Landbou

Grond: ‘Hou op klippe in boere se pad rol’

Grondonteiening sal voedselsekerheid bedreig, glo die ekonoom Fanie Brink. Foto: Pixabay
Grondonteiening sal voedselsekerheid bedreig, glo die ekonoom Fanie Brink. Foto: Pixabay

Die ANC-regering moet ophou om klippe in die pad van boere te rol, want dit ondermyn die winsgewendheid - en dus die volhoubaarheid - van die landbou.

"Landbouproduksie en voedselsekerheid kan slegs volhoubaar wees as die produksie van voedsel winsgewend is," sê Fanie Brink, 'n onafhanklike landbou-ekonoom.

Brink het gereageer op die ANC-konferensie se besluit om die Grondwet te probeer wysig sodat grond sonder vergoeding onteien kan word.

In sy eerste toespraak as nuwe president van die ANC het adj.pres. Cyril Ramaphosa gesê die party sal grondhervorming en landelike ontwikkeling bespoedig as deel van sy program vir radikale ekonomiese transformasie.

Hy het wel benadruk dat dit versigtig gedoen moet word sodat die ekonomie, landbouproduksie en voedselsekerheid nie ondermyn word nie.

Agri SA het in reaksie gewaarsku om onteiening sonder vergoeding van grond toe te laat, sal niks anders wees as "ekonomiese selfmoord" nie.

Brink sê die besluit is suiwer geneem net om 'n politieke doelwit te bereik. Hy sê die ANC het geen begrip van volhoubare voedselproduksie of hoe dit bereik kan word "onder die baie moeilike politieke, ekonomiese en klimaatsomstandighede waarmee die landboubedryf elke dag moet worstel" nie.

"Ekonomiese groei is totaal afhanklik van die winsgewendheid van die ekonomie. Die regering sal daarom eerder alles moet probeer doen om die winsgewendheid van al die verskillende bedrywe in die ekonomie te verbeter, in plaas daarvan om klippe in hul pad te rol.

"Die volhoubaarheid van landbouproduksie en voedselsekerheid is daarom net so afhanklik van die winsgewendheid van die landboubedryf, soos wat dit vir al die ander bedrywe geld, om ook die volhoubaarheid van ekonomiese groei te verseker."

Hanlie Stadler