Die uitdagings van die vorige steenvrugseisoen is nou iets van die verlede, want produsente is baie positief oor die komende seisoen - veral in ag genome dat volumes oor die algemeen hoër sal wees.
Die afgelope winter het nie net broodnodige reënval gebring wat damme volgemaak het nie, maar dit was ook 'n lang en koue winter, sê die sagtevrugtebedryfsliggaam Hortgro in sy jongste oesskattings vir die 2024-'25-seisoen.
Daar was ook ander weersomstandighede soos ysreën, hael en swartryp in dele van die Wes-Kaap in Oktober wat vroeër nektariens en perskes geraak het, en hittegolwe in die Bergrivier tydens die blomtydperk van sommige pruimvariëteite.
Die Klein-Karoo het egter vanjaar erge weersomstandighede vrygespring en gevolglik is groter volumes appelkose beskikbaar as verlede jaar.
As gekyk word na Hortgro se voorspellings vir die komende seisoen se oes, is pruime die uitskieter vir steenvrugte vir die volgende seisoen en daar word gereken dat dit met 12% sal groei. Hortgro beoog dat daar sowat 13,7 miljoen kissies van 5,25 kg elk uitgevoer gaan word.
Die vooruitsigte vir appelkose lyk ook goed met 'n geprojekteerde volume van 523 000 kissies van 4,75 kg elk wat uitgevoer kan word. Dit is 'n 9%-styging van die vorige seisoen.
Ook nektariens kan 'n positiewe groei van 8% beleef met 'n oesskatting van 9,45 miljoen kissies van 2,5 kg elk.
Volgens Hortgro kan die groei toegeskryf word aan variëteite met hoër opbrengste wat vanjaar vrugte begin produseer het.
Perskes gaan ongelukkig nie dieselfde tendens as die ander vrugte volg nie, maar die afname is op slegs 1% gemeet met die oes wat 1,85 miljoen kissies van 2,5 kg elk behoort te lewer.
Daar is ook 'n sekerheid onder die bedryfsliggaam en produsente dat ons plaaslike steenvrugte weer vanjaar die mark sal beïndruk met vrugte van hoë gehalte wat lekker smaak.
Goeie vooruitsigte
Die steenvrugspesialis Charl Stander van Freshness First vertel dat daar 'n goeie seisoen vir steenvrugte voorlê.
"Die verwagting betreffende volume is beter as die afgelope twee jaar en ondanks mense se kommer oor die weer was dit eintlik voordelig vir die blomtydperk, wat later as gewoonlik was," sê hy.
"Die appelkose lyk ook vanjaar baie goed. Van ons produsente in die Klein-Karoo het laat weet dat daar amper meer vrug as blare op die bome is en dat hulle omtrent moes uitdun."
Die lang en koue winter het volgens Stander nie die vrugte te veel benadeel nie.
"Verlede jaar was Mei 'n baie koue maand en Junie was weer warmer, maar vanjaar was dit die teenoorgestelde. Die winter het vanjaar in Junie afgeskop.
"Met hierdie weer was die blompatroon verskriklik mooi en die weer het saamgespeel. Die mooi blomme in 2023 het nooit in vrugte gerealiseer nie, want verlede jaar het die wind die blomme verwoes."
Die aaneenlopende koue in Junie het die hitte in Mei uitgekanselleer en volgens hom het ons gelukkig nog nie uiterste hitte ervaar nie.
"Die wind koel die boorde af. Dit is veral vir die pruime voordelig en ons het die afgelope 10 tot 12 dae gesien hoe die pruime al hoe groter word," vertel hy.
Volgens hom was die vroeë nektariens effens kleiner, want anders as die pruime verkies hulle meer hitte. Dus sal die grootte en gehalte van nektariens verbeter namate dit warmer word.
"Oor die algemeen is daar 'n positiewe gevoel in die bedryf oor die komende seisoen.
"Dit was veral lekker toe ons sien die terugvoer van produsente stem ooreen met die syfers," sê Stander.


















