Landbou

Heuning-sindikaat steel byekorwe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Misdadigers teiken nou selfs byekorwe.

Nadat meer as 80 byekorwe die afgelope week van 'n kommersiële byeboer van Lichtenburg gesteel is, ondersoek die polisie die moontlikheid dat 'n sindikaat dié gebied in Noordwes geïnfiltreer het.

Kobus Schmidt, byeboer, by van sy byekaste in die omgewing van Lichtenburg.
Kobus Schmidt, byeboer, by van sy byekaste in die omgewing van Lichtenburg.

Kobus Schmidt (56) sê aan Rapport dit is die eerste keer dat sóveel byekaste by hom gesteel is en raam die skade aan sy boerdery kan tot R400 000 beloop.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê sedert begin Januarie is dié al die vierde saak van diefstal by byeboere wat in die Lichtenburg-distrik aangemeld is. Dus is die vermoede dat dit die werk van 'n sindikaat is.

Louis van Zyl, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Byebedryfsorganisasie (Sabio), sê die jongste voorval is maar die oortjies van die seekoei.

"Die hele land ly in der waarheid onder byediefstal as georganiseerde misdaad. Ons vermoed twee sindikate is betrokke en hulle werk 90% van die tyd in die omgewing van Lichtenburg, Parys en Ventersdorp."

Diefstal onder byeboere het in die laaste drie jaar toegeneem, veral weens die ontstaan van lonende bestuiwingskontrakte, sê hy. "Voorheen het ons almal net heuning gemaak. Nou is dit so maklik as om iemand anders se kaste te steel, die waslaaitjies oor te sit in sy eie kaste, die oorspronklike kaste te verbrand en dan bestuiwing te gaan doen.

"Só maak hy baie geld."

Al wat oorgebly het nadat Schmidt se 80 byekaste gesteel is. Van die kaste het op buitebande gestaan en die ander op die grond.
Al wat oorgebly het nadat Schmidt se 80 byekaste gesteel is. Van die kaste het op buitebande gestaan en die ander op die grond.

Schmidt is van mening byeboere wat met mekaar meeding is ook betrokke by gevalle van diefstal. "En ons wéét wie hulle is. Dié spul is al jare daarvoor bekend dat hulle landwyd byeboere se byekaste steel en dit na ander plekke skuif. Dan haal hulle bloot ons bye uit en plaas dit oor in kaste van hulle eie. Andersins skuur hulle bloot die nommer daarop af waarmee elke byeboer by die departement van omgewingsake, bosbou en visserye (DAFF) gere­gistreer is. Dan word hulle nie gevang nie."

Wanneer iemand met byeboere sake doen moet hulle seker­ maak die boer én sy kaste is gemerk en by die DAFF geregistreer, sê Van Zyl.

Schmidt se byekaste is elk met sy unieke DAFF-kode - TA557 - gemerk. Omdat vanjaar 'n warm en droë jaar is, is dit 'n moeilike tyd vir die byebedryf in Noordwes. Byekaste is skaars en juis daarom is dié diefstal vir hom 'n groot slag.

Hy sê dié 80 byekaste was almal bestem om in die komende week na 'n ander boer se sonneblom-landerye by Christiana vervoer te word om daar bestuiwing te bemiddel.

"Ons skuif die bye wyd na saad- en vrugteboere vir bestuiwingsdienste. Dié tyd van die jaar gaan bestuif ons bye sonneblomme. Dan, in die middel van die jaar, vat ons hulle gewoonlik na Rustenburg toe vir kersies en bloubessies. Daarna is dit Nelspruit toe vir die avokadopere en makadamianeute."

Daarby oes en lewer hy ook heuning wat hy al sedert 1994 by 'n padstal buite Lichtenburg verkoop. Sy boerdery bestaan uit 600 kaste met tot 30 000 bye in 'n kas.

"Die leë kas is R1 500. Dan moet jy nog die bye ook in die kas sit deur 'n swerm te teel of te vang, en werk dit jou R2 500 'n kas uit. Soms het die kaste groot hoeveelhede heuning ook in, wat jou maklik kan uitwerk op 'n addisionele R1 400. So, omdat dit binne seisoen is, werk die skade nou vir my uit op so ruweg R4 000 per kas."

Schmidt het die afgelope Maandag omstreeks 11:00 die plaas Goedgedagt, 15 km buite Lichtenburg, besoek waar sy byekaste in 'n bloekombos gestaan het. "Daar gekom sien ek toe dadelik al die kaste is weg."

Dit wil voorkom die kaste is die week tevore met 'n groot vragmotor gesteel.

" 'n Byeboer wat steel, is 'n baie groot skelm, want hy wéét hoe om 80 byekaste vinnig te laai en weg te steek. Om te dink ek het al 80 daai kaste perfek netjies gemaak en reggesit om die week na Christiana toe te vat vir bestuiwing. Ja, ek hét nog kaste, maar nou moet ek alles van voor af doen. Dis baie harde werk. Bloed en sweet.

"Ek ly nou skoon aan depressie, want ek voel nie juis lus om verder met bye te boer nie. Ek weet nie wanneer kom steel hulle weer nie, so nou kan ek saans ook nie slaap nie. Dit is 'n baie leë gevoel."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM