Kleinsake

Meer beurtkrag, minder koopkrag lê kleinsake lam

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Thando Makhubu, eienaar van die Soweto Creamery. Foto: Melinda Stuurman
Thando Makhubu, eienaar van die Soweto Creamery. Foto: Melinda Stuurman

Klein sakeondernemings is almal in dieselfde posisie: Beurtkrag vreet 'n reusegat in hul wins en verbruikers se besteebare inkomste word al hoe minder.

Die sakewêreld vier op 10 Mei Nasionale Kleinsakedag, maar kleinsakeondernemings is onseker oor die toekoms.

Thando Makhubu, eienaar van die roomyswinkel Soweto Creamery, sê hy sukkel om kop bo water te hou.

LEES OOK | KYK | Entrepreneur vertel hoe hy onderneming met Covid-toelaes begin het

Makhubu het in 2021 in 'n kragopwekker belê om sy roomys tydens beurtkrag gevries te hou, maar dit kos hom nou tot R400 'n dag om die kragopwekker aan die gang te hou.

Die afgelope week het sy klantebasis met 60% gedaal en Makhubu vrees as hoër fases van beurtkrag ingestel word, gaan dit selfs verder verminder.

"Die meeste mense neem net aan ons is toe as daar beurtkrag is. Dis dan net die gereelde kopers wat bel om seker te maak ons is wel oop.

"Roomys word ook 'n luuksheid en mense begin al hoe minder geld aan luukshede bestee," sê Makhubu.

Hy is onseker oor die toekoms en is bang dat daar weer onluste gaan uitbreek soos in 2021.

Die span van JK Hair Nails and Beauty. Van links is Chanté van der Westhuizen, Jeanté Matthews, Stormleigh van Jaarsveldt en Charlene Richards. Foto: Verskaf
Die span van JK Hair Nails and Beauty. Van links is Chanté van der Westhuizen, Jeanté Matthews, Stormleigh van Jaarsveldt en Charlene Richards. Foto: Verskaf

Jeanté Matthews, eienaar van die skoonheidsalon JK Hair Nails and Beauty in Lambton aan die Oos-Rand, sê sy voel kleinsake-eienaars moet passievol wees oor dit wat hulle doen, want hul wins is besig om stadig te krimp.

Matthews het drie ander skoonheidskundiges wat ook in haar salon werk en saam bestee hulle sowat R240 per dag aan brandstof vir die kragopwekker.

"Soms is dit nie eens die moeite werd om dit aan te sit nie, want ons bestee meer aan brandstof as wat ons van die klant af kry.

"Klante se besteebare inkomste word ook al hoe minder en hulle wil nie meer geld betaal nie, maar hulle wil ook nie hê jy moet hul afsprake skuif sodat dit nie tydens beurtkrag is nie," sê Matthews.

Veiligheid is nog iets wat dié eienaar warm onder kraag het en sy meen sy moet al hoe meer opdok uit vrees vir diefstal of plundery.

Seugne van Biljon van Elysian Creative Design. Foto: Verskaf
Seugne van Biljon van Elysian Creative Design. Foto: Verskaf

Seugne van Biljon, eienaar van Elysian Creative Designs in Pretoria, stem met Matthews saam dat klante nou minder besteebare inkomste het en nie meer geld vir die produkte of dienste wil betaal nie.

"Ek kry baie navrae, maar as ek vir mense 'n kwotasie stuur, kom hulle nooit na my toe terug nie en ek is reeds die goedkoopste in dié gebied," sê Van Biljon wat onder meer drukwerk op T-hemde en babaklere doen.

Sy werk met masjiene wat te sterk is vir rugsteunkrag en moet dus haar werkdag om die beurtkrag-skedule beplan.

Lee Anderson en Iris McCallum, eienaars van The Green Bean Coffee Roastery in Krugerdorp en die Green Bean-koffiewinkel. Foto: Verskaf
Lee Anderson en Iris McCallum, eienaars van The Green Bean Coffee Roastery in Krugerdorp en die Green Bean-koffiewinkel. Foto: Verskaf

'n Gebrek aan besteebare inkomste blyk 'n probleem te wees vir alle ondernemings wat nie noodsaaklike produkte verkoop nie, sê Lee Anderson.

Anderson en haar vennoot, Iris McCallum, besit die The Green Bean Coffee Roastery in Krugerdorp en die Green Bean-koffiewinkel in Boskruin, Randburg.

Om koffiebone te rooster is kragintensief en Anderson sê die perseel waar hulle huur, het slegs van Woensdae tot Sondae kragopwekkers.

Die koffiewinkel deel sy kragopwekker met nog 'n winkel in die sentrum, maar Anderson sê die kragopwekker kos 30% meer as Eskom-krag.

Verder sê sy dat hulle hard moes werk om die koffiewinkel te bemark om meer voete te lok.

"Voor die pandemie het mense een maal 'n week uitgegaan vir koffie, maar nou voel dit mense gaan net een maal per maand uit vir koffie," sê Anderson.

Al die ondernemings is dit eens dat die toekoms onseker is en dat jy baie hard moet werk om jou markaandeel te behou.

CTA