Die stoetery op die Oos-Kaapse melkplaas Milagro by Humansdorp gaan net van krag tot krag en palm links en regs pryse in vir hul topbeeste by skoue en kampioenskappe oor die land heen. Samantha van den Berg het met Andrew Masterson, boer en stoeteienaar, oor hul prestasies en die beesbedryf gesels.

1. Julle het weer uitstekend gevaar by die Simmentaler- en Angus-kampioenskappe. Baie geluk! Was dit lekker om weer in die ring te kon wees en hoe was die kompetisie?
Ja, dit was lekker om weer vir 'n slag te kon skou ná 'n afwesigheid van twee jaar weens die Covid-19-pandemie. Soos ons verwag het, was die kompetisie taai en die gehalte van die diere op al twee skoue uitstekend.
Die Nasionale Simmentaler-kampioenskappe is in April vanjaar in Lichtenburg gehou, waarna die Nasionale Angus-kampioenskappe in die eerste week van Augustus in Bloemfontein aangebied is.
- GEBORG: BKB
Dankie vir u ondersteuning! Besoek ons by www.bkb.co.za

2. Die afgelope twee jaar was uiters uitdagende jare in die land sowel as in die landboubedryf. Hoe sou jy sê sien die bedryf nou daaruit?
Die Covid-19-pandemie en die huidige bek-en-klouseer-uitbraak het dit baie uitdagend en moeilik gemaak, maar met alle uitdagings kom daar nuwe geleenthede.
Ons kan sien dat die publiek meer bewus is van waar produkte vandaan kom en wil gesonde produkte koop. Die toestande waaronder diere grootgemaak en hanteer word, word al hoe meer 'n faktor vir die publiek.
Ons produseer voedsel en die bevolking is aan die groei. Dit is duidelik dat die verbruiker meer kieskeurig is en gee minder om om méér vir 'n gehalteproduk te betaal.
Angus-beesvleis wat deur ons geproduseer word, val vir seker in hierdie gehaltekategorie, aangesien geen groeistimulante met afronding gevoer word nie.
Ons probeer ons produk in só 'n natuurlik as moontlike vorm aan die verbruiker verskaf.
3. Waarom sou jy sê is die angus-beesras een van die gesogste ter wêreld? Watter eienskappe dra hiertoe by?
Die angus-beesras is oor eeue heen geteel vir gehaltevleis. Die angus-ras is ook bekend as 'n poenskop-ras - die kalwers groei vinnig en hulle is klein met geboorte.
Daarbenewens is angus-koeie ook uitstekende moeders en hulle produseer genoeg melk.
4. Daar is 'n al groter vraag na angus-bulle. Wat is stoettelers se pligte en verantwoordelikhede in hierdie verband?
Angus-bulle is deesdae baie gesog omdat dit 'n ras is wat baie maklik in enige omstandighede aanpas. Die mees onlangse sukses van die Suid-Afrikaanse Angus Beef-program dra ook tot die groter vraag na angus-bulle by.
Stoettelers moet sorg dat funksionele, korrekte bulle met goeie groeivermoë aan kommersiële boere beskikbaar gestel word om die winsgewendheid van hul kuddes te verbeter.
Om naspeurbaarheid van die ras te verseker, moet alle geregistreerde angus-bulle DNA-toetsing ondergaan.
5. Wat maak jou opgewonde van die bedryf en wat bekommer jou tans?
Wat my opgewonde maak, is die geleenthede vir groei in die bees- en vleisbedryf.
Die groei kan toegeskryf word aan die gehalteprodukte - hetsy diere of vleis - wat aan die mark voorsien word.
Daar is altyd vraag na gehalteprodukte.
Dit is ook verblydend om op te merk dat daar tans jonger beesboere is wat in die angus-beesras belangstel en daarby betrokke raak.
Wat my tans bekommer, is die infrastruktuur in ons land soos paaie, elektrisiteit en biosekuriteit wat nie in stand gehou word nie, en dus voedselsekerheid in die weegskaal plaas.
6. Julle het al oor die jare vele welverdiende pryse ingepalm. Hoe lyk die pad vorentoe vir Milagro?
Ons word dikwels gevra hoekom ons skou en só ver ry vir skoue, en die antwoord is baie eenvoudig: Om jou diere in die regte kondisie te kry vir 'n skou is duur en om diere voor te berei en mak te maak is harde werk, maar die bemarkingsgeleenthede tydens skoue is van onskatbare waarde.
Ons is opgewonde om ons twee jongste stoeterye vir onderskeidelik charolais-beeste en hampshire down-skape blootstelling te gee in die skouring in die nabye toekoms.
Albei rasse kan groot bydraes lewer tot die kommersiële veebedryf in die land. Ons is baie opgewonde om betrokke te wees by albei hierdie rasse.
Ons doelstellings vir die volgende vyf tot tien jaar is om ons vleisbeesvertakking uit te brei, asook om ons skaapgetalle te vermeerder. Om winsgewende diere te produseer in 'n volhoubare omgewing is belangrik, en om sodoende 'n gehalteproduk aan die verbruiker te lewer.
Die kundige gebruik van natuurlike hulpbronne soos water en grond word al hoe belangriker en om saam met die natuur te boer is 'n uitdaging, maar suksesse in hierdie biologiese benadering is verrykend.
7. Wat sou jy sê is die sleutel(s) tot sukses in jul stoettelery?
Om die regte genetika te gebruik en streng te selekteer vir diere waarvan ons hou is belangrik.
Ons steur ons nie veel aan giere en tendense nie.
Ons diere moet funksioneel korrek, produktief en aanpasbaar wees. Akkurate rekordhouding en DNS-toetsing van al ons vleisbeeste (manlik en vroulik) is ononderhandelbaar en voeg baie waarde en geloofwaardigheid tot ons kudde toe.
Dit bied ons kliënte gemoedsrus en vertroue in ons produk.
8. As jy vir 'n ander jong stoetteler raad kon gee, wat sou dit wees?
Vir enige nuwe of jong teler en toetreder tot die beesbedryf is dit belangrik om te begin met die beste moontlike diere wat jy kan bekostig.
Begin eerder met minder diere, want jy kan nie gehalte prysgee nie. 'n Groot deel van ons kuddes se sukses lê in die gebruik van embrio-spoelings op uitgesoekte diere om sodoende die standaard van die diere op die plaas vinnig te verbeter.
Ons maak gebruik van die kundigheid van dr. Robert Treadwell en die Embrio Plus-span en ons resultate in samewerking met hulle is uitstaande.
- GEBORG: Embrio Plus
Baie geluk Andrew en Colette - EmbrioPlus en ALTA Genetics ZAistrotsom deel te wees van die Milagro-spanse genetiese program!
Gedurende die 30-plus jaar waarin ons by hierdie wenboerdery se teelprogramme betrokke kon wees, was daar baie suksesverhale maar 2022 se uitstekende skouprestasies is sekerlik 'n hoogtepunt.Die onlangse resultate van julle poenskop-Charolais-embrioprogram is fenomenaal, en net nog 'n bewys van wat bereik kan word met topbestuur en 'n passie vir diere soos wat Milagro het. Onsis baie opgewonde om te sien hoe hierdienuwe hoofstuk ontvou. Kalwers met sulke gehalte gaan definitief vorentoe nog die Milagro-naam hoog hou.

