Dis van hoog op in die Helderberg dat die rede vir Stellenbosch se unieke besondersheid as wynstreek gesien kan word, wys Jan Boland Coetzee die dag toe hy my teen die steiltes opgery het. Met die stop en uitklim beduie oom Jan na die pragtige wêreld daaronder, die blou van Valsbaai se kalm see en die berge wat regs loop en Stellenboschberg en Simonsberg word, met doer oorkant - rigting noordwes - die bulte van Bottelary, Stellenboschkloof en Polkadraai.
"Kyk hier," sê oom Jan, "die berge en heuwels maak van Stellenbosch se wynlande 'n amfiteater, met Valsbaai die verhoog. Jy moet blind wees om nie te kan sien dat hierdie mos wragtag spesiale terroir is vir wynmaak nie, of hoe? Invloed van die see, verskeie hellings met die invloede van son en wind. Dis magic, man, magic."

En ja, teen die Helderberg het geslagte - en nuwe - wynboere ware magie geskep, magie van die wynsoort. Wingerd is teen die steiltes geplant wat vandag sonder twyfel van Suid-Afrika se voorste wyne lewer. Dink aan Rust en Vrede, Uva Mira, Ernie Els en Taaibosch, om enkeles te noem.
Maar daar is een plaas teen Stellenbosch se Helderberg wat uitstaan in dat hy tereg gesien kan word as die pionier van dié streek, die amfiteater se hoofspeler. En daardie plaas se naam is Alto.
'n Eeu van gehalte
Min Suid-Afrikaanse wynliefhebbers, asook hul pa's en ma's (en hier en daar 'n grootouer ook) sou nie al iewers 'n bottel Alto-wyn raakgeloop het nie - veral die Alto Rouge. Nie net weens die konstante gehalte wat Alto lewer en sy alomteenwoordigheid in wynwinkels en restaurante nie, maar omdat die Alto Rouge-wyn al vir 100 jaar in die omtrek is.
Ja, later vanjaar wanneer die Alto Rouge-rooiversnit van die 2022-oesjaar gereed is vir die mark sal dié wyn die 100ste agtervolgende oesjaar van daardie spesifieke rooiversnit verteenwoordig. Uit ervaring het ek geleer om nie my kop op 'n blok te sit met stellings soos "eerste" en "enigste" nie, maar ek twyfel of enige ander Suid-Afrikaanse wynplaas 100 agtereenvolgende oesjare van een spesifieke wyn op sy kerfstok het.
Alto het wel 'n lang en tydsame draai deur die Suid-Afrikaanse wyngeskiedenis gemaak, maar aan die begin het dinge vinnig gebeur.

In 1919 het Manie Malan op sy pa se plaas, Alto, wingerde begin plant teen een van die Helderberg se steil hellings, van sowat 100 m tot 500 m bo seespieël. Die fokus was op rooi druifsoorte, met cabernet sauvignon, shiraz, cinsault en pinot noir as die hoofkultivars - die pinot noir sou nooit sy weg na die bottel vind nie en is mettertyd uitgetrek.
Malan was, vertel die geskiedenis, 'n uiters kundige wingerd- en wynman wat die konsep terroir verstaan het toe die meeste wynboere nie die verskil tussen terroir en terroris geken het nie.
Trouens, niemand anders nie as Abraham Izak Perold, die koning van Suid-Afrikaanse wingerdbou en die skepper van die pinotage-druifsoort, het Malan bygestaan met sy keuses van druifsoorte om te plant, en sommer self help gate grou.
Rouge word gebore
Malan was oënskynlik 'n haastige wynboer. Want drie jaar nadat die stokke in die harde berggrond van verweerde graniet gesteek is, was hy dan en daar lus om te pars en wyn te maak. Die idee was 'n spog-cabernet sauvignon, maar soos wat die Kaapse rooiwyne van daardie tyd bewys het, was cabernet sauvignon nie geskik vir onmiddellike genieting uit die wynglas nie - in die ou dae is jare in die bottel benodig om die variëteit se tannien glad te skuur en maklik drinkbaar te maak. Malan wou 'n wyn maak wat "nou" gedrink kan word, en besluit toe om die cabernet sauvignon te versny met shiraz en cinsault, sogenaamde "sagter" kultivars om die cabernet sauvignon se jeugdige rowwer rante mee af te plat.
Hierdie eerste Alto-wyn van die 1922-oesjaar verskyn toe in 1924 en wen sommer daardie jaar die trofee op die Kaapse Wynskou in die kategorie vir Beste Rooiwyn in die Boergondiese Styl. Diegene wat vandag se Boergondiese rooiwyne - gemaak van pinot noir - ken, mag wonder oor die Kaapse Wynskou se etikettering van wynstyle in sy klassifisering van cabernet sauvignon, cinsault en shiraz as "Boergondies". Maar 'n eeu of wat gelede was ware Boergondiese wyne oor die algemeen veel meer robuus as wat hul hedendaagse reputasie as elegant en verfynd toon.
Hierdie wynstyl wat Malan geskep het met sy versnit - wat van meet af aan Alto Rouge genoem is - het veroorsaak dat die wyn vir die paar jaar van sy bestaan glad nie in Suid-Afrika beskikbaar was nie. 'n Britse wynhandelaar van die Burgoyne-groep van wynwinkels en verspreiders het 'n monster van die Alto Rouge bekom en net daar besluit om al Malan se Alto Rouge in te voer vir die Verenigde Koninkryk. En aanvanklik is die wyn as 'n versnit in vate van Stellenbosch uitgevoer om daar anderkant in Brittanje gebotteleer te word.
Dis eers met die Alto Rouge se oes van 1933 dat die wyn uiteindelik in Suid-Afrika bekend sou word, en van meet af aan was dit een van die land se vroeë suksesvolle handelsmerke, 'n posisie wat hy myns insiens vandag nog verdien.
Aanpas vir verbetering
Hoewel die naam Alto Rouge behoue gebly het, het die komponente van sy versnit deur die jare verander.

Bertho van der Westhuizen, wat vandag Alto se wynmaker is, sê dié veranderings is gedryf deur die beskikbaarheid van kultivars wat na vore gekom het as druifsoorte wat van die Alto Rouge net 'n beter en beter wyn bly maak. "Cabernet sauvignon en shiraz vorm steeds deel van die Rouge," sê Van der Westhuizen, "maar cabernet franc, merlot en petit verdot het oor die afgelope paar dekades getoon dat hulle 'n ideale tuiste teen die Helderberg het. En as ons enigiets kan doen om die Alto Rouge se gehalte aanhou te verbeter, doen ons dit."
Sonder, natuurlik, om die waardes en styl van hierdie epiese wyn te komprimeer.
Hierdie het ek deur die jare leer ken as 'n wyn wat as "sonnig" beskou kan word, 'n volbloed, edel rooiwyn met forsheid en krag, maar met 'n soepel tannien-struktuur wat die geure met talmende vriendelikheid dra. Daar is vrug, donker en broeiend, asook die geur van fynbos en net so 'n titsel spesery om dinge nog meer vriendelik en prikkelend te maak.
En sonnig sal 'n gepaste woord wees. Volgens Van der Westhuizen kyk die wingerde noord, wat beteken dat hulle in die groeiseisoen en die periode van rypwording vir lang ure in die goue strale van die sakkende Kaapse middagson staan.
Maar soos oom Jan sou sê, oor hierdie amfiteater sak die son nooit nie.




















