Die pluimveegroep Astral Foods is weer winsgewend.
Die groep het weer 'n wins behaal in die eerste kwartaal van sy nuwe boekjaar, het Chris Schutte, uitvoerende hoof, Woensdag aangekondig.
Dit volg op die jaarresultate van die boekjaar tot einde September verlede jaar, waarin Astral Foods 'n verlies voor belasting en rente van R621 miljoen gely het. Dit was die eerste keer in die groep se bestaan van 23 jaar dat 'n verlies gely is en is grootliks aan die ekstra koste weens beurtkrag en voëlgriep toegeskryf.
Daar was ook ontwrigting van watervoorsiening en rekordhoë pryse van insetkoste, sê Schutte oor die vorige jaar se resultate, wat hy as "vernietigend" beskryf het.
Vergeleke met 'n jaar gelede se lae verdienste verwag Astral nou 'n verhoging in verdienste per aandeel van minstens 300% tot R6,47 vir die halfjaar tot einde Maart, het Schutte gesê.
In die kwartaal tot einde Desember het die groep goeie vordering gemaak met die volgende:
• Noodkragopwekkers is by al sy bedrywighede in plek en laer fases van beurtkrag het gehelp dat die groep sy dieseluitgawes onder die verwagte besteding kon hou.
• Hy moet egter steeds aansienlike bedrae aan diesel bestee om sy verwerkingsaanleg by Standerton aan die gang te hou weens die kragonderbrekings op munisipale vlak.
• Astral het gebeurlikheidsplanne ingestel om ononderbroke watervoorsiening te verseker sodat daar minder onderbrekings is by sy aanlegte weens waterinfrastruktuur wat misluk. Maar bring wel 'n hoër koste mee.
• Om 'n potensiële tekort aan hoendervleis weens voëlgriep te vermy, het Astral ten duurste eiers ingevoer vir uitbroei-doeleindes.
Minder voer is verkoop
Astral se voer-afdeling het minder voer verkoop - aan sy eie hoenderboerderye asook aan klante van buite. Dit is grootliks vanweë die laer vraag weens die impak van voëlgriep. Maar sy eie braaikuiken-afdelings het ook 'n laer vraag na voer gehad omdat braaikuikens nou weer op 'n vroeër ouderdom en laer massa geslag word as tydens die sogenaamde "big bird era" toe braaikuikens toegelaat is om 'n groter as normale grootte te behaal.
Astral Foods meld dat die laer voervolumes die voerafdeling se finansiële prestasie vir die halfjaar tot einde Maart sal raak, maar die volumes behoort deur die loop van die tweede helfte van die boekjaar te normaliseer.
Astral is steeds onthuts oor die rabat op invoertariewe vir hoendervleis wat aanbeveel is in reaksie op 'n moontlike tekort aan hoendervleis weens voëlgriep.
"Daar is absoluut geen tekort aan hoender in die mark nie en geen tekorte word in die plaaslike voorsieningsketting verwag nie. Die bedryf se produksie is normaal vanweë verskeie gebeurlikheidsplanne wat ingestel is," het Schutte gesê.
LEES OOK | Vere waai weer oor invoertariewe op hoendervleis
Dit volg op die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) se aanbeveling dat 'n rabat van 30% op ontbeende hoender en 35% op hoenderstukke aan die been op invoertariewe moet geld. Invoertariewe is tans 42% vir ontbeende hoender en 62% vir bevrore hoender aan die been.
Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging het ook al gesê daar is geen rasionele argument vir 'n rabat nie, want daar was geen tekort aan hoendervleis oor die feestyd nie.
















