Landbou

Grondeise: Nuwe minister erf groot probleme

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Mzwanele Nyhontso, minister van grondhervorming en landelike aangeleenthede.   Foto: Gallo
Mzwanele Nyhontso, minister van grondhervorming en landelike aangeleenthede. Foto: Gallo

Nuwe besems vee nie heeltemal skoon as dit by die plaaslike landboubedryf kom nie.

Trouens, John Steenhuisen en veral Mzwanele Nyhontso, onderskeidelik minister van landbou en minister van grondhervorming en landelike ontwikkeling, "erf" verskeie hofsake en 'n gebrek aan vertroue in die regering onder die georganiseerde landbou.

Saai, wat spesifiek op familieboerderye fokus, is geensins van plan om sy voortgesette pogings om beter deursigtigheid oor die staat se grondeise te bekom, te laat vaar nie.

"Die aanstelling van Mzwanele Nyhontso bring nie 'n einde aan Saai se reeks hofgedinge oor die openbaarmaking van die lys van uitstaande grondeise nie," sê Theo de Jager, voorsitter. "Die nuwe en die vorige ministers sal steeds daarvoor verantwoordelik gehou word."

Die regering se herverdelingsprojek, benewens die slakkepas waarteen dit plaasvind, word ook verder ondermyn deur ongerymdhede met die toekenning van titelaktes.

Saai het juis in Maart 'n gevoelige slag aan Thoko Didiza se gewese, gekonsolideerde departement toegedien toe Nuveld Farming Empowerment Enterprises, 'n skaapplaas naby Beaufort-Wes wat deur drie voormalige plaaswerkers begin is en pryse gewen het, hul saak in die hooggeregshof in Kaapstad gewen het.

Die broers Joshua en Herold Bezuidenhout en Jan Bergh se boerdery lewer van die hoogste gehalte wol in die provinsie, maar hulle sukkel al jare om 'n huurkontrak van 30 jaar by die departement onderteken te kry nadat hulle aanvanklike begunstigdes van 'n grondeis was.

Maar in 2023 het amptenare van die departement hul hekslotte geknip en nuwe begunstigdes toegang tot die grond gegee.

LEES OOK |Landbou juig oor Steenhuisen, skepties oor portefeulje-skeiding

"Die saak is een van tientalle soortgelyke gevalle waar kaderbevoordeling die skep van 'n klas van winsgewende swart boere laat ontspoor," sê De Jager.

"Saai se sake om ook swart familieboere teen grondgrype te beskerm, word bloot nou op 'n nuwe minister beteken."

Henry Geldenhuys, TLU SA se president, meen daar is dekades se frustrasie wat nou al opgebou het oor die staat se onwilligheid om konstruktiewe insette in ag te neem wanneer beleid oor 'n omstrede kwessie soos grondhervorming opgestel word.

"Ons het al so ver terug soos 2005 'n model aan die regering voorgelê waarmee hy binne agt jaar sy 30%-teiken vir grondoordragte kan bewerkstellig en voltooi," sê hy aan Netwerk24.

"Ons het benadruk hoe belangrik dit is om die regte persone te identifiseer en te bemagtig. Jy het kundige persone met 'n passie vir landbou nodig. Wyle Dirk du Toit, wat adjunkminister van landbou was, het die voorstel van die tafel gevee en met hul eie model voortgegaan.

"Onlangs het die staat self aan ons erken meer as 95% van die herverdeelde grond het uit produksie gegaan."

Nyhontso se verbintenis met die PAC, wat ideologies sterk neig na 'n meer driftige model van grondhervorming, boesem nie veel optimisme in nie.

"Ons is bekommerd oor die hele kwessie van grondhervorming, want dit gaan (verdere) spanning teweeg bring," sê Geldenhuys.

"Gaan ons nog die ander grond ook uit produksie haal? Want die manier waarop dit tans gedoen word, bring die verkeerde soort boere na vore. Daar is menige suksesvolle swart boer in die bedryf. Dit gaan nie oor ras nie, dit gaan oor sukses en dit gaan oor 'n wettige eienaar van daai grond wat 'n titelakte het."

Lennox Xolile Mtshagi, president van die Black Farmers Association of South Africa, het ook vroeër teenoor Netwerk24 uitgevaar oor korrupsie met grondeise.

"Dit gebeur heeltemal te gereeld nog dat individue of groepe met botsende belange die begunstigdes van herverdelings is. Ons kan dit geensins meer verdra nie. Daar moet verandering wees," sê hy.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM