Kleinsake

SA se 1ste Walmart dalk in dié Jhb-sentrum

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Walmart het Suid-Afrikaanse verbruikers se belangstelling geprikkel met dié foto van sy winkel in die Fourways Mall. Dit is egter nog onbekend of dit die eerste een in Suid-Afrika gaan wees.  
Walmart het Suid-Afrikaanse verbruikers se belangstelling geprikkel met dié foto van sy winkel in die Fourways Mall. Dit is egter nog onbekend of dit die eerste een in Suid-Afrika gaan wees.   (Foto: X/Massmart)

Dit gons tans oor die Amerikaanse kleinhandelreus Walmart wat vandeesweek ’n foto op X geplaas het van sy eerste Suid-Afrikaanse winkel.

Die maatskappy, wat in 2022 Suid-Afrika se Massmart gekoop en gedenoteer het van die JSE, het verlede maand amptelik bevestig hy gaan “teen die einde van die jaar” onder sy eie handelsnaam bedrywighede op plaaslike bodem begin.

Massmart besit onder meer Makro, Game en Builders.

Walmart se plasing toon die winkel wat nou sy handelsmerk gaan dra, is ’n voormalige Game-winkel in die Fourways Mall in Johannesburg.

Maar die maatskappy wou nie bevestig of dié winkel inderdaad die eerste in Suid-Afrika gaan wees nie.

Dit lei tot bespiegelings dat Walmart moontlik verskeie winkels in die komende weke wil oopmaak, spesifiek in Sandton, waar Massmart se hoofkantoor gesetel is.

Kathryn McLay, Walmart Internasionaal se president en uitvoerende hoof, het voorheen gesê die kleinhandelaar gaan nie ’n oorvloed Amerikaanse produkte in sy winkels bied nie en prioritiseer plaaslike verskaffers.

Daardie strategie maak ook sin gegewe dat Walmart sy vername “Every Day Low Prices”-sakemodel in die Suid-Afrikaanse mark wil toepas.

Markontleders is egter diplomaties oor Walmart se toetrede tot die plaaslike mark en het voorheen uitgewys dat die handelsnaam waarskynlik onbekend vir die meerderheid Suid-Afrikaners sal wees.

Hy sal ook moet fyntrap dat daar nie verwarring met ’n bekende en bestaande handelsnaam soos Makro plaasvind nie.

Ontleders sê ook Walmart is moontlik besig om ’n model in Suid-Afrika te toets wat hy oor die res van Afrika kan toepas. Die vasteland het die vinnigs groeiende bevolking in die wêreld.

In Suid-Afrika sal Walmart wel moet kophou in ’n hoogs mededingende mark wat tans deur Shoprite oorheers word, en op die res van die vasteland kan hy teen klein afsetpunte te staan kom, wat tans beter geposisioneer is om kopers te lok omdat hulle gerieflik naby vervoerpunte en in afgeleë dorpe geleë is.

Walmart se welslae in Suid-Afrika sal waarskynlik ook daarvan afhang of hy pryssensitiewe verbruikers kan wen.

– heinz.schenk@24.com

heinz schenk en bloomberg

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM