Landbou

’n Eeu van diens aan die gemeenskap

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
ABC
ABC

Om 'n maatskappy soos Môreson Grondverskuiwers ná 100 jaar steeds suksesvol te bedryf is harde werk, en behels ook die bou van verhoudings en die vermoë om ver­andering aan te bring. Suzaan Potgieter het saam met drie van die direkteurs om die tafel gesit en oor hul pad tot hier gesels.

Die direkteurs van Môreson Grondverskuiwers: Werner Honing, Johan du Preez, Christiaan en Alwyn Visser. Foto: VERSKAF
Die direkteurs van Môreson Grondverskuiwers: Werner Honing, Johan du Preez, Christiaan en Alwyn Visser. Foto: VERSKAF

Die direksie van Môreson Grondverskuiwers is dit eens dat hulle geseën is om vanjaar dié maatskappy se 100ste bestaansjaar te vier - alles danksy die getroue ondersteuning van die gemeenskap.

Dié familiebesigheid in Robertson het gegroei van 1924, toe die oorspronklike maatskappy, Môre­son Ingenieurswerke, in McGre­gor gestig is. Vandag spog hulle met 'n indrukwekkende lys dienste wat hulle verskaf en die passie om die maatskappy selfs meer te laat groei.

Die vier direkteurs is Johan du Preez, Alwyn Visser, Christiaan Visser en Werner Honing.

Geborg deur:

Africa Biomass Company

Africa Biomass Company (ABC) wens Môreson Grondverskuiwersvan harte geluk met hul 100ste bestaansjaar! Ons is trots om die afgelope 20jaar die pad saam met Môreson te stap.

ABC is reeds twee dekades lank 'n baanbreker in dieontwikkeling van biomassa-verwerkingstoerusting en -produkte. ABC bied ‘nvolhoubare oplossing deur ongebruikte hout in bruikbare biomassa te omskep deur‘n reeks innoverende houtverwerkingsoplossings, genaamd Bandit woodchippers,Serrat mulchers en ons eie Badger Biomassa-toerustingreeks.

Besoek gerus ons webtuiste by

www.abc.co.za vir meerinligting.

"Ons kan werklik trots wees op alles wat ons al vermag het en is dankbaar vir die seën van God wat ons tot hier gebring het, asook vir ons getroue kliënte," sê Werner.

Die hele span in die werkswinkel in Robertson.
Die hele span in die werkswinkel in Robertson. (Morne Marais)

Voortbou op die naam

Die familie wat Môreson Grondverskuiwers tans besit, het die besigheid in 1985 oorgekoop. 'n Jaar daarna het hulle besluit om die naam te verander vanaf Môreson Ingenieurswerke na Môreson Grondverskuiwers.

Een van hul eerste groot projekte sowat 40 jaar gelede was die oopgrawe van die twee Klaasvoogdsriviere.

Van hier het die maatskappy al hoe meer begin uitbrei en onder­ meer stootskrapers, slootgrawers, stortwaens, rollers, padskrapers, vragmotors en wieltrekkers aangekoop.

Verder het hulle ook in die werkswinkel begin om toerusting te bou wat aan hulle kliënte se spesifieke behoeftes kan voldoen.

Die span het ook, ten einde produktiwiteit selfs verder te bevorder, hul masjinerie met GPS-stelsels en lasers toegerus.

Vandag het Môreson Grondverskuiwers 'n groot kliëntebasis asook hul eie werkswinkel waar hulle self hul masjiene en toerusting diens en herstel. Môreson Grondverskuiwers het ongeveer 140 permanente werkers in diens (meer in die seisoentyd). Van die werkers is selfs al derde-generasie-werkers in die maatskappy.

'n Foto vanuit die argief waar personeellede van die oorspronklike Môreson Ingenieurswerke op een van die stoomenjins sit.
'n Foto vanuit die argief waar personeellede van die oorspronklike Môreson Ingenieurswerke op een van die stoomenjins sit.

Aanpas nie 'n keuse

Werner sê hulle het as 'n maatskappy al verskeie nuwe en innoverende toerusting oor die jare ingebring.

"Enige maatskappy moet aanpas. Verandering is noodsaaklik vir groei," sê hy.

Daar is reeds 'n verskeidenheid selfontwerpte implemente wat aan kliënte se spesifieke behoeftes kan voorsien.

