Landbou

Dié kelder van krag tot krag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Met slegs 14 lede en groot drome is Botha Kelder in 1949 as 'n koöperatiewe wynkelder gestig.

Vanjaar vier hulle 75 jaar sedert hierdie dag en wat 'n mylpaaljaar is dit nie.

Hierdie kelder het einde Oktober 'n groot saamtrek in die Paarl gehou en almal wat oor die jare betrokke was by die kelder het saam gaan vier.

Van personeel en direksielede tot verskaffers en selfs die enigste stigterslid van die kelder wat nog lewe, het die viering bygewoon.

Die hegte span agter Botha Kelder se sukses.
Die hegte span agter Botha Kelder se sukses.

Kelder vir gerief gestig

Petrus van Rensburg, voormalige voorsitter van Botha Kelder se direksie, vertel voor die stigting van die kelder was dit vir produsente aan hul kant van die berg 'n logistieke nagmerrie om druiwe te lewer.

"As jy by die KWV aangekom het met jou vrag druiwe, was jy soms sommer 475ste in die tou.

"Op dag twee het jy darem opbeweeg na 200ste in die tou en teen dag drie kon jy aflaai," sê hy. Dit was dus 'n natuurlike keuse om hierdie kelder aan die buitewyke van Worcester te stig - 'n plek nader aan die boere waar hulle vinniger hul druiwe kon lewer.

Op 8 Februarie 1949 is Botha Kelder amptelik as 'n koöperatiewe kelder geregistreer en 'n jaar daarna is die eerste parstyd aangepak - al was die bou van die kelder nog nie voltooi nie.

Selfs met die onvoltooide kelder het hulle 3 386 ton gepars.

'n Suksesvolle eerste pars ondanks moeilike omstandighede.

Al die lede en die direksie van Botha Kelder het in Oktober in die Paarl saamgetrek om hierdie kelder se 75ste bestaansjaar te vier. Foto's: VERSKAF
Al die lede en die direksie van Botha Kelder het in Oktober in die Paarl saamgetrek om hierdie kelder se 75ste bestaansjaar te vier. Foto's: VERSKAF

Rowwe begin

Van Rensburg sê dit was nie altyd net rosegeur en maneskyn met die stigting van die kelder nie.

"Daar was baie moeilike tye wat ons moes deurmaak. Jare lank was daar geen elektrisiteit in die kelder nie. Ons moes van gaslampe gebruik maak. Verder moes alles met die hand gedoen word."

Die oeste en gehalte van die druiwe was aan die begin ook nie baie goed nie en volgens hom het 1952 ook 'n terugslag gebring met 'n besonderse slegte oes.

Daar het egter 'n ommeswaai in 1954 gekom toe 'n baie goeie oes hul finansiële omstandig­hede verbeter het.

In 1956 het die kragnetwerk van Eskom uiteindelik tot by die kelder gestrek en nog 'n bietjie verligting gebring.

Teen 1961 het dit nóg beter gegaan en die jaar word aangedui as 'n "goeie finansiële jaar".

Nie net kon hulle al die skuld van die kelder afbetaal nie, maar daar was ook kleingeld oor wat vir opknappings in die kelder gebruik is.

Die eerste witwyn van die kelder is ook in daardie jaar bekend gestel.

75 is 'n goue jaar

Dit was nie net die verjaardag wat vanjaar vir Botha Kelder rede gegee het om te vier nie - hulle het ook 'n baie goeie jaar gehad met hul wyne.

Van Rensburg vertel dat die oes wel kleiner was, maar die gehalte van die druiwe was uitstekend. Hulle sien dus uit om te kyk hoe 2024 se wyne gaan presteer.

Twee van die kelder se wyne het ook baie goed gevaar in wynkompetisies. Die Nasionale Jongwynskou het die trofee vir die kampioen-versnitwyn aan Botha Kelder gegee vir sy gehoute rooi versnit gemaak van cabernet sauvignon, shiraz, merlot, pinotage, durif en ruby cabernet.

Botha was ook breëbors by die Michelangelo- internasionale wyn-en-spiritualieëkompetisie waar die Botha Late Bottled Vintage 2016 die kompetisie se trofee vir die beste dessertwyn verower het.

"Die kelder is meer leeg as wat dit die afgelope nege of 10 jaar was, so dit gaan baie goed met ons. "Op die volgende 75 jaar - ek glo die kelder sal nog lank sy rol vervul in die gemeenskap," sê Van Rensburg.

Spesiale wyn gemaak

Om hul 75ste verjaardag te vier, het Botha Kelder 'n spesiale wyn ook bekend gestel: die Koos Mosterdpotjie Soet Steen 2023.
Om hul 75ste verjaardag te vier, het Botha Kelder 'n spesiale wyn ook bekend gestel: die Koos Mosterdpotjie Soet Steen 2023.

Die span van Botha Kelder kon beslis nie hierdie mylpaal laat verbygaan sonder om 'n wyn te maak om dit te vier nie.

Die Koos Mosterdpotjie Soet Steen 2023 is onlangs uitgereik - 'n premium gefortifiseerde wyn wat van chenin blanc-druiwe gemaak is.

Hierdie wyn vertel volgens die span die storie van hul erfenis en passie en die wyn wys die uitmuntende gehalte van die omgewing se druiwe.

Die wyn is in hul proelokaal of aanlyn winkel beskikbaar.

Oorspronklike stigter kuier saam

Ernst Botha, die enigste oorlewende stigterslid van die kelder, het ook Botha Kelder se viering bygewoon. By hom is sy vrou, Marie.
Ernst Botha, die enigste oorlewende stigterslid van die kelder, het ook Botha Kelder se viering bygewoon. By hom is sy vrou, Marie.

'n Baie spesiale oomblik van Botha Kelder se 75ste viering was dat Ernst Botha, die enigste oorlewende stigterslid van die kelder, ook die geleentheid bygewoon het.

Hy vertel dat hy in 1947 matriek geskryf het en direk daarna plaas toe is. Kort daarna het hy gehelp om Botha Kelder te stig.

Skandeer hierdie QR-kode met jou foon en besoek Botha Kelder se webtuiste.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM