Landbou

Produsente pluk vrugte van planne

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sonpanele is geïnstalleer op Spes Bona, ’n plaas naby Caledon, en dit genereer ongeveer ’n derde van die Van Niekerk-familie se kragbehoeftes. Foto: WIMPIE VAN NIEKERK
Sonpanele is geïnstalleer op Spes Bona, ’n plaas naby Caledon, en dit genereer ongeveer ’n derde van die Van Niekerk-familie se kragbehoeftes. Foto: WIMPIE VAN NIEKERK

Deesdae is beurtkrag 'n groot probleem vir die meeste boere wat op besproeiing en verkoelingsfasiliteite staatmaak. Juis daarom het van Tru-Cape se produsente aansienlike beleggings in alternatiewe energiebronne gemaak.

Hierdie alternatiewe verseker nie net vir die produsente betroubare voorsiening van krag nie, maar help hulle ook om geld te bespaar en hul omgewingsvoetspoor te verklein.

Die Van Niekerk Boerdery naby Caledon, 'n appel- en peerprodusent, het in Oktober verlede jaar in sonkrag belê. Sedertdien het hulle 27,34 ton-standaardsteenkool bespaar, hul koolstofdioksiedvrystelling met 32,47 ton verminder en die ekwivalent van 45 bome geplant.

Sonkrag is beskikbaar, dit is tot voordeel van my en vir die omgewing - dus 'n wen-wen-situasie.

—  WIMPIE VAN NIEKERK

"Hoewel dit uit noodsaaklikheid voortspruit, wil elke boer vir die omgewing sorg.

"Sonkrag is beskikbaar, dit is tot voordeel van my en vir die omgewing - dus 'n wen-wen-situasie," sê Wimpie van Niekerk wat omsien na die appel- en peerboorde van die familie se plaas Spes Bona.

"Die grootste voordeel van sonkrag is die onafhanklikheid wat dit aan ons bied. In die verlede het Eskom besluit wanneer en of ons kon boer, maar danksy alternatiewe energiebronne kan ons nou boer op die manier wat ons behoort te boer. Dit werk ook in ons guns wanneer ons aan ouditeringsliggame demonstreer dat ons aan 'n meer volhoubare toekoms werk," sê hy.

Van Niekerk sê sy neef, Niekie van Niekerk, is die ware brein agter die stelsel en het 'n koste-effektiewe strategie vir die implementering van sonkrag geskep.

'n Stelsel vir verbetering

Van Niekerk, wat ook 'n gekwalifiseerde ingenieur is, verduidelik dat hul eerste stap was om die plaas se pypleidings en pompe te vergroot, en alle pompe is toegerus met veranderlike-snelheid-tegnologie. Sodoende kon hulle groter boorde in korter tydperke besproei.

Hulle maak ook gebruik van die swaartekragdam (gravitasiedam) vir besproeiing.

Die volgende stap was die konsolidering van die vier Eskom-kragpunte op die plaas tot een groter punt, wat tot 'n verdere aansienlike besparing gelei het.

Die boerdery het altyd staatgemaak op 'n 100 kW-krag­opwekker vir die melkery, maar dit was te klein om die besproeiing ook aan die gang te hou. Vir hierdie doel het hulle in 100 kW-sonpanele belê, wat ook aan die kragopwekker gekoppel is. Sodoende werk die kragopwekker op sonkrag as die son skyn.

"Ons is steeds aan die kragnetwerk gekoppel, maar ongeveer 'n derde van ons kragverbruik kom nou van die son af. Ons stelsel is baie doeltreffender wat tot aansienlike koste­besparings lei, en ons hoef ons nie oor die beskikbaarheid van elektrisiteit en besproeiings­water te bekommer nie," sê hy.

Nog sukses met sonkrag

Rossouw Cillié van Laastedrif Agri naby Ceres het 'n passie vir die omgewing en volhoubare boerdery en sien dit as deel van sy nalatenskap om uiteindelik 'n volhoubare boerdery-onderneming aan sy kinders na te laat.

Verlede jaar het hulle die plaas se alternatiewe energiestelsel opgegradeer, wat hulle in staat stel om ongeveer 300 kW sonkrag te genereer vir gebruik in hul pakhuis, wat sowat 'n derde van hul totale energieverbruik uitmaak. Hulle het hul CO2-vrystelling met 382,91 ton sedert Januarie verlede jaar verminder. Hulle het ook hul reserwekragopwekker met die sonkragstelsel geïntegreer om die hoeveelheid diesel wat hulle gebruik wanneer die sonkrag tekort skiet, te verminder.

Die Viljoen-familie van Lemoenpoort in die Worcester-distrik glo dat volhoubaarheid noodsaaklik is vir die skep van werkgeleenthede. Hulle maak steeds op kragopwekkers staat wanneer nodig, maar hul sonkragstelsel help aansienlik om produksie te handhaaf, veral in die wingerde.

In die Ceres-streek glo Nico Verhoef van Witzenberg Properties dat dit 'n prioriteit vir alle produsente moet wees om omgewingsbewus te wees. Vir hulle was besproeiing ook 'n groot uitdaging te midde van kragonderbrekings, wat dikwels tot produksieverliese gelei het.

Witzenberg Eiendomme het die voordeel van slegs een gesentraliseerde verspreidingspunt waarvandaan hulle elek­trisiteit ontvang om ongeveer 600 ha op albei hul plase, Dennekruin en Die Eike, te besproei.

"Dit het vir ons die geleentheid gebied om 'n enkele sonkragstelsel van ongeveer 1,4 MW op te stel. Sekere tye op sonnige dae (gewoonlik tussen 12:00 en 15:00) kom al ons energie van die son. Maar, wanneer nodig, vul ons dit aan met Eskom-krag of dieselkragopwekkers," sê Verhoef.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM