Kleinsakeondernemings kan nog tot 9 Junie aansoek doen vir die GrandWest-ontwikkelingsprogram vir beginnerondernemings en verskaffers, ook bekend as ESD.
Die program om kleinsakeondernemings te help om op die been te kom, behels mentorskap en die deel van kennis, sowel as lenings en toelaes wat die applikante oor 'n ooreengekome tydperk kan terugbetaal.
Volgens 'n verklaring van die GrandWest Casino and Entertainment World in Kaapstad het sy besteding op sy ESD-program vir 2022 R1,4 miljoen kontant ingesluit wat bestee is aan sakeopleiding en lenings ter waarde van R13,6 miljoen is toegestaan.
Die ESD is in 2014 bekend gestel en in 2018 formeel gevestig as 'n sakeonderneming-inkubasieprogram. Sedert 2014 het die program meer as 30 sakeondernemings in gemeenskappe ondersteun van wie talle verskaffers geword het. Sedert 2018 het die program meer as R17 miljoen aan lenings en byna R6 miljoen aan toelaes bestee.
Volgens die verklaring word aansoeke nagegaan deur 'n komitee wat bestaan uit alle departementshoofde van GrandWest. Suksesvolle applikante moet instem om vir drie jaar lank aan die program deel te neem waartydens hulle mentorskap ontvang om hul ondernemings te laat groei.
In die eerste jaar word besigheidseienaars onder meer geleer van finansiële bestuur, menslikehulpbronne- vaardighede en rekeningkunde. In die tweede jaar gee drie mentors en konsultante meer diepte-opleiding in vakke wat elke besigheidseienaar vir sy spesifieke onderneming nodig het. In die drie jaar kry die deelnemers ook algemene raad oor kwessies soos sekuriteit, gesondheid en veiligheid.
Vorige applikante het onder meer dekorbeplanners, verspreiders van kos en drank, bouers, loodgieters en elektrisiëns ingesluit.
Die kriteria sluit in dat dit 'n geregistreerde sakeonderneming moet wees wat reeds twee jaar bestaan, met 51% bemagtiging, asook redelike sakevernuf in die spesifieke veld.
Applikante moet 'n besigheidsvoorstel indien wat 'n finansiële vooruitskouing insluit, sowel as verskeie amptelike dokumentasie soos besigheidsregistrasiedokumente, 'n belastingklaringsertifikaat, 'n B-BBEE-sertifikaat, sowel as 'n minimum van twee jaar se geouditeerde finansiële state.
Die aansoeke kan by GrandWest besorg word of kontak Chrissy Dyers by 021 505 7593 of per e-pos by Chrissy.dyers@suninternational.com.










