Die Hartenberg-wynlandgoed, wat die afgelope 20 jaar reeds bewaringslandboupraktyke toepas, word nou amptelik gereken as die pioniers in herlewingslandbou in die wynbedryf.
Die Hartenberg-wingerde is in die Bottelaryheuwels-streek van Stellenbosch geleë en beslaan 170 ha, waarvan 60 ha vleilande is. Aanstaande maand ondergaan die hele plaas die amptelike verifikasie-proses en sal dan die tweede wynplaas in die wêreld word wat deur die wêreldbekende Amerikaanse Savory-instituut, waarvan Allan Savory die medestigter en president is, geverifieer word. Die instituut is 'n organisasie sonder winsbejag wat die voortou neem in die grootskaalse herlewing van die wêreld se graslande (wat beweide wingerde insluit) en die lewensbestaan van hul inwoners deur holistiese bestuur verseker.
Die instituut het sy Ecological Outcome Verification (EOV)-protokol in samewerking met toonaangewende grondwetenskaplikes, ekoloë, landboukundiges en 'n uitgebreide netwerk van herlewingslandbou-grondbestuurders oor die wêreld heen ontwikkel.
Die eerste wynverwante verifikasie is in 2021 toegeken aan Mariah Vineyards in die noorde van Kalifornië. Hartenberg sal dus nie net tweede in die wêreld wees nie, maar ook die eerste in die Suidelike Halfrond en in Afrika.
Dis belangrik om die korrekte verifiëring te ondergaan, hoor ons op 'n besoek aan die plaas, want daar is baie plase wat die term "herlewingslandbou" gebruik, maar nie die beginsels toepas nie en dit lei tot grootskaalse groenpoetsery (greenwashing) wat verbruikers verwar.
Voordele van herlewingslandbou

Benewens die opgewondenheid van die EOV-protokol het Hartenberg ook pas 'n studie saam met die Universiteit Stellenbosch voltooi, waarin bewys is dat twee wynprofiele uit een wingerd moontlik is wanneer beheerde hoëdigtheidsbeweiding met herkouende diere gebruik word.
Hartenberg gebruik sedert 2017 beeste in hul boerdery en het gou gevind dat die grondgehalte drasties verbeter. Hulle gebruik onder meer ook ankole-beeste in hul wingerde wat uit Uganda kom en kenmerkende horings het.
Oor die afgelope sewe jaar het die plaas se biodiversiteit geblom met die koms van 'n oorvloed onverklaarbare nuwe fauna en flora, waaronder nege nuwe spesies sampioene, baie nuwe grasspesies, soos medics('n peulplant), en miskruiers wat by die beesmis gevind word. Intussen is ander beesrasse, skape, ganse en Indiese hardlopereende (Indian runner ducks) ook in die wingerde vrygelaat om die grondgehalte nog verder te verbeter.
Dis 'n potblou lentedag waarop Wilhelm Joubert, Hartenberg se wingerdboukundige, my van die hoogtetjies op 'n trekker-sleepwa vertel: "Alhoewel hierdie veranderinge bogronds maklik is om te bespeur, is grond effens meer geheimsinnig. Dus, om die invloed van die beeste op grondgesondheid te bepaal, het ons begin om grondmonsters te neem en aalwurms - mikroskopiese rondewurms wat op plantwortels voed - as bio-aanwysers van grondgesondheid begin gebruik.
"Die toetse het getoon dat sodra die diere ingebring word, die aalwurm-diversiteit toegeneem het, die verhouding van nie-skadelike tot skadelike aalwurms aansienlik verbeter het en geen enkele groep aalwurms oorheers het nie."
Ons ry tussen die wingerde deur waar eende en ganse slakke en ander pestilensies verorber en beeste en skape rustig tussen wingerde wei. Die plaas gebruik ankoles en dexters omdat die diere elkeen ander eienskappe tot herlewingslandbou bydra.
Ander plase wat ook herlewingslandbou toepas, waaronder Spier, Reyneke en Vergenoegd, werk nouer saam met Hartenberg om herlewingslandbou te laat groei. Plase ruil ook hul kennis onder mekaar uit om die stelsel se voordele ten beste te benut.
