Barbara Creecy, minister van vervoer, het die Kaapstad-hawe Maandag saam met Transnet-topbestuurslede gaan inspekteer om te kyk of die hawe gereed is vir die komende sagtevrugte-uitvoerseisoen.
Die vorige seisoen is erg ontwrig deur slegte weerstoestande, toerusting wat onklaar geraak het en ander bedryfsprobleme in die Kaapse hawe.
Intussen het die vrugtebedryfsliggaam Hortgro onlangs gesê hulle sien uit na 'n opwindende groeifase vir die vrugtebedryf oor die volgende vyf tot tien jaar.
Anton Rabe, uitvoerende direkteur van Hortgro, het op 'n vergadering met die vrugte-uitvoerder Tru-Cape gesê die ontsluiting van nuwe markte vir sagte- en steenvrugte is op kort termyn 'n wesentlike moontlikheid. Dit sluit in markte soos Thailand, China, Taiwan en Indonesië.
Volgens Transnet het die Kaapse houerkaai vir die komende seisoen 70 ekstra stukke toerusting bekom om vir die groter vragvolumes gedurende die feestyd asook die vrugte-uitvoerseisoen gereed te wees.
Transnet-amptenare het Creecy verseker die houereindpunt in die Kaapse hawe stuur vieruurlikse verslae aan kliënte uit om die houerverkeer te bestuur en opeenhopings te verminder.
Soos met die vorige seisoen sal die houereindpunt asook die veeldoelige vrageindpunt in die hawe daaglikse krygskamers op die been bring sodat alle belanghebbers ingelig bly oor hoe die hawe presteer. Besluitnemers sal vinnige oplossings voorsien sodra probleme opduik.

Die Transnet Nasionale Haweowerheid (TNPA) se bedryfsplan vir die Kaapse hawe sluit in dat al vier die sleepbote in die hawe in bedryf sal bly en ten volle voorbereid sal wees vir dae waarop vragvolumes en skeepsverkeer spitstye bereik.
Alle departemente het hulpbronplanne in plek en die kontrakteurs wat instandhouding doen, is gereed om enige ontwrigting te voorkom en seker te maak aanvullende dienste word gelewer wanneer die vraag toeneem.
Solly Letsoalo, bedryfshoof van Transnet, het volgens Eyewitness News gesê nuwe toerusting is bestel en tegniese vaardighede word benut om van die ou toerusting se instandhouding te verbeter.
Die sleepbote en 'n helikopter sal ook ingespan word om omdraaitye in die hawe te verbeter. Die tyd wat dit 'n vragskip geneem het om by die hawe aan te kom, vasmeerplek te kry, sy vrag af en op te laai en weer die hawe te verlaat, het in 'n stadium tot twee weke geduur.
Creecy het volgens Eyewitness Newsop haar hawebesoek gesê die probleme daar het ingesluit lang toue vir vragmotors en skepe wat vir weke moes wag om vrag af en op te laai. Boere en internasionale handelaars het verliese gely weens die uitvoergehalte van hul produkte wat weens die logistieke vertragings afgeneem het.
Volgens Rabe is daar nog aansienlike geleenthede vir Suid-Afrikaanse vrugte-uitvoerders in die res van Afrika, veral vir appels en pere wat logistieke uitdagings beter kan deurstaan as steenvrugte.
Roelf Pienaar, besturende direkteur van Tru-Cape Fruit Marketing, is opgewonde oor die vooruitsigte in die Verre Ooste. Hy glo ondanks die infrastruktuurprobleme by die plaaslike hawens en paaie is Suid-Afrika goed geplaas om die meeste markte binne 'n betreklik kort tydperk te kan bereik.
Rabe meen dit kan nog 'n jaar tot 18 maande duur voordat die logistieke krisis in die land opgelos is. Transnet se bestuur het verbeter en is meer deursigtig en verantwoordbaar, veral in die hawe van Kaapstad, sê hy.
Attie van Zyl, bestuurder van die Two-a-Day-groep, het in 'n verklaring gesê die ondoeltreffendhede in die Kaapse hawe het die Wes-Kaapse appel- en peerbedryf sowat R999 miljoen per jaar aan verlore inkomste gekos. Dit kom neer op 'n koste van R26 300 per hektaar.



