Waar daar in die verlede met stootskrapers van 20 ton begin is, spog hulle vandag met stootskrapers van tot 70 ton. Waar daar een slootgrawer was, besit hulle vandag oor die 40 slootgrawers van verskeie groottes.

Hy sê dat boere se behoeftes gereeld verander en dat Môreson moes aanpas om aan hierdie behoeftes te voldoen. Hulle het onder meer ploeë ontwikkel vir verskillende vertakkings van die bedryf, soos vir sitrus.

"Dit is belangrik dat ons moet kan verstaan hoe ons kan bydra tot die behoeftes in die boerderybedryf. Ons dienste en produkte moet die werk vinniger en met minder moeite vir ons kliënte kan doen," sê Werner.

Vir Alwyn is dit merkwaardig hoe die landbougemeenskap in hul omgewing verander het.

"Daar is heelwat minder kleinskaal-boere en meer groot boere met groot plase. In die verlede was daar baie vrugteboorde in Robertson. Nou maak sitrus, kersies, bessies, en selfs neute en avokado's hulle tuis in die vallei.

"Ons moes leer om by hierdie veranderende landskap aan te pas en werktuie te hê wat vir alle soorte gewasse gebruik kan word," sê hy.

Die perseel van Môreson Grondverskuiwers in Robertson is in 1964 gebou.
Die perseel van Môreson Grondverskuiwers in Robertson is in 1964 gebou.

Werkswinkel vat vas

In plaas daarvan om alles in te koop en van kontrakteurs gebruik te maak vir herstelwerk, het Môreson 'n indrukwekkende werkswinkel waar alles self gedoen word.

Daar is vyf gekwalifiseerde werktuigkundiges en vyf vakleerlinge, en Môreson is 'n geregistreerde opleidingsgerief. Verder beskik hulle oor drie gekwalifiseerde sweisers en twee gekwalifiseerde pas-en-draaiers.

"Ons het ook 'n wonderlike pas-en-draai-afdeling waar hulle self die nodige onderdele vir die masjiene maak.

"Ons span het baie ondervinding en hulle hoef nie terug te staan nie. Hulle maak uitstaande onderdele en boonop is dit ook kostedoeltreffend," sê Alwyn.

Hulle almal sê dit is ook baie makliker om dit intern te doen, want daar is nie 'n wagtydperk vir onderdele of vir iemand om aan werktuie te kom werk nie.

Hulle kan ook onderdele bou wat aan spesifieke behoeftes voldoen - hulle is dus nie uitgelewer aan slegs dít wat op die mark beskikbaar is nie.

Krag in vennootskappe

Alhoewel Môreson Grondverskuiwers bykans alles self doen, het hulle die waarde daarin gesien om saam met 'n ander maatskappy te werk om hul aanbiedinge te verbeter.

In 2009 het hulle 'n samewerkingsooreenkoms met Willem van der Merwe van WP Chipper Hire, wat nou as Africa Biomass Company bekend staan, aangegaan. Deur middel van hierdie vennootskap bied hulle vandag 'n bykomende diens wat herwinning van die afvalhout van vrugtebome, wingerde, indringer­bome en meer behels.

Christiaan vertel dat dit nie net voordelig is vir herwinning nie: "Die houtverwerking help om ontslae te raak van al die afvalhout vanuit die grond wat ons verwerk, maar dit kan ook weer tot voordeel van die boer gebruik word. As dit gebruik word as 'n grondbedekking, kan die boer tot 30% op sy watergebruik bespaar."

Water is ook 'n kardinale behoefte in landbou en Christiaan sê dat die maatskappy direk betrokke is by die beskerming van waterbronne.

Wat hou die toekoms in?

Ná 'n eeu in die bedryf is Môreson redelik gesout in hul dienste en het reeds so uitgebrei dat hulle bykans alles kan doen. Die direkteurs sê egter dat hulle nooit op hul louere kan rus nie, want die bedryf is heeltyd aan die verander.

"Ons moet gereeld nuwe masjiene en toerusting ontwikkel. Ons waag altyd die kans en doen dit en hoop dan dat dit in die toekoms vir ander kliënte of projekte gebruik kan word," sê Werner.

Hy sê dat faktore soos droogte en klimaatsverandering 'n regstreekse invloed op hul boere­kliënte het, maar dat Môreson se spesifieke dienste steeds nodig gaan wees - veral as boere aanplantings maak om by die klimaat aan te pas.