Beter vir die wyn
Dis egter die studie van die verskil in wynprofiele wat nou vele ander wynmakers laat notisie neem.
Joubert en Carl Schultz, die plaas se keldermeester, kry hul staan neffens 'n wingerdblok met ankole-beeste in en vertel: "In die eerste jaar sedert ons diere in die wingerd ingebring het, was ons beïndruk deur die vinnige verbetering in die gemete grondbiodiversiteit en -gesondheid. Die vraag was: Wat gebeur met die druiwe van wingerde waar beeste wei, in teenstelling met die wingerd sonder beeste? Ons moes dink oor wat dit vir die wyn beteken en of dit merkbare verskille sou toon.

"Om hierdie vraag te beantwoord, het ons in 2022 'n wingerdblok in twee porsies verdeel en toe afsonderlik gepluk. Hoëdigtheid-, beheerde beweiding het in een gedeelte (die "herkouergedeelte") plaasgevind, terwyl die ander as 'n kontrole sonder enige weiding gedien het. Hierdie proses is 'n jaar later in September 2023 herhaal."
Alhoewel die kontroleblok effens meer trosse per wingerdstok opgelewer het, het die lappie grond waar die beeste gewei het, 'n merkbaar ander wyn geproduseer, met helderder vrugte op die neus en groter elegansie op die tong.
Schultz verduidelik: "Daar was nie net minder trosse nie, die korrels was ook kleiner. Dit beteken produksie per hektaar kan marginaal minder wees (maar as sodanig uitgedruk net op hierdie tydstip), maar kleiner korrels lei natuurlik tot groter konsentrasie vrug.
"Ons het ook fisiologiese rypheid by laer suikervlakke bereik. As ek fisiologiese rypheid by 'n balling of twee laer kan bereik, sal die gevolglike alkohol ook laer wees," voeg hy by.
Die toetse het alkoholverskille van 14,58% in die beweide deel en 15,13% in die ander deel getoon. Ook totale tanniene van 1 649 tenoor 1 521. Laer alkohol is natuurlik nou ook 'n gonswoord, want almal is baie meer bewus van hul gesondheid en verlaagde alkoholinname.
Makliker én goedkoper
Hulle is opgewonde oor die verifikasie in Oktober, vertel die twee. Die hele herlewingslandboubeginsel spruit uit organiese, biodinamiese en volhoubare filosofieë, en "baie min" uit konvensionele boerdery. By Hartenberg het die aanvaarding daarvan ontwikkel uit planne om die gevolge van klimaatsverandering te versag.
Schultz sê hy is dankbaar om saam met Joubert te kan werk.

"My pa was 'n plantbioloog en ek en Wilhelm deel 'n liefde vir die natuur. Ek het my 31ste oes hier agter die rug en Wilhelm is al meer as 18 jaar hier. Daar is geen pyn in hierdie manier van boer nie. Jy moet net die regte mense vind om dit saam met jou te doen."
"Ons het sowat 18 jaar gelede 'n Switserse wateringenieur genader om ons meer waterwys te maak. Nadat dit uitgesorteer is, het ons ons fokus na die grondgesondheid gewend en bykans twee dekades later is ons gelukkig met waar ons nou is," sê Schultz.
Hy voeg by dat Joubert waarlik hier die pionierswerk verrig.
"Jy kry die volgelinge en jy kry die innoveerders. Wilhelm is 'n innoveerder," sê Schultz.
Joubert praat natuurlik enige lofprysinge dood en voeg by: "Ons grootste voordeel op hierdie reis was die ontdekking dat as jy herkouers in die wingerde inbring, jy die koolstof in die grond kan verdubbel. As jy beperkte water het, is die enigste manier om jouself vorentoe te beskerm om die koolstof te verhoog."
"Ons benadering is holisties. Ons kan bewys dat die werk wat Wilhelm gedoen het regtig maklik en goedkoper is as konvensionele boerdery, met al die ander voordele," sê Schultz.
"Boerdery is die ongesubsidieerde bedryf. Ons is alleen daar buite en moet na die natuur én na mekaar omsien."
Goeie sorg vir die beeste
Volgens Joubert klink dit natuurlik romanties om diere in die wingerde te hê. "Maar daar is meer daaraan. Hierdie diere is basies deel van ons plaasgereedskap en om resultate te kry, moet hulle goed bestuur word.
"Ons het pas 'n kuddebestuurder, Akhona Songelwa, aangestel, wat sy studie by Elsenburg voltooi het."
"Ons gebruik hoëdigtheid-, beheerde weiding, wat vereis dat die diere gereeld geskuif word," sê Joubert.
Daar is vyf troppe van agt tot 15 diere elk, wat dit makliker maak om te bestuur. Hulle word ingespan saam met dekgewasse wat jaarliks geplant word, en sowat 6ha se wingerde wat weer toegelaat is om ná wildegroei herkoms te herstel."
Gronde bly onbewerk as 'n manier om koolstof te bewaar en verdigting te vermy.
Smaaklike dekgewasse voer die beeste en verskaf 'n bestendige en vars voorraad natuurlike, nat kunsmis wat op sy beurt onmiddellik voordelig is vir die grondmikrobes en grondgesondheid verbeter.
Hartenberg gebruik peulgewasse, brassicas en grane vir die plante se spesifieke voordele.
Dit is belangrik dat hulle verskillende wortelstelsels, blaargroottes en groeispoed het, verduidelik Joubert.
"Ons doel is om nooit kaal grond te hê nie. Benewens die mis, trap beeste plante in die grond in, maak dit toeganklik vir mikrobes en hul hoewe skep natuurlike poele, wat saad help om te floreer. Ons laat net die beeste toe om die helfte van die dekoes af te haal, sodat plante vinnig kan herstel."
Die plaas het 12ha by die 6ha wildegroei-wingerde bygevoeg. "Met verloop van tyd, met die beeste geïntegreer, het ons die eerste proefwingerde sien floreer. Ons het nuwe spesies teëgekom," sê Joubert. Van die belangrike aanwyserspesies om na die plaas terug te keer, bevat miskruiers. Joubert tel een op en wys dit op sy handpalm.
"Die stelsel in dié wingerde beteken ons kan van so vroeg as Mei beeste inbring. Waar ons dekgewasse gebruik, kan beweiding eers middel Julie tot Oktober begin, wanneer die wingerde begin bot. Ons doelwit is om meer wingerde na hul natuurlike status te laat terugkeer sodat ons vroeër en laat weiperiodes kan hê."

Klimaat in ag geneem
Schultz vertel dat sy belangstelling in klimaatsverandering 30 jaar gelede geprikkel is toe hy op 'n oorsese kongres na Allan Savory geluister het en daar op 'n kaart gesien het hoe klimaatsverandering Suid-Afrika gaan raak.
"Ek het besef my toekoms is hier op die spel, en ons kan nie klimaatsverandering stop nie. Ons kan egter aanpas, saam met die natuur werk. In die Wes-Kaap moet jy droër en warmer kan boer.
"Natuurlik het mense my net aangestaar toe ek hulle hiervan vertel het. Mense het net nie die ware toekomstige invloed verstaan nie. Nou begin die idee al hoe meer posvat, maar die groenpoetsery is 'n tameletjie.
"Jy moet herlewingslandbou behoorlik doen. Daarom die besluit om die verifiëring te doen. Dis 'n buiteparty wat jou verifiëring doen, so daar is geen kans vir kortpad nie. My hoop is dat die boodskap uitgaan en ons almal saam kan veg teen groenpoetsery.
"Ons het ook maar pas die Indiese hardlopereende ingebring en vind nog ons voete hiermee. Ons moet nog bepaal hoe lank hulle op een plek moet bly."
Schultz sluit af met die woorde: "Daar is 'n groter prentjie as Hartenberg. Dit gaan oor ons toekoms. Ons is ook nie anti-chemie nie, maar as ons dit nie hoef te gebruik nie, gaan ons nie. As boer in Suid-Afrika moet jy innoverend boer.
- "Ons het nog nie arrive nie. Ons maak nog foute. Ons is net 'n wonderlike werkbare voorbeeld."
Lees meer oor die Savory Instituut en die EOV-protokol deur savory.global te besoek.





















