Op die ouderdom van 25 kan
Ané van Zyl haar familieplaas vrou-alleen bestuur, maar sê dat sy elke dag nog iets leer. Hierdie jong boer van Vredendal is einde 2024 by Raisins SA se gala-aand aangewys as die Vroueprodusent van die Jaar. Suzaan Potgieter het met haar gesels oor haar reis, boerdery en wat sy alles op
die plaas doen.

Daar is geen twyfel daaraan dat Ané van Zyl 'n boer in murg en been is nie, maar nooit het sy gedink dat sy ná haar studie op haar familieplaas sal werk nie - sy het nie eens in daardie rigting studeer nie!
"Ek het my BSc Agric in dierewetenskap aan die Universiteit Stellenbosch in 2021 voltooi nadat ons twee jaar aanlyn klas moes bywoon weens Covid-19.
"Dit was 'n rowwe tydperk, want daar was geen prakties nie en terwyl ek by die huis studeer het, kon ek toe meer leer van ons plaas en die verskillende boerderyvertakkings. Dit het beslis bygedra tot my besluit om op die plaas te bly.
"As ek egter vandag dit geweet het, sou ek eerder wingerd en wynbou studeer het, want ons het nie juis diere nie - wel baie wingerd!" sê sy.
Gelukkig bevat die eerste twee jaar van haar graad bykans al die vakke, so sy het die nodige agtergrondkennis gehad waarop sy verder kon bou.
Diverse boerdery
Alhoewel haar pa, Gideon, nog nooit uitgebrei het na 'n veevertakking nie, het dinge effens verander toe Van Zyl haarself op die plaas gevestig het.
Haar kennis van vee is nie opsygeskuif nie en sy het met haar aankoms op die plaas 'n paar boerbokke aangeskaf om haar eie kudde op die been te bring. Die afgelope paar jaar het die kudde se getalle aansienlik gegroei.
"Ons het ook onlangs 'n plaas naby Klawer begin huur en die plan is om hier met beeste te boer."
Die grootste vertakking op die plaas is tans hul wingerd wat wyndruiwe en droogdruiwe insluit.
"Die twee soorte druiwe verskil hemelsbreed van mekaar ten opsigte van arbeid en sorg met die droogdruiwe wat beslis meer werk is. As dit by wyndruiwe kom, is dit heelwat makliker. Ons wingerde is tussen 20 en 30 jaar oud en ons is net verantwoordelik vir die druiwe tot dit gepluk en na die kelder vervoer word - boonop het ons 'n parsmasjien wat die oes daarvan vergemaklik," verduidelik sy.

Droogdruiwe is egter 'n perd van 'n ander kleur en Van Zyl vertel dat dit onder meer 'n baie meer arbeidsintensiewe en logistieke proses is. Hulle het onlangs 'n bykomende 2,5 ha droogdruiwe aangeplant.
"Ons moet versigtig werk om die trosse te pluk en verpak en daar is baie streng maatreëls oor die spuit van droogdruiwe - veral as dit vir uitvoer gebruik word.
"Ons het ook ons eie droogbane, wat organies is en uit druiwedoppe bestaan, en hierdie bane moet elke jaar 'n ouditproses ondergaan. As die druiwe begin om soos rosyne te lyk, moet ons die vog laat toets om seker te maak dit is droog genoeg voor dit opgetel word. Dan verg dit weer baie arbeid om dit versigtig op te tel en te verpak," sê sy.
Die boerdery het nog twee vertakkings wat insluit saadkool en slaaisaad, en 0,5 ha lemmetjies wat hulle as 'n proef aangeplant het.
"Ons het altyd sitrusboorde gehad wat suurlemoene ingesluit het, maar sitrus kort baie water om te groei en ons het 'n kwota vir water. Ons het dus besluit om dit uit te haal. Lemmetjies is 'n kleiner vrug en verg dus minder water. Boonop is die opbrengste meer, want die markprys is hoër. Daarom het ons dit eerder aangeplant," sê sy.
Hulle beplan ook om verder met groente uit te brei en gaan binnekort beet aanplant.
Leerskool in haar eie huis
Van wingerd en groente het Van Zyl heelwat minder geweet toe sy by die plaas aansluit, maar pa Gideon het seker gemaak dat sy alles leer wat sy moet.
"Vir die eerste jaar het ek kursusse geloop, die boeke oopgeslaan en alles geleer wat my pa van die plaas weet. Ek wou die jaar gebruik om my kennis op te skerp sodat ek my pa soveel as moontlik kon help," sê sy.
Sy meen dat jy nie boekkennis met prakties kan vergelyk nie en dat kennis en kursusse orals beskikbaar is. "Jy weet nooit alles nie en leer elke dag iets nuut. Daarom moet jy al hierdie beskikbare hulpbronne gebruik daarvoor."
Gideon is ook 'n verkoopsagent vir bemesting en bestee dus baie tyd op die pad om sy kliënte te besoek en noudat sy dogter op die plaas is, gee dit hom meer tyd om daarop te fokus.
"Voor ek na die plaas toe gekom het, het my pa alles gedoen en nooit 'n naweek afgehad nie. Nou kan ons mekaar aflos en elkeen kry 'n blaaskans."
Dit is ook vir haar vreeslik lekker om saam met haar pa te boer, want hulle droom en beplan saam aan die toekoms van hierdie familieonderneming.
"Dit is meer as net 'n besigheid, want ons boer vir die toekoms van ons nageslag en vir onsself. Elke uur wat ons insit, al is dit ná ure, is vir onsself en om die boerdery so winsgewend as moontlik te maak."
Sy lag as sy vertel dat dit nie altyd 'n goeie ding is om ná ure en oor naweke oor die plaas te praat nie, maar hulle twee geniet dit om saam planne te maak - al is dit om die braaivleisvuur en nie net in die lande of kantoor nie.

