Kleinsake

Ál minder mense begin eie besigheid

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die getal Suid-Afrikaners wat hul eie ondernemings begin, het dramaties gedaal sedert 2019, toon syfers van die 2023 Global Entrepreneurship Monitor wat pas bekend gemaak is.

Die verslag bekyk entrepreneurskap in 120 lande.

Collins Soko, 'n entrepreneur, by sy fabriek in Rosslyn, Pretoria, waar verpakking en bekleedsel vir die motorbedryf vervaardig word.
Collins Soko, 'n entrepreneur, by sy fabriek in Rosslyn, Pretoria, waar verpakking en bekleedsel vir die motorbedryf vervaardig word.

Dit toon dat die persentasie van Suid-Afrikaners wat in die vorige 42 maande hul eie ondernemings op die been gebring het, gedaal het van 11% in 2019 tot 8,5% in 2023.

Waar 3,5% van Suid-Afrikaanse volwassenes in 2019 hul eie ondernemings bedryf het, het dié syfer in 2023 gedaal tot 1,8%.

En terwyl 20% van mense tussen 16 en 64 tydens die Covid-19-pandemie beplan het om ondernemings te begin, sien net 10% nou daarvoor kans.

In die verslag word 13 maatstawwe uitgestippel vir 'n gunstige entrepreneursomgewing - hoe hoër die punt, hoe beter is die saketoestande. Suid-Afrikaanse entrepreneurs het nie vir een van die maatstawwe 'n punt van hoër as vyf uit tien gegee nie. Van die maatstawwe sluit in maklike toegang tot finansiering (3,7), regeringsondersteuning (4,1), belastingaansporings- en -verligting (4,7), en fisieke infrastruktuur (4,8). Dit beteken entrepreneurs beskou die toestande vir sake doen in Suid-Afrika as betreurenswaardig.

Die Suid-Afrikaanse deel van die verslag is saamgestel deur Angus Bowmaker-Falconer (van die Stellenbosch-sakeskool), Natanya Meyer (medeprofessor in entrepreneurskap aan die Universiteit van Johannesburg) en Mahsa Samsami van die Universiteit van Agder in Noorweë.

Entrepreneurs met wie Rapport gepraat het, vertel van 'n uiters moeilike sakeomgewing weens beurtkrag, die logistieke nagmerrie by hawens wat in- en uitvoer vertraag, uitdagings om finansiering te bekom en 'n gesukkel om nuwe markte te betree.

"Ek sukkel om nuwe kliënte te kry, want daar is hierdie vooropgestelde idee dat ek nie die werk kan doen nie.

Collins Soko, 'n entrepreneur van Pretoria wie se onderneming verpakking en bekleedsel vir die motorbedryf vervaardig, sê hy kan wel werk wanneer daar beurtkrag is, maar sy verskaffers kan nie die produkte wat hy nodig het betyds lewer nie.

Sy onderneming is op dieselfde perseel as die BMW-aanleg in Ross­lyn in Pretoria en hy het daarom ononderbroke kragvoorsiening. "Maar my verskaffers is nie so gelukkig nie. Wanneer hulle goed laat by my aankom, moet ons oortyd werk as ons betyds wil lewer."

Soko sê hy het in 2023 maklik R300 000 ekstra betaal aan oortyd vir sy werkers - 'n aardige bedrag vir 'n begin-onderneming.

Benewens beurtkrag vind Soko dat baie gevestigde ondernemings hom nie 'n kans wil gee om homself te bewys nie. "Ek sukkel om nuwe kliënte te kry, want daar is hierdie vooropgestelde idee dat ek nie die werk kan doen nie. As ek tender vir 'n projek van R65 000 kry ek dit dalk nog, maar vir projekte van R1 miljoen en meer staan ek nie 'n kans nie," sê hy.

Dit is baie duur om alternatiewe energie-opwekking gereed te kry

Linda de Vries, mede-eienaar van OREMOB, 'n onderneming in Stikland, Kaapstad, wat elektriese bromponies bou, sê weens die knelpunte by hawens wag hulle soms maande vir onderdele wat ingevoer word. "Ons moet vooraf betaal vir ons bestellings. En wat 'n maand sou duur, vat nou sommer twee maande of langer. Dit gooi al ons beplanning omver."

