Op 'n onlangse geleentheid by Vergelegen in Somerset-Wes is die belang bespreek om genoeg kos aan heuningbye te verskaf.
Die geleentheid, wat oor heuning gehandel het, is in samewerking met die Wêreldnatuurfonds (WWF) aangebied en mense wat dit bygewoon het, het 'n magdom kennis oor heuningbye en heuning opgedoen.

Daar was onder meer 'n begeleide toer van Vergelegen se korwe, 'n voorlegging deur Shelly Fuller, die bestuurder van die WWF se vrugte-en-wynprogram, en 'n begeleide heuningproe.
Gaste het op die dag onder meer geleer van die risiko's wat bye moet trotseer, soos 'n tekort aan kos, blootstelling aan gifstowwe, vernietiging van hul habitat en klimaatsverandering.
Die byeboer Crecilda van der Merwe, die direkteur van Fish Hoek Farms en 'n komiteelid van die Wes-Kaapse Byevereniging, het heelwat raad, gegrond op haar eie ervarings, gedeel. "Moenie vir die bye in jou tuin suikerwater gee nie. Kweek eerder blomme vir bye in jou tuin," sê Van der Merwe.
Vergelegen is die tuiste van tussen 250 en 350 byekorwe, afhangend van die seisoen en die bestuiwingsbehoeftes van die boorde.



