Ysterhand wat vasvat
As jy dink Van Zyl is een van daardie boere wat net 'n ogie oor alles hou en nie haar hande vuilmaak nie, dink weer! Sy is betrokke by elke aspek van die besigheid.
Nie net werk sy hard op die plaas en is verantwoordelik vir die bestuur daarvan nie, sy is ook in beheer van die administrasie in die kantoor en werk self die lone uit asook die koste en inkomste.
"Ek moet tyd op die plaas kan spandeer en daarom het ek 'n program gekry wat die verwerking van koste vir my vergemaklik. Ek kan nie heeldag in die kantoor sit nie, want dan weet ek nie wat in die boerdery aangaan nie."
Hierdie jong vroueboer weet wat die waarde van harde werk is en vertel met trots dat sy uitsien na die toekoms van hul boerdery.
"Met die huur van die nuwe plaas kan ons die saadkool soontoe skuif oor daar gesonder grond en meer water is. Ons moet altyd kyk na hoe ons kan uitbrei en ek hoop dat dit net die begin van nóg groei is - veral dat daar 'n vertakking van meer vee in die toekoms is.
" 'n Mens weet nooit wat jy eendag ná skool gaan doen nie, want jy is nie 'n grootmens nie. Jy leer eers as jy begin werk wat jou belangstellings is. Nou kan ek met sekerheid sê ek is op die regte plek en in die regte beroep," sê sy.
Tegnologie
Van Zyl weet dat geen boerdery kan voortbestaan sonder om aan te pas nie en hulle maak reeds van verskeie tegnologieë gebruik.
"Een van ons plase, Bellevue, is sowat 90% onder rekenaarbesproeiing en dit maak dit baie makliker vir my om tyd te bespaar. Nou hoef ek nie na die plaas te ry om die besproeiing aan te sit en te kyk of alles reg is nie, want ek kan dit sommer op die rekenaar aanskakel en onder meer die vloei van die water reguleer," sê sy.
Hulle maak ook van Yr gebruik vir weervoorspellings, want volgens Van Zyl maak dit haar beplanning baie makliker: "Ek weet dan presies wanneer dit gaan reën en of ek moet besproei of nie én belangrik is dit ook ideaal om te weet wanneer die wind gaan waai. Ek kan dan presies weet watter ure
windstil is en ons kan spuit."
Sy lê klem op die belang van presisieboerdery en sê dit help baie om koste te bespaar. "As ons onder meer die vog van die blokke monitor, weet ons hoeveel water om te gee en mors nie onnodig water nie - een van ons hulpbronne wat baie skaars is."
Arbeiders
Vir Van Zyl is dit nodig om te weet hoe om alles op die plaas te doen, want sy is die een wat vir die arbeiders moet wys hoe om dit te doen én dit saam met hulle doen.
"My mense op die plaas is vir my baie waardevol, want hulle is net so deel van die plaas se sukses en voortbestaan soos ons. Ek bestuur 'n plaaswinkel waar hulle al die nodige goed kan kry én ons werk daaraan om hul huise op te knap en beter te maak - as iets stukkend is of nie werk nie, herstel ons dit dadelik."
Sy werk net so hard soos hulle op die plaas en glo haar werkers moet in die beste omstandighede woon en werk.
"Ons is 'n span en daar is nie tyd of geld vir foute nie, so ons moet kan saam werk en doeltreffend wees."















