Al is daar nie 'n enorme groei in die tafeldruifoes teenoor verlede jaar nie, is dit steeds goeie nuus dat die geskatte oes nie gedaal het nie.
Die jongste voorspellings dui aan dat daar 'n klein styging in die uitvoervolumes van tafeldruiwe in die komende seisoen sal wees.
Die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf (Sati) voorspel dat die 2024-'24-seisoen se verwagte tafeldruifvolumes vir uitvoer 1% hoër sal wees in vergelyking met verlede seisoen.
Sati het vanjaar se nasionale geskatte oessyfers in 'n verklaring uitgereik en die komende oes word op 'n gemiddelde van 76,4 miljoen kissies (van 4,5 kg elk) tafeldruiwe geraam - met 'n moontlikheid van tot 78,7 miljoen kissies aan die hoër kant en die laagste gemiddelde van 74,1 miljoen kissies.
Só lyk vanjaar se syfers
Die nasionale geskatte oes vir 2024-'25 is 76,4 miljoen kissies van 4,5 kg elk. Dit is beter as die 2023-'24-seisoen wat 75,8 miljoen kissies was. Hierdie geskatte syfer is selfs beter as die afgelope vyf jaar se gemiddelde van 72 miljoen kissies.
Luidens hierdie jongste voorspelling lyk dit oor die algemeen of die meerderheid van die produksiestreke van tafeldruiwe 'n beter seisoen gaan hê.
Sati sê dat die grootste groei in die Olifantsrivierstreek gesien kan word en daar word geraam dat hulle 400 000 meer kissies hierdie seisoen sal lewer met 'n totaal van 4,3 miljoen kissies.
Die geskatte syfer van die Oranjerivierstreek, wat vanjaar die meeste tafeldruiwe kan lewer, staan op 24,4 miljoen kissies teenoor die 24,2 miljoen kissies van die vorige seisoen.
Nóg 'n groot produsent is die Hexrivierstreek, wat die hoogste gemiddelde oor die afgelope vyf jaar gehad het met 22,9 miljoen kissies. Die produsente van hierdie streek se geskatte syfer is dieselfde as die vorige seisoen met 23,2 miljoen kissies, maar dit is steeds meer as hul gemiddelde.
Die Bergrivier verwag ook beter syfers, met 200 000 meer kissies hierdie seisoen; dus altesame 18,7 miljoen.
Die enigste gebied wat moontlik 'n afname kan verwag, is die noordelike streke, waar daar geraam word dat 5,8 miljoen kissies geproduseer sal word teenoor verlede seisoen se 6 miljoen kissies - 'n afname van 3%.
Invloed op die syfers
Volgens Sati is die rede vir die geskatte afname van 200 000 kissies in die noordelike streke weens die 8%-afname in die totale aanplantings van tafeldruiwe in dié provinsie.
Hierdie bedryfsliggaam sê dat die koue temperature van die afgelope winter 'n positiewe weerverskynsel vir 'n gehalte-oes die komende seisoen is. Boonop het die reënval bygedra tot hoër damvlakke, wat beteken dat daar genoeg water beskikbaar is vir 'n normale seisoen.
Sati sê dat hierdie oesskattings bepaal is deur verskeie faktore in ag te neem, maar dat dit hersien kan word.




















