Mens hoor gereeld van gesoute kerkgangers wat ewe liefdeloos en ongepoets as die res optree. Dit laat jou wonder of mense ooit verander. Wel, Spreuke leer ons dat hardnekkige dwase onleerbaar is. Dis asem mors en tydmors om hulle te probeer onderrig of van koers te laat verander. Dwase verander nie, selfs al sit hulle die kerk se banke warm. Hulle is horende doof en siende blind. Wyse mense is egter leerbaar. Hulle luister graag na wyse onderrig, asook na vermanings. Hulle groei voortdurend in hul geloof en in hul karakter voor die Here.
Ons hoop op verandering setel in God self. Hy het sy Gees na ons toe gestuur om ons onleerbaarheid en hardkoppigheid effektief te takel. Die Heilige Gees is God se binnenshuise versierder wat ons lewe aanhoudend omskep om soos lewende tempels van die Here te lyk. Hy laat ons groei, al gebeur dit soms met stampe en stote aan ons kant van die draad. God is voltyds met ons besig. Ons is onder permanente konstruksie van sy Gees. Hy is nog lank nie klaar met ons nie. Dit gee my hoop wanneer ek self 'n geestelike windstilte beleef.
Uit die Woord
Al stamp jy 'n dwaas in 'n stampblok, al stamp jy hom saam met sandkorrels in 'n vysel, jy sal sy dwaasheid nie uit hom uit kry nie. - Spreuke 27:22











