"We made the world we're living in and we have to make it over," skryf James Baldwin.
Om dit reg te kry verg waagmoed. Te veel mense is vasgevang in dieselfde krisisse en uitgediende oplossings wat oor en oor in hul eie omgewings herhaal. Kerke word dikwels ook hierdeur lamgelê. Hulle wemel van eindelose gesprekke, beplanningsessies en noodvergaderings, maar min dinge verander.
Waagmoedige makeovers vind nie spontaan plaas in voorspelbare omgewings nie. Die sleutel tot die regte verandering lê eerder in die hande van diegene wat weier om die beperkings van die bekende as tronkmure te verstaan. Daardie mense wat die hemele oop sien bokant hul koppe verskuif werklikhede.
Om Jesus reg raak te sien is om 'n splinternuwe wêreld raak te sien, een waar armes kos kry, een waar siekes en stukkendes gedien word, een waar liefde en vergifnis triomfeer, een waar gelowiges opgebou word om effektief vir die Here te leef. Doen dit hier in Paasfeestyd. Jesus gee vir jou die nodige toestemming én die nodige vryheid om besig te wees met 'n goeie makeover van daardie stukkie van die wêreld waar jy jouself bevind.
Uit die Woord
Julle moet nie aan hierdie wêreld gelyk word nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle kan onderskei wat die goeie, aanvaarbare en volmaakte wil van God is. - Romeine 12:2