Beurtkrag beduiwel ook hul onderneming wanneer hulle nie kan vervaardig nie of nie internet het nie. "Dit is baie duur om alternatiewe energie-opwekking gereed te kry. En natuurlik - wat maak jy by herlaaipunte (vir elektriese bromponies) as die krag af is?"

De Vries sê sy en haar man, Lester, is ontnugter, want van regeringshulp is daar nie sprake nie. Finansiering gaan na klein eenmansake wat nie die vermoë het om werk te skep nie en dis dikwels baantjies vir boeties. "Ons is 'n span van hoogs vaardige mense wat internskappe kan bied aan jongmense en hulle kan help om weer hul eie ondernemings te begin. Maar vir ons is daar nie hulp nie."

Bowmaker-Falconer sê Suid-Afrika se swak ekonomie en ongunstige sakeomgewing veroorsaak dat entrepreneurs nie hul volle potensiaal kan bereik en kan bydra tot werkskepping en ekonomiese groei nie. In 2019 het drie uit tien eienaars van sakeondernemings nog gesê hulle hoop om 'n ekstra ses mense oor 'n vyfjaartydperk in diens te neem. Dit het nou gedaal tot twee uit tien.

Entrepreneurs is van die belangrikste werkskeppers in Suid-Afrika - 'n land waar sowat 60% van die 1 miljoen jeugdiges wat jaarliks tot die arbeidsmag toetree waarskynlik lank sonder werk sal wees, of nie verder sal studeer of 'n vorm van opleiding ondergaan nie, sê die Harambee Youth Employment Accelerator, wat werklose jongmense en moontlike werkgewers met mekaar in kontak bring.

Harambee se jongste verslag oor werkloosheid wys hoe langer Suid-Afrikaners sukkel om werk te kry, hoe moeiliker raak dit. As jy nie werk kry voor jy 30 jaar oud is nie, raak die kanse al hoe skraler om 'n aanstelling te kry.

Elsje Wilken van Delicious Delights in Klerksdorp. Sy bak en versier alles self.
Elsje Wilken van Delicious Delights in Klerksdorp. Sy bak en versier alles self.

'Moenie te vroeg te veel aanpak nie'

Ten spyte van moeilike omstan­dighede vir entrepreneurs is daar suksesverhale, soos dié van Elsje Wilken (35) van Klerksdorp. Sy het sewe jaar gelede haar eie onderneming begin nadat sy aan 'n hotelskool studeer en vir 'n paar jaar in koffiewinkels gewerk het.

Sy het letterlik met een konveksie-oond en 'n kaaskoek begin. Met die lekkerny is sy na verskeie koffiewinkels om die bestuurders te laat proe en so het Delicious Delights begin.

Wilken voorsien nou aan verskeie koffiewinkels en 'n supermark in die dorp. Sy neem bestellings en verkoop ook van haar produkte by markte. Een deli verkoop gemiddeld vier van Delicious Delights se koeke per week. Ná sewe jaar is van haar eerste kliënte steeds by haar.

Wilken bak en versier alles self. Haar onderneming het intussen so gegroei dat sy nog drie oonde gekoop het en haar kombuis beter ingerig het.

Sy sê haar kaaskoek en sjokoladekoek is gunstelinge. Sy probeer elke twee weke nuwe smake en resepte en die jongste toevoeging is 'n lamington-sjokoladekoek wat baie gewild is.

Een van haar eerste bestellings was klein fudge-stukkies in ster-, blom- en hart-vorms wat sy vir 'n troue met 80 gaste gemaak het. "Dit was nogal harde werk."

Wilken se raad aan entrepreneurs is om klein te begin en nie te vinnig te veel hooi op jou vurk te laai nie. Sy laat haar ook nie deur beurtkrag onderkry nie. Dit is baie ontwrigtend en sy moet maar bak wanneer die krag aan is - ongeag watter tyd van die dag of aand. Wanneer beurtkrag kom, versier sy die koeke.

Liesl Peyper en Riana de Lange

CTA