Soos met enige besigheid is daar egter ook knelpunte wat dinge moeilik maak.

"Die prys van brandstof bly 'n kwessie in ons bedryf. Die masjiene kan nie daarsonder bedryf word nie.

"Ons kan net hoop dat daar in die toekoms 'n alternatief hiervoor gaan wees, want die prys van brandstof is voortdurend aan die styg," sê Alwyn.

Tog is hulle positief dat Môreson sal voortbestaan, want landbou is 'n belangrike deel van die land en hul dienste is nodig om die bedryf te maak werk.

"Die wêreldbevolking raak jaarliks groter en ons moet voedselsekuriteit verseker. Daarvoor kort die land landbou. Landbou kan nie afskaal nie en dit maak ons werk nog baie relevant," sê Alwyn.

Volgens Werner is daar 'n kultuur in die maatskappy waarop alle werkers trots kan wees en deel van kan wees - 'n kultuur wat hopelik vir nog 'n eeu sal voortbestaan.

Blik op besigheid

Môreson Grondverskuiwers bied aan hul kliënte 'n verskeidenheid van dienste om in hul behoeftes te voorsien.Dit behels grondvoorbereiding waarvoor hulle 'n vloot stoot­skrapers van verskillende groot­tes het. Hierdie stootskrapers is ook toegerus met selfontwerpte implemente.As dit kom by slootgrawers, beskik hulle oor 'n veelsydige vloot wat dienste lewer soos die grawe van slote vir pyplyne en dreinering, asook konstruksiewerk soos die plant van pale vir netstrukture. Die slootgrawers is ook toegerus met spesialis graafbakke wat vrugtebome en wingerde kostedoeltreffend ver­wy­der. Sodoende is die grond ge­lyk en geen oorblyfsels lê rond nie.Ander dienste is onder meer massa-uitgrawings vir store en sportvelde, die rehabilitasie van riviere deur indringerplante te verwyder, en die konstruksie van damme. Hulle doen ook op­knap­pings en opgraderings aan paaie.

Terugploeg in gemeenskap

Daar is 'n tekort aan goed op­geleide masjienoperateurs in die bedryf, sê Werner. Daarom bied Môreson 'n internskap aan waar hulle nie net 'n geleentheid vir mense in die omgewing bied nie, maar ook verseker is dat dié poste binne hul besig­heid vervul kan word.Hierdie internskap vir mense tussen die ouderdom van 23 en 33 jaar wat vanaf Robertson af kom ten minste gr. 10 geslaag het."Ons kry ongeveer 250 aan­soeke en eindig dan met 'n span van ses tot agt leerlinge. "Hulle gaan dan deur op­lei­ding en evaluasies en ons hoop om minstens vyf te kwalifiseer," sê hy.Nie net help dit hulle as 'n maat­skappy om vaardige ope­ra­teurs self op te lei nie, maar dit is ook 'n geleentheid vir die jongmense uit die Robertson-gemeenskap om 'n vaardigheid te leer en sodoende 'n beter toekoms vir hulself te kan ontsluit.

1

Blik op die geskiedenis:

Gawie Viljoen het in 1924 die besigheid Môreson Ingenieurswerke in McGregor begin met die doel om 'n diens aan boere van Robertson en die omliggende omgewing te bied. Die onderneming het eenvoudig begin met graan wat op plase uitgedors is. Aanvanklik is die dorsmasjiene met stoomenjins aangedryf en die grondwerk is met ysterwieltrekkers en later lugbandtrekkers gedoen.

Ná Viljoen se dood het sy seun Christo oorgeneem en in 1964 is die huidige perseel in Robertson op die hoek van Kerk- en Industriastraat gebou waar die besigheid verder uitgebrei is. Pieter Erasmus en Piet Bruwer het gehelp om die besigheid tot 1984 te bedryf.

In 1985 het Christo Môreson Ingenieurswerke aan A.J.C. Visser, Johan du Preez en Alwyn Visser (jr.) verkoop.

In 1986 is die naam na Môreson Grondverskuiwers verander.

In 2017 het die twee ingenieurs Christiaan Visser, Alwyn se seun, en Werner Honing, Johan se skoonseun, by die besigheid aangesluit.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM