in orde is, volgens die SAID.
Pasop vir bedrog
Die SAID waarsku in 'n verklaring die naweek dat belastingbetalers uiters versigtig moet wees en hul persoonlike inligting vertroulik moet hou. Dit is weens die talle pogings van kubermisdadigers om bedrog te pleeg. Die SAID het bevestig hy sal nooit belastingbetalers vra om op enige aanlyn koppeling te klik om met hom te skakel nie.
Belastingbetalers moet hul eFiling-aanmeldbesonderhede beskerm en slegs geregistreerde belastingpraktisyns gebruik. Die SAID het inligting oor die jongste bedrogskemas op sy webblad - www.sars.gov.za.
Belastingbetalers kan pogings van uitvissing (phishing) aanmeld deur e-pos te stuur na phishing@sars.gov.za.
Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, het belastingbetalers aangemoedig om eerder die SAID se digitale kanale te gebruik as om in toue by sy takke te staan en wag.
Die kanale sluit in:
• Sy webblad by www.sars.gov.za;
• Die aanlyn navraagstelsel: https://tools.sars.gov.za/soqs;
• Die SAID se WhatsApp-nommer 0800 117 277;
• Die SAID-kletsbot is op sy webblad beskikbaar om navrae te antwoord;
• Die nommer *134*7277# kan geskakel word om toegang te kry tot die SAID se dienste; en
• Video's op die SAID se kanaal op YouTube verduidelik verskeie aspekte van belasting - @sarstax.





















