Hý gaan Daybreak probeer red

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Daybreak Foods, wat ten volle deur die Openbare Beleggingskorporasie besit word, het sy sakereddingspraktisyn aangekondig.  Foto: Unsplash
Daybreak Foods, wat ten volle deur die Openbare Beleggingskorporasie besit word, het sy sakereddingspraktisyn aangekondig. Foto: Unsplash

Die beleërde pluimveeprodusent Daybreak Foods, wat verlede week in sakeredding geplaas is, het Maandag sy sakereddingspraktisyn aangekondig.

Tebogo Maoto, wat amptelik op Dinsdag 22 Mei aangestel is, het luidens Daybreak se verklaring baie ervaring in sakeredding, die regruk van ondernemings en korporatiewe herstrukturerings.

Volgens Maoto se LinkedIn-profiel is hy ook 'n sakeredder by Southern Palace Group of Companies, Kopano Brickworks, Ostem en Adept Manufacturing.

Luidens die verklaring sal die sakeredding van Daybreak daarop fokus om sy voortgesette bedrywighede te stabiliseer, terwyl Maoto 'n regrukstrategie ontwikkel en oplossings vir die geldtekort vind.

Tebogo Maoto, die sakereddingspraktisyn, het luidens Daybreak se verklaring baie ervaring in die gebied van sakeredding. Foto: LinkedIn/Tebogo Maoto
Tebogo Maoto, die sakereddingspraktisyn, het luidens Daybreak se verklaring baie ervaring in die gebied van sakeredding. Foto: LinkedIn/Tebogo Maoto

Charlotte Nkuna, tussentydse voorsitter van Daybreak se direksie, verwelkom Maoto se aanstelling as deel van 'n poging om saam met die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) Daybreak en ongeveer 2 800 poste te red.

"Ons is vol vertroue dat die sakereddingsprosedures Daybreak sal help om 'n geloofwaardige regrukplan in belang van al ons belanghebbendes te bereik."

Die OBK, wat Daybreak ten volle besit, is die staatsbeheerde batebestuurder wat die aftreegeld van staatsamptenare namens die Staatspensioenfonds (GEPF), die Werkloosheidsversekeringsfonds en die Vergoedingsfonds belê.

Die OBK het verlede Dinsdag aangekondig dat hy die direksiebesluit ondersteun om die pluimveeprodusent in sakeredding te plaas.

LEES OOK | Daybreak in sakeredding geplaas

Die OBK is daarvan oortuig dat die maatskappy gered "kan en móét word", en dat sakeredding die beste pad is om die maatskappy se waarde en potensiaal te bewaar.

- stefani.terblanche@media24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA