Landbou

Grootste groep nóg sluit by kollege aan

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Altesaam 95 eerstejaar­studente het verlede maand by die Peritum Agri Institute in Bloemfontein aan­gesluit vir hul studies.

Peritum Agri is die grootste private landboukollege in Suid-Afrika en daar is studente van oor Suid-Afrika, Namibië en Botswana heen.

Die Peritum Agri Institute se klas van 2024 saam met Belinda Louw (direkteur van die Peritum Agri Institute), Frikkie Maré (van die Rooivleisprodusenteorganisasie), Emmie Pietersen (direkteur van Peritum Agri Institute) en Philip du Plessis (van John Deere in Afrika en die Midde-Ooste).
Die Peritum Agri Institute se klas van 2024 saam met Belinda Louw (direkteur van die Peritum Agri Institute), Frikkie Maré (van die Rooivleisprodusenteorganisasie), Emmie Pietersen (direkteur van Peritum Agri Institute) en Philip du Plessis (van John Deere in Afrika en die Midde-Ooste).

Hierdie jaar merk nie net 'n dekade van die kollege wat gegradueerdes wat gereed is vir werk aan die landboubedryf lewer nie, maar dit is ook die grootste groep studente wat nog by die kollege aansluit. Buiten die 95 eerstejaars, is daar 42 diplomandi wat aansluit vir 'n tweede kwalifikasie en 105 studente is in hul tweede jaar van studies.

Die Peritum Agri Institute het toekomstige uitdagings en die gebreke in Suid-Afrika se onderwysstelsel in ag geneem toe 'n landbou-onderwysstrategie vir die toekoms ontwikkel is. Die instituut se praktykgerigte diplomakursusse in landbou - met spesialisasie in diere of gewasse en 'n sterk fokus op presisie en tegnologie - word deeltyds aangebied.

Dit bied tersiêre onderrig vir jong boere wat terselfdertyd wil werk en studeer. Die studente verkies 'n praktiese benadering tot leer, of voltydse studie weg van die huis of plaas is vir hulle net te onprakties.

Aspirant-jongboere word blootgestel aan die volle voedselwaardeketting om te verseker dat kennis en praktyke relevant en in konteks is, en ook 'n vaste grondslag bied in die dissiplines wat met landbouproduksie gepaardgaan. Geïntegreerde leer vind plaas wanneer studente in werksomgewings geplaas word terwyl hulle nog studeer. Peritum glo vas dat 'n gegradueerde wat 'n program voltooi het, in staat moet wees om die regte vaardighede, kennis, houding en waardes op die eerste dag van formele werk toe te pas, en nie eers ná 'n induksie- en heropleidingsproses nie.

Peritum se graduandi vind plaaslik werkplasings as boere, plaasbestuurders, verkoopverteenwoordigers en landbouadviseurs, en word ook opgeneem in landboubesighede se internskapprogramme vir silo-bestuurders en takbestuurders in die agri-kleinhandel.

Die wyse waarop Peritum se diplomaprogramme gestruktureer is, is baie aantreklik vir praktykgerigte studente. Altesame 13 studieweke word versprei oor 20 maande. Die program in studieweke is propvol gepak met lesings, demonstrasies deur verskeie rolspelers in die bedryf, gevallestudies en besoeke aan plase waar gespesialiseerde praktyke toegepas word, asook praktiese selftoepassings soos skaapskeer en wolklas, grondprofiel-ontleding en veldopnames, voerkraal­bestuur en veevoervervaardiging, operateursopleiding en meganisasie­beplanning.

Assesserings word by wyse van indiening van 'n portefeulje gedoen sodat studente van Peritum die geleentheid kry om 'n reeks take uit te voer en dit toe te lig met beskrywings, foto's en video's en dit dan in te dien as bewys van hul vaardigheid. Daar is dus geen eksamens nie.

Peritum bied ook 'n NQF 4 Nasionale Sertifikaat in vee- of plantproduksie aan studente wat nie diploma-vrystelling gekry het nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM