Haar ma was haar grootste inspirasie en die dryfveer agter haar sukses.
Daarom het Thandie Dowery (37) selfs haar onderneming, Nomi Handmade, na haar ma, Nomgcobo, vernoem.
Tien jaar ná Nomgcobo se dood gaan Dowery se juwelierswareonderneming van krag tot krag, ondanks die uitdagings van die Covid-19-pandemie.
Dowery, wat 'n graad in media- en rolprentstudie aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het, het in 2015 die korporatiewe wêreld vaarwel toegeroep om haar eie onderneming van die grond af te begin.
Sy het 'n ou naaimasjien gaan afstof en oorskot- shweshwe-materiaal aanmekaar begin stik.
"Ek wou aanvanklik 'n kwilt maak, maar ek het ná 20 blokkies die handdoek ingegooi, want dit was vir my te veel werk," sê sy laggend.
"Ek wou iets met die oorskotmateriaal maak, maar ek trek baie eenvoudig aan. Toe dink ek, hoekom maak ek nie bykomstighede nie," onthou Dowery.

Sy het in 2014 die mark vir haar produkte op 'n klein markie begin uittoets, "en ek het byna alles uitverkoop".
In 2015 het sy haar onderneming geregistreer en kort daarna ook met werkswinkels begin waar ander kan leer om kreatief te wees en juweliersware te maak.
Sy maak tans armbande, oorbelle en hangertjies wat enigiets van R120 tot R550 per item kos.
Haar beste verkoper is haar hangertjies, wat R180 kos.
Die werkswinkels en haar verkope op die Kamers-markte het vinnig haar twee grootste bronne van inkomste geword.
Kort voor die Covid-19 pandemie het Dowery beplan om by 'n vriend in Duitsland te gaan kuier. Sy het transkripsiewerk begin doen om sakgeld te verdien vir haar reis.
Daar is weens die pandemie geen markte gehou nie en toe sy ook nie meer werkswinkels kon aanbied nie, het die geld van die transkripsiewerk haar aan die lewe gehou.
Dowery, wat in Kaapstad woon, is nou weer besig om haar onderneming op te bou en sê sy het groot planne vir die toekoms. Sy hoop om gou haar eie ateljee in Johannesburg oop te maak en haar unieke juweliersware na die buiteland uit te voer.
Multikulturele benadering
Dowery se ma het in Suid-Afrika as 'n huiswerker gewerk toe haar werkgewer haar talente raakgesien het en aangebied het om vir haar studie te betaal.
Deur harde werk het haar ma eindelik die hoof van die kinderafdeling van die New Yorkse departement van gesondheid geword.
Haar ma is met 'n Amerikaner getroud en Dowery is in New York gebore.
Toe sy 13 jaar oud was het hulle na Durban verhuis en Dowery het ná skool in die Kaap gaan studeer.
Sy sê die Joodse gemeenskap het haar ma in Amerika ingeneem en haar ma het die Joodse geloof aangeneem.
Daarom het sy haar onderneming na haar ma se bynaam, Nomi, genoem. Nomgcobo beteken "geluk" in Xhosa.
Haar onderneming was al vier jaar aan die gang toe sy besef het die woord "nomi" word in Hebreeus ook gebruik om "skoonheid" te beskryf.
"Dit maak my gelukkig dat ek 'n multikulturele benadering het, juis omdat Suid-Afrika so 'n kosbare reënboogland is. Dit is my droom om geluk en skoonheid oraloor te versprei," sê Dowery.



















