Dit kan by tye uitdagend wees vir Suid-Afrika se sagtevrugteprodusente om mededingend en volhoubaar te boer, veral as die voortdurend veranderende omgewings- en sosio-ekonomiese landskap in ag geneem word. Dit is egter nie onmoontlik nie.
In ooreenstemming met die Wet op Klimaatsverandering (wet no. 22 van 2024) en Suid-Afrika se internasionale verpligtinge het die departement van bosbou, visserye en die omgewing (DBVO) 'n konsepverslag oor sektorale emissieteikens (SET's) gepubliseer. Die verslag stel onder meer emissieteikens vir die landbousektor voor, wat verskeie kommoditeite, ook vrugteverbouing, raak.
Nadat verskeie datagapings uitgewys is, is die finalisering van die SET's uitgestel tot vroeg 2025.
Volgens Nitasha Baijnath-Pillay, Hortgro se volhoubaarheidsprogram-en-hulpbronbestuurder, hang die voortbestaan van die bedryf af van produsente se vasberadenheid om hoegenaamd te bestaan.
"Vir produsente om te oorleef moet hulle internasionaal meeding en kern- en steenvrugte van hoë gehalte lewer. Dít terwyl al hoe meer groen wetgewing en regulasies boere se produksie-opsies strem en voedselsekerheid in gevaar stel."
Die doel van Hortgro se hulpbronbestuur-envolhoubaarheidsprogram is om sagtevrugteprodusente te help om omgewingsbewuste oplossings deel van alledaagse boerderyplanne te maak.
Hortgro het die afgelope dekade reeds verskeie omgewingsvriendelike stappe gedoen: ) Die monitering en maatstafstelling van kweekhuisgasvrystellings oor waardeketting-bedrywighede (via die Confronting Climate Change-projek); ) Die verbetering van grondgesondheid en vestiging van meer volhoubare gewasbeskermingopsies gerugsteun deur geïntegreerde plaagbestuurmonitering; ) Monitering en vermindering van bedryfsafval; en ) Die promosie van waterbesparende besproeiingstegnologie en die gebruik van dekgewasse.
Volgens Baijnath-Pillay het baie produsente reeds hul afhanklikheid van nie-hernubare hulpbronne verminder en hulself gewend tot presisie- en herlewingslandbou.
"Landbou ervaar reeds die invloed van klimaatsverandering, en daarom is langtermyn-aanpassingsbeplanning van kritieke belang vir ons bedryf. Ons produsente boer in verskillende produksiestreke met verskillende klimaateienskappe. Hulle benodig betroubare wetenskaplike inligting om ingeligte besluite te neem."
Boonop het Hortgro onlangs 'n aanlyn wetenskapgebaseerde en praktiese gids (praktisynshandboek), asook 'n app vir kern- en steenvrugteprodusente in Suid-Afrika ontwikkel oor klimaatveranderingsrisiko's, -impakte en -aanpassingsreaksies. Dit word aangevul deur Hortgro se klimaatveranderingsreaksiestrategie vir die sagtevrugtebedryf.
Volgens Anton Rabe, Hortgro se uitvoerende direkteur, is die bedryf ook besig met 'n waterbeskikbaarheidstrategie om die invloed van klimaatsverandering op kern- en steenvrugproduksie aan te pak.
- Hierdie kopie deur Hortgro verskaf.



















