As deel van hul fokus op volhoubare wingerdbou eksperimenteer Vergelegen met 'n alternatiewe opleistelsel van die landgoed se cabernet sauvignon-aanplantings.
Hierdie nuwe belegging in die plaas is deel van Vergelegen se volgehoue verbintenis om die unieke terroir in Somerset-Wes na vore te bring.
Rudolf Kriel, wingerdboukundige op Vergelegen, sê 6 ha cabernet sauvignon-wingerd is naby die heuwelkelder aangeplant.
Dis die eerste keer dat Vergelegen 'n stok-by-paaltjie-stelsel inspan, aangesien die landgoed tradisioneel die vertikale opleistelsel gebruik het. Met laasgenoemde stelsel word die wingerdlote opwaarts in 'n nou gordyn opgelei met die vruggedeelte onder.
Met die stok-by-paaltjie-stelsel groei elke wingerdstok opwaarts al langs 'n individuele ondersteuningspaal.

Hoewel hierdie benadering meer arbeidsintensief is, optimaliseer dit die gebruik van die grond met 'n hoër digtheid van wingerd per hektaar. Op ander dele van die plaas is tussen 3 330 en 3 700 wingerde per hektaar aangeplant met die vertikale opleistelsel.
Volgens Kriel is wind ook 'n groot oorweging wanneer dit by die kies van 'n opleistelsel kom.
Met die vertikale opleistelsel is vyf of ses wingerdstokke tussen elke paal geplant.
Met die stok-by-paaltjie-stelsel bied die individuele paaltjies meer steun aan elke wingerdstok. Dit is uiters voordelig, aangesien die wingerde op die heuweltop nie deur bome beskerm word wat as windbrekers dien nie.
Dekgewasse, in hierdie geval 'n klawer-medic-mengsel, is reg rondom die wingerdstokke geplant en behoort binne die volgende twee jaar optimale dekking te lewer.
Boonop verminder die dekgewasse ook die behoefte aan onkruiddoders wat lei tot minder instandhouding.
Dit skep gevolglik 'n lieflike blomtuin wat bye lok.
Danksy die nuwe stelsel is die blaredak minder geil en dit beteken dus minder meganiese snoeiwerk en meer son - wat 'n geweldige voordeel is.
Luke O'Cuinneagain, die wynmaker op Vergelegen, is vol vertroue dat hierdie splinternuwe stelsel die landgoed gaan help om vrugtepariteit en struktuur te bevorder.
"Landbougrond kom teen 'n premie en met minder windskutte (van bome) en meer stok-by-paaltjie-opleistelsels, kan ons meer grond aan die wingerde toewys," sê O'Cuinneagain.
Hulle het ook meer grond om nóg wingerde te plant, want met stok-by-paaltjie is dit nie nodig
"Landbougrond kom teen 'n premie en met minder windskutte (van bome) en meer stok-by-paaltjie-opleistelsels, kan ons meer grond aan die wingerde toewys."
— Luke O'Cuinneagain
Namate wingerde oorgeplant word, sal die nuwe opleistelsel ook elders op die landgoed ingespan word, mits die uitslae na wense is.
"Ons ondersoek altyd nuwe wingerdboutegnieke," sê O'Cuinneagain.
Cabernet sauvignon is die prominente druifsoort op Vergelegen en word in verskeie grondtipes en op verskeie plekke verbou.
"Ons doel is om groter uitdrukking aan ons terroir te gee. Dit gaan oor respek vir die vrugte wanneer dit inkom, 'n begrip van aromatiese uitdrukking en om te werk met die vaatjies om dié eienskappe te beklemtoon," sê O'Cuinneagain.
In die wynkritikus Tim Atkin se jaarlikse spesiale verslag oor Suid-Afrikaanse wyne, het Vergelegen se Cabernet Sauvignon Reserve-wyne (2020-2022) 93 punte (uit 100) behaal, en die Vergelegen V, een van die landgoed se vlagskipwyne, het onderskeidelik 93, 94 en 95 punte (vir die oesjare 2019, 2021 en 2022) behaal.




















