
'n Paar jaar gelede het Faffa Venter, die grootste verskaffer van druiwepit-olie in die land, oornag opgeskeep gesit met hope oliekoek-reste.
Dit is wat oorbly nadat die olie uit die pitte gepars is, en die stortingsterrein het dié afvalmateriaal begin weier weens die brandgevaar wat dit inhou.
Venter, van die Strand in die Wes-Kaap, is dikbek daar weg. Besorg oor wat hy met al die afvalmateriaal gaan doen, sit hy daardie aand in die pub en gooi toe sommer een van die druiwepit-oliekoeke in die kaggel om te sien of die goed werklik kan brand.
"Daai man by die stortingsterrein was reg. Die vlamme het die potensiaal gewys en ek het dadelik dollar-tekens gesien."
Vandag, byna 15 jaar later, verwerk sy maatskappy, Eco Fire & BBQ, sowat 1 200 ton druiwepitte per seisoen in ekovriendelike Logettes, 'n natuurlike alternatief vir houtskool en hout as brandmiddel.
Volgens Venter tel diensverskaffers tot 1 miljoen ton moes (stingels, doppe en pitte van die druiwe wat vir wynmaak geoes word) per seisoen by wynkelders op. Volgens Venter kan van dié afval as kompos gebruik word as dit reg behandel word om die suur te neutraliseer, maar baie beland iewers as afval.
Die pars van druiwepitte vir olie aan die skoonheids- en gesondheidsbedryf vir gebruik in onder meer sjampoes en velsorgmiddels is steeds 'n belangrike deel van die besigheid.
Die familie-onderneming waarby Venter se vrou, Annelise, en twee kinders, Jozua en Davine, ook betrokke is, het nie sommer van die eerste dag vlamgevat nie.

"Die masjien wat ek in 2011 uit China ingevoer het om die pitte in Logettes te pars, het presies 13 sekondes gewerk voordat dit gebreek het."
Hy en sy ingenieurs het vasgestel dié masjien word gebruik om bamboes, wat baie sagter as druiwepitte is, te pars. Hulle het wel die beginsels van die masjien gebruik en dit "ver-Suid-Afrikaans" om die harde druiwepit-werk te kan doen.
Hulle meng ook amandel- en makadamia-doppe met die druiwepitte vir Logettes, want boere weet dikwels nie hoe om van dié afval ontslae te raak nie.
Die amandel-afval kom van die Wes-Kaap, maar makadamia-afval van Limpopo. Dit maak dus nie 'n groot deel van die mengsel uit nie, want die vervoerkoste is te hoog om meer daarvan tot by die fabriek te bring.
In 2022 het die vraag na olies so gegroei dat hulle al hoe meer druiwepit-oliekoeke gehad het. Daardie jaar het hy 42 vraghouers met Logettes na Europa uitgevoer, maar dit later gestaak weens die wisselvalligheid van die rand, sê Venter.
Die produk is 100% natuurlik en geen chemiese stowwe of bindmiddels word bygevoeg nie. Daar bly altyd bietjie olie in die druiwepitte oor met die koue uitpars-metode en dié olie dien as bindmiddel wanneer die Logettes saamgepers word.
Geen plantegroei word verwyder of beskadig vir dié materiaal wat vir Logettes gebruik word nie, sê Venter. Dit is dus heeltemal anders as met hout vir kaggelvure of houtskool vir Suid-Afrikaners se geliefde braai.
Logettes spog ook met die internasionale Green Tag-sertifisering. Dit word toegeken aan produkte wat aan die hoogste omgewingstandaarde van volhoubaarheid voldoen. Dit behels ook dat die produk jaarliks geoudit word.
Volgens Venter is Logettes ideaal vir vleisbraaivure, ketelbraaiers, kaggels en selfs pizza-oonde. 'n Baie groot deel van hul mark is Wes-Kapenaars wat dit in die winter in hul kaggels gebruik omdat die produk soveel hitte vrystel.
Indien daar te veel oliekoek-reste is vir die vraag na Logettes word dit vir beesvoer gebruik.
Venter het onlangs sy voertuig se bagasiebak vol gelaai en moontlike afsetpunte in Gauteng besoek. Dit sal dus binnekort meer geredelik in Gauteng beskikbaar wees.