Vir die in-en uitvoere asook verkope van genetika,embrio-spoelings en IVF, sowel as semenkolleksies en verkope, kontak ons gerus. Ons afdeling vir kleinvee-reproduksie (spoelings, semenkolleksies en KI)is 'n opwindende nuwe toevoeging tot onsarsenaal - een wat ook reeds embrio-werk op perde insluit.
Leer meer oor die Embrio Plus/ALTA-span by www.embryoplus.com
- Milagro hou jaarliks 'n produksieveiling op die plaas waar topgehalte angus- en simmentaler-bulle en vroulike diere verkoop word, sowel as hampshire down-ramme en -ooie. Die veiling is 'n vertoonvenster van die boerdery se kudde. Vanjaar se veiling word op Saterdag 15 Oktober om 11:00 gehou.
O, die angus!
Milagro het die volgende pryse op die Nasionale Angus-kampioenskappe in Bloemfontein (2 tot 3 Augustus 2022) verower:
- Opperste kampioen - swart angus.
- Grootkampioen en juniorkampioen vroulike dier - swart angus.
- Reserwe-grootkampioen en senior kampioenbul - swart angus.
- Reserwe-junior kampioen vroulike dier (swart angus) en die wenner van die "Breeders Choice Jackpot".
- Reserwe-kalfkampioen vroulike dier - swart angus.
- Junior-kampioenbul - rooi angus.
- Reserwe-juniorkampioen vroulike dier - rooi angus.
- Superkoei - swart en rooi angus.
In syfers
Die stoetery op Milagro bestaan uit vyf geregistreerde beesrasse en een skaapras.
Die beesstoeterye is onderskeidelik angus, charolais, holstein, jersey en simmentaler, terwyl die skaapstoet uit hamshire down bestaan.
Die grootste vleisbeesstoetery is die angusse en daar is ongeveer 500 geregistreerde vroulike vleisdiere op die plaas.
Al die holstein- en jersey-beeste is ook geregistreer en daar word daagliks ongeveer 400 beeste op Milagro gemelk. Daar is ook 'n kommersiële skaapvertakking op die plaas, wat uit 1200 merino-ooie bestaan.
Kyk net so 'n simmentaler!
Milagro se pryse op die Nasionale Simmentaler-kampioenskappe op Lichtenburg (18 tot 20 April) was as volg:
Altesaam 350 diere het in hierdie skou meegeding, waarvan al 12 diere wat deur Milagro ingeskryf is 'n topses-plek in hul individuele klasse verower het.
Milagro se sogenaamde "goue seun", Milagro Reactor ACM187, is as die Senior- en Grootkampioen aangewys. Milagro Janine ACM185 is weer as die Reserwekampioen-hertogin gekroon. Milagro Mandy ACM1851 is as die Reserwekampioen-gravin gekroon.
Bobaasteler vereer
Andrew Masterson is vanjaar as die Teler van Kampioene vir Milagro se swart angusse by die Nasionale Angus-kampioenskappe aangewys.
Hierdie gesogte prys is vir die teler wat die meeste kampioene vertoon. Dit is die heel eerste keer dat Milagro en Masterson hierdie prys wen.













