Met die oesseisoen van rosyntjies wat nader kruip, het die bedryf sy geskatte oessyfers vir die 2024-'25-seisoen bekend gemaak.
Volgens Raisins SA, die bedryfsliggaam vir die rosynebedryf, kan die opkomende rosyne-oes selfs groter wees as verlede jaar s'n - mits die weer saamspeel.
Die oes van rosyne in die Suidelike Halfrond skop amptelik in Januarie 2025 af met piektye in Maart. Die oes kom in April na 'n einde se kant toe.
"Ons wingerde is in 'n uitstekende toestand en beloof 'n prominente oes.
"Ondanks 'n temperatuurwisseling in die lente het omstandighede gestabiliseer en is die vooruitsig vir 'n suksesvolle oes positief," lui die verklaring.
As daar na die seisoen van 2023-'24 gekyk word, was die finale inname 96 428 639,68 kg. Hierdie syfer het die oesskatting van 86 000 ton (bruto massa) met 12,13% oorskry.
Boonop was dit 'n baie goeie uitvoerjaar en volgens Raisins SA is die hele oes uitverkoop. Danksy die hoër oessyfers kon hulle meer lewer aan die mark wat 'n tekort gehad het weens die afname in Turkye se oes. Vanaf Januarie 2024 tot Oktober 2024 is 71 000 ton rosyne uitgevoer.
In die 2023-'24-seisoen was die hoogste inname in een week 14 400 ton in week 10 - die hoogste inleweringsyfer oor die afgelope vyf jaar vir een week.
Wat kan hierdie seisoen verwag word?Raisins SA skat die oes van 2024-'25 op 104 000 ton (bruto massa) waarvan 93 000 ton bemarkbare produk is.
Om hierdie skatting te laat realiseer sal daar egter goeie weersomstandighede tydens die uitdroogperiode van Januarie tot April moet wees.